Joost bring hulde aan Jonah Lomu

Lomu het Van der Westhuizen vroeër vanjaar besoek. Foto: @9Joost/Twitter

Lomu het Van der Westhuizen vroeër vanjaar besoek. Foto: @9Joost/Twitter

In 1995 het Joost van der Westhuizen gesê die voormalige Nieu-Seelandse vleuel, Jