Jongste vuurwapen­amnestie­tydperk ‘misluk’

Mense staan by die Lyttelton-polisiestasie in die tou. (Foto: Du Preez de Villiers)

Terwyl die amnestietydperk vir die inhandiging van vuurwapens Sondag verstryk, is daar groot kommer oor die oënskynlik klein hoeveelheid wapens wat tot dusver ingehandig is – met sommige belanghebbendes wat die jongste amnestietydperk selfs as ʼn mislukking bestempel.

Ingevolge die amnestietydperk kon mense oor ʼn ses maande lange amnestietydperk – wat op 31 Januarie verstryk – vuurwapens waarvan die lisensies verval het, ingee. Hulle kon ook vir nuwe lisensies aansoek doen.

Vrydag het hordes mense nog in toue buite polisiestasie saamgedrom om die spertyd te haal.

Volgens die polisie se amptelike syfers was daar in Oktober 2019 altesaam 400 805 vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het. Teen Mei verlede jaar is 27 336 wapens ingevolge die vorige amnestietydperk ingehandig.

Teen 13 Januarie vanjaar is altesame 23 399 vuurwapens en 119 781 patrone ingehandig. Van die vuurwapens wat ingehandig is, is 3 139 vrywillig ingehandig, terwyl 20 260 mense aansoek gedoen het om lisensiehernuwings.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê teen Donderdag is altesaam 40 729 vuurwapens en 199 573 patrone vrywillig ingevolge die huidige vuurwapenamnestietydperk by polisiestasies ingehandig.

Indien wapens wat tydens die huidige amnestietydperk buite rekening gelaat word, is die polisie dus op soek na sowat 370 000 vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het.

“Dan vra jy die vraag: Was die amnestietydperk suksesvol in terme van die doelwit wat hulle wou bereik? Die antwoord is nee. Hulle het nie 10% daarvan bereik nie,” sê die woordvoerder van ʼn groot jagtersvereniging wat weens noue betrokkenheid in die bedryf gevra het dat sy naam nie gebruik word nie.

Wantroue, administratiewe probleme

‘n Vuurwapeneienaar op pad om ‘n wapen by die Brooklyn-polisiestasie in te handig. (Foto: Mia Spies)

Die bron skryf die swak opkoms onder meer toe aan die feit dat mense nie die polisie vertrou nie. Talle mense glo ook dat die wapens uiteindelik ieder geval in misdadigers se hande gaan beland.

Jonathan Deal, nasionale koördineerder van die Safe Citizen Campaign, stem saam.

Deal sê private vuurwapeneienaars word tradisioneel die skuld gegee vir wapens wat in misdadigers se hande beland ten spyte van berigte van groot getalle wapens in die besit van die polisie, die weermag, metropolisiedienste, tronke en staatsagentskappe wat gesteel of verloor word.

“Net so kommerwekkend is die feit dat duisende vuurwapens wat tydens die amnestietydperke by die polisie ingehandig is, uit polisiestore aan bendelede verkoop is.

“Nou hoor ons dat selfs diegene verantwoordelik vir staatsveiligheid op die hoogste vlak betrokke is by die bewapening van misdadigers,” sê Deal.

Deal sê dít terwyl duisende private vuurwapeneienaars se enigste misdaad is dat hul vuurwapenlisensies verval het en dat die polisie gereedmaak om hulle te laat vervolg vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Betrokkenes is dit ook eens dat talle mense wel tot op die laaste nipper gewag het om by ʼn polisiekantoor aan te meld. Dit is egter nie nét vuurwapeneienaars se skuld nie.

“Oor die verloop van die sesmaandetydperk was talle polisiestasies gesluit weens Covid-19, van die aangewese vuurwapenkantore was gesluit of het met net 50% van personeel gewerk. Daar was dus baie mense wat vuurwapens wóú inhandig, maar nie kon nie,” sê die verteenwoordiger van die jagtersvereniging.

“In die Wes-Kaap, waar polisiestasies met ʼn afspraakstelsel werk, was tydgleuwe op verskeie plekke al in November tot die einde van Januarie vol bespreek.”

Talle mense wat Vrydag vroeggend in die gietende reën by die Garsfontein-polisiestasie om aansoek te doen vir hernuwings. (Foto: Maroela Media)

Theo de Jager, direksievoorsitter van die landbouorganisasie Saai, sê ʼn wesenlike getal boere gaan nie voor Sondag hul vuurwapens onder die huidige amnestievoorwaardes en COVID-19-verwante uitdagings ingee nie – selfs al wou hulle.

“Met die sperdatum vir amnestie vir vuurwapenlisensies om die draai, was die druk op vuurwapenlisensiekantore vandeesweek dikwels onhanteerbaar groot. Weens die vereiste dat eienaars hulle wapens by polisiestasies moet ingee, het boere tot die laaste oomblik gewag voordat hulle van die amnestievergunning gebruik maak,” sê De Jager.

“In ʼn verswakkende veiligheidsomgewing met plaasaanvalle wat toeneem, wil boere die tydperk wat hulle sonder ’n vuurwapen weerloos gelaat word, tot die minimum beperk.”

Die administrasieproses word in sommige gevalle boonop as ʼn nagmerrie bestempel.

Oor die ses maande tydperk sou byna 3 000 vuurwapens per dag ingehandig moes word indien alle eienaars met vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het, aan die amnestietydperk gehoor gegee het.

Volgens die jagtersvereniging is dit vir polisiestasies prakties onmoontlik om te hanteer.

“Die polisie kan nét soveel wapens op ʼn dag inneem, verwerk en veilig berg.”

Een van die ondernemings wat die polisie oor die proses gegee het, was dat vuurwapens nie langer nie as 24 uur by ʼn polisiestasie gestoor sal word voor dit na ʼn provinsiale opbergplek verskuif moet word.

By sommige stasies is die store glo só oorvol, dat polisiebeamptes mense noodgedwonge met die wapens wegstuur.

“Dit is die praktiese goed wat politici en die minister en die polisiebestuur nie besef nie. Daar is baie aangewese vuurwapenbeamptes wat probeer help en hulle werk goed doen. Hulle is egter oorwerk en toegegooi met aansoeke en kan nie die hoeveelhede hanteer nie.”

Wapens vernietig

Die polisie het vandeesweek duisende wapens wat vrywillig ingehandig is, of waarop beslag gelê is, ingehandig. (Foto: SA Polisie)

Intussen het die polisie vandeesweek altesaam 35 069 vuurwapens vernietig.

Hiervan was 9 918 wapens wat vrywillig ingevolge die vorige amnestietydperk (1 Desember 2019 tot 31 Mei verlede jaar) by die polisie ingehandig is.

Volgens Muridili is net vuurwapens wat ná ballistiese toetse nie aan ʼn misdaad gekoppel is nie, vernietig.

Die polisie het egter nie syfers bekend gemaak van hoeveel van die vuurwapens wat vrywillig ingehandig is, uiteindelik aan ʼn misdaad verbind kon word nie.

Die res van die wapens wat vernietig is, is tydens polisieoptredes gekonfiskeer.

Geen wapens vir private burgers?

Sara Chitambo, kommunikasiebestuurder by Gun Free South Africa, sê hoewel die Covid-19-afsonderingsregulasies bes moontlik bygedra het tot die traagheid om wapens in te handig, het die polisie en vuurwapeneienaars self die geleentheid deur hul vingers laat glip.

Chitambo sê die polisie het nie naastenby genoeg gedoen om bewusmaking oor die amnestietydperk te kweek en die vuurwapenpubliek aan te moedig om hul wapens in te handig nie. GFSA het boonop talle oproepe van mense ontvang wat steeds vrees dat hulle vervolg gaan word.

“Die jongste misdaadsyfers wys dat burgerlikes die grootste bron van onwettige wapens in Suid-Afrika is en in 2019-’20 is 8 007 vuurwapens as gesteel of verlore aangemeld is. Dit is ʼn gemiddeld van 24 vuurwapens per dag, terwyl die polisie in hierdie tyd ʼn verlies aan twee per dag aangemeld het,” sê Chitambo.

“Hoewel daar geen twyfel is dat die regulasies oor die Covid-19-pandemie ʼn beperking op inhandiging geplaas het nie, staar ʼn epidemie van vuurwapengeweld wat nie geïgnoreer kan word nie, Suid-Afrika in die gesig.”

Chitambo sê navorsing wys selfs tydens vlakke 4 en 5 van die afsonderingstyd, het vuurwapengeweld net effens gedaal in vergelyking met ander gewelddadige sterftes of beserings.

