Jongste hofuitspraak nóg ʼn ‘aanklag teen Mkhwebane’

John Steenhuisen, die DA se hoofsweep. (Foto: Twitter)

Maandag se hofbeslissing waarin pres. Cyril Ramaphosa se aansoek toegestaan is om die inwerkingstelling van die Openbare Beskermer (OB) se remediërende optrede teen hom vir eers ter syde te laat stel, is net nóg ʼn rede waarom die OB se bevoegdheid vir haar amp hersien moet word.

Dít volgens die DA se hoofsweep, John Steenhuisen. Hy sê hoewel Ramaphosa baie vrae het om te beantwoord wat betref skenkings aan sy veldtog om president van die ANC te word, respekteer die party die hof se besluit dat adv. Busisiwe Mkhwebane, OB, se opdrag ter syde gestel word, hangende ʼn volledige hersiening van haar verslag.

“Vandag se hofbeslissing laat wel vrae oor Mkhwebane se bevoegdheid vir die amp en is nóg ʼn terugslag vir haar geloofwaardigheid,” het Steenhuisen gesê.

“Die OB kan nie byna weekliks van die een nederlaag na die volgende steier nie. Die hooggeregshof se besluit bevestig die DA se siening dat Mkhwebane uit haar pos verwyder moet word.

Steenhuisen het gesê met meer as die helfte van Mkhwebane se sewejaartermyn nog oor, het sy reeds herhaaldelik gewys dat sy nie vir die pos geskik is nie.

“Hoewel ons die gesag van die kantoor van die OB en die grondwetlike rol wat dit speel respekteer, het ons ernstige kommer oor die bevoegdheid en onafhanklikheid van die persoon wat die pos beklee. In haar amper drie jaar in die pos, het sy op verskeie geleenthede gewys sy is heeltemal ongeskik vir die pos.

“Die DA wil sy oproep herhaal dat die parlement die proses versnel om Mkhwebane uit haar pos te laat verwyder. Hoe langer sy in die pos bly, hoe meer gaan sy die land se vertroue in dié baie belangrike Hoofstuk 9-instelling wegkalwe.”

Vanoggend se beslissing is die tweede soortgelyke een teen Mkhwebane binne twee weke.

Verlede maand het die hooggeregshof ʼn soortgelyke bevel aan die minister van openbare werke, Pravin Gordhan, toegestaan, nadat Mkhwebane in ʼn verslag ook beveel het dat remediërende stappe teen hom gedoen word. Die saak het gehandel oor die stigting van ʼn sogenaamde geheime ondersoekeenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stebastiaan ·

Sy sal bly want die korrupte faksie van die anc regeer nog die land cr is maar net ‘n frontjie.

George in Bloem ·

Hoeveel nog voor hulle van hierdie onbevoegde kader ontslae raak?

Potlood ·

Sy laat my dink aan alice in wonderland. Off with their heads says the queen

Riaan ·

Sy is maar net soos die res van die staatsdiens. Jammer vir die paar mense wat dalk daar is en wat werklik n saluut verdien.

Swannie ·

So gaan dit mos sedert 1994. Jy hoef nie `n sukses in jou werk te wees of dit te kan doen nie – jy moet slegs die POTENSIAAL hê om dit te kan doen.

Ina ·

Nee, jy hoef nie eers potensiaal te hê nie….álles gaan oor velkleur, jy moet nét die “regte” velkleur te hê dan ís jy als, wéét jy als, krý jy als en áls word oorgesien en vergewe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.