Joost-boek van rakke onttrek ná omstredenheid

In die skadu van ʼn legende – ʼn Huldeblyk aan Joost van der Westhuizen (Foto: Verskaf)

Die Christelike Uitgewers Maatskappy (CUM) het pas aangekondig dat hy Pieter van der Westhuizen se boek In die skadu van ʼn legende – ʼn Huldeblyk aan Joost van der Westhuizen van sy winkelrakke landswyd onttrek.

Van der Westhuizen het dié nuus aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê hy is deur sy uitgewer, Coenie Schoeman van Carpe Diem Media, ingelig dat CUM dié boek onttrek weens omstredenheid en negatiwiteit wat uittreksels uit die boek op sosiale media veroorsaak.

In die skadu van ʼn legende – ʼn Huldeblyk aan Joost van der Westhuizen gee volgens bemarkingsmateriaal ʼn persoonlike blik op die verhouding tussen die broers Pieter en Joost en beloof om ʼn “knop in die keel” te bring wanneer die lesers bewus word van die besonderse vriendskap tussen die broers en Joost se stryd met motorneuronsiekte.

Van der Westhuizen skryf onder meer oor sy grootwordjare saam met Joost en hoe sy versorging van Joost dikwels baie van hom geverg het, maar hom andersins ook baie verryk het.

Carpe Diem beskryf die boek só: “Van Pieter se mooiste herinneringe saam met Joost kom uit hulle kinderjare. Hulle het baie poetse gebak en kattekwaad aangevang. Hulle was partners in crime wat mekaar nooit in die steek sou laat nie. Vir die familie was dit verskriklik traumaties om hierdie man, wat voorheen so sterk en gespierd was, voor hulle oë al swakker en swakker te sien word. Hulle geloof is egter versterk terwyl hulle saam met hom teen die siekte gestry het.

“Hy was nie net ’n uitstekende sportman nie. Nadat jy hierdie boek gelees het, sal jy besef dat hy ’n ‘groot’ man was met ’n klein hart wat regtig omgegee het vir mense.”

Die boek bestaan uit ʼn aantal hoofstukke wat onder meer insluit “Joost se rugby”, “Rugby en celebrity-wees”, “Die media”, “Joost se diagnose”, “Die broers se laaste dae en minute”, “Begrafnis” en “Hartseer en pyn”.

Van der Westhuizen wou nie verder oor die onttrekking van die boek kommentaar lewer nie.

Carpe Diem Media en CUM-uitgewers was nie Dinsdag beskikbaar vir kommentaar nie.

In die skadu van ʼn legende sal steeds in ander uitgesoekte winkels, asook aanlyn by voelgoedboeke.co.za beskikbaar wees. Die boek sal volgende week amptelik in Pretoria bekendgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Projoost ·

Wat is so omstrede omtrent die boek? Pieter van der Westhuizen maak sekere bewerings waarop hy geregtig is. Daar is tog seersekerlik mense wat mag beswaar maak teen teen die boek en dan die uitgewers en die skrywers dagvaar. Maar die boek onttrek? Dis baie verdag en ek bevraagteken die winkels (CUM boeke) se integriteit.

Mary ·

Klink of die vergiftiging-stories dieper strek as net vermoedens. Ek hoop dit word verder ondersoek.

Chris Ws ·

CUM moet pasop.Hulle het kliente nodig en nie andersom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.