“Vir vuurwapensgeweld om te gebeur, moet daar ʼn vuurwapen wees.

“Die 2020-’21-amnestietydperk is ʼn sleuteloomblik om Suid-Afrika veiliger te maak deur die getal ongewenste, onregmatige en onwettige vuurwapens in ons gemeenskappe te verminder.”

Sy sê vir GFSA sal dit ideaal wees as net sekuriteitsbeamptes, die polisie en sekere staatsamptenare wapens mag hê en dat vuurwapenbesit vir private burgers streng beperk behoort te word.

Die woordvoerder van die jagtersvereniging sê hoewel geweld dikwels aan vuurwapens toegeskryf word, is dit nie die wapen wat die meeste in voorvalle van ernstige geweldsmisdaad gebruik word nie. “Volgens die polisie se eie data word die meeste mense met skerp voorwerpe vermoor; vuurwapensterftes is in die minderheid.”

Hy betwyfel ook GFSA se syfer oor die aantal wapens wat by private eienaars gesteel word, asook die stelling dat mense gereeld met hul eie wapens beseer word.

GFSA sê egter die polisie se eie syfers wys vuurwapens word in die meeste voorvalle van moord en poging tot moord gebruik. Vuurwapens was in 2019-’20 by 7 351 moorde betrokke en 12 718 poging tot moord-sake betrokke. ‘n Vuurwapen is by 858 voorvalle van ernstige aanranding gebruik.

‘n Mes is tydens verreweg die meeste voorvalle van ernstige aanranding betrokke. Messe was in dieselfde tydperk by 4 531 moordsake, 1 865 sake van poging tot moord en 24 668 voorvalle van ernstige aanranding betrokke.

  • Die polisie het onderneem om vrae oor die kwessie te beantwoord. Maroela Media wag op terugvoer.

*Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

gatgogga ·

As jou vuurwapenlisensie se geldigheid verval, normaalweg na 5 jaar, en jy doen vroegtydig aansoek vir hernuwing, dan…………….gebeur daar niks. Die polisie is net so hopeloos as die res van die lot.

Willem ·

Ek stem saam. My vrou het nooit haar lisensie gekry nie. Weer gaan aansoek doen. Nog niks. Al die betaal bewyse word daar vir haar gesê kombons vergeet 2016 en begin nuut. Nou moet sy wapen ingee en kan eers oor 2 tot 3 weke as wapen terug kom van balistiese toetse aansoek doen.

Persheks Adri ·

Ek glo nie vir 1 oomblik dat die wapens vernietig word nie dit word verkoop! Wat van die kriminele wat met onwettige wapens sit? Cele soek lankal na redes om ons te ontwapen gggmmmfff! Dis snert dat net die polisie en sekuriteit mag wapens hê. Ons lewens is elke dag in gevaar!!!

Nie Verbaas ·

Cele moet liewer konsentreer op die kriminele se onwettige wapens en plofstof. Maar dis seker te veel gevra. Wonder wat het geword van die spesiale eenhede wat informasie ingewin het? Sit sekere onder bome en eet KFC

Persheks Adri ·

Stem 100% saam met jou! Plaas doen hulle iets nuttig nou wil hulle ons gehoorsame burgers te na kom om ons te ontwapen! Not a hel ek skenk NIKS nie hulle kan loop tsek

Retha ·

Hoekom soek hul nie liewer die vuurwapens wat uit die kluise van die polisie weg raak nie. Ons sukkel al van 2012 af om ons vuurwapens te hernu, maar niks. Elke keer klomp geld betaal vir heraansoek, maar nee dit val op dowe ore

Hendrik ·

Groot FOUT!!!
Dit is hoe die regering ons ontwapen!!
Daardie selfde wapens wat ingehandig is vandag word vanaand gebruik in misdaad!!
Ek vertrou die polisie en/of regering nie eens as ek hulle kan sien nie, wat nog as ek hulle nie kan sien nie.

Casper ·

GFSA is nie bewys daarvan dat vuurwapens in baie gevalle met geweld geroof word nie veral tydens plaas en hoewe aanvalle.Daardie vuurwapens is inbesit van misdadigers en dus ongelisensieërd.Dit is nie die wettige eienaar se skuld om teen ‘n loop vas te kyk en beroof word en in gevalle vermoor word nie.Jag is wettig in SA en jagters wat dit geniet en die vleis nutting gebruik.As alle vuurwapens ingehandig moet word sal daar moord en doodslag wees en ‘n bedryf wat ‘n goeie inkomste genereer sal tot niet gaan.

Agge nee ·

Ek wonder wat presies rook hierdie tannie Sara van Gun free SA? So die lewe gaan idillies wees as net die polisie(lees kriminele) en die rowers en moordenaars wapens het. En gewone burgers sal sit en wag vir wanneer jy in een van die twee groepe se hande val.

Cherokee ·

Dit het nie misluk, maar was ‘n volkome sukses. Polisie het bereik wat beoog is. Om naïewe blankes te ontwapen.

Jedi Knight ·

Ek haal my hoed af virdiegene wat nie hul wapens ingehandig het nie. Mooi so! Burgerlike ongehoorsaamheid is n heldedaad.

Meinung ·

Dit bly ‘n projek om wetsgehoorsame burgers te ontwapen. Dit wys ook dat die regering en die cowboyminister géén logiese denke het nie, want die kriminele gaan NIE hulle s’n inhandig NIE. So, die polisie, politici en Gun Free South Africa wat ten gunste is van inhandiging het ook maar ‘n beperkte insig, logika en vermoë om dinge sinvol te hanteer. Dit is geen wonder die land verval so nie. As jy nie met hierdie basiese dinge beter kan presteer nie, hoe sal jy nou slaggate in paaie en ander verval kan sien as ‘n probleem. Ai, Suid-Afrika; dit word ‘n droewe land.

Persheks Adri ·

Voorstel vir almal:

Trek ‘n skedule op met julle bestuurder lisensies, wapens en voertuie waarin julle elke dag vas kyk siende dat ons nie die papiere in die pos kry nie en nog minder na al die lisensies kyk elke dag! Dis al hoe ek alles onthou met al ons lisensies… Net te veel om te onthou vir my in elk geval

Francois Le Cochon ·

Die Polisie moet ou 303’s en ander antieke wapens wat ingehandig word, onskadelik maak en verkoop as ornamente.

Sarel ·

1. Kyk wie handig wapens in. Dit kom neer op” ontwapening” vir sekere deel van die Bevolking. Net soos Cele wil doen.
2.Geen ” Krimineel” sal wapen inhandig nie.
3. In plaas van wapen inhandig moes jy keuse gehad het van jou wspen behou en lisensie tr hernu.
4. Wapens wat vir misdaad gebruik word steeds dasr buite.
5. Cele het geslaag on sy doel van ontwapening so moorde kan voortduur.

Karel Lourens ·

Jip…soek na vuurwapens wat se lisensies verval het instede daarvan om te soek na onwettige wapens (wat deur hulle versprei word) wat elke dag vir moord en misdaad in die land gebruik word.BELAGLIK.

Axel ·

Hoekom ons wapens inhandig? Ons word dan met ons eie wapens op ons plase doodgrskiet???

piper ·

as jy jou wapen wil in handig , bring n modikasie aan die wapen aan deur die loop van die wapen n bietjie te buig. die wapen is dan onbruikbaar en as dit gebruik word kan dalk ontplof. dit is onwettig om dit te doen dis waarom die loop so gebuig moet word dat die persoon wat die wapen in neem nie met die blote oog dit nie kan sien nie.

jzjz05 ·

Maande terug aansoek gedoen vir hernuwing van my vuurwapenlisensies maar sederdien het daar nog niks gebeur nie, wat nou? Kan n mens n klag by die polisie gaan lê ???.

pompies ·

GFSA weet nie waarvan hulle praat nie, ek sal in elk geval nie hulle syfers glo nie want hulle gaan dit erger maak net om hulle saak te steun. Groot probleem is as jy nie inhandig nie gaan hulle jou arresteer want hulle weet wie se lisensies is verval en dit is n lekker sagte teiken om gou gou te arresteer. So nou sit ons tussen n klip en n baie harde plek. Ek het my wapen ingehandig om te herlisensieer en ek was 2dae by die polisie stasie ek het nie 1 nie blanke gesien wat ingehandig het nie, so is dit net wittes wat vervalde lisensies het??

twaalfboor ·

Sal graag by SAPS se woordvoerder wil hoor waar dìe aan die statistiek kom. Veral in aggenome dat ingehandigde wapens en ammunisie nog vêr daarvan is om op ń “stelsel” verwerk te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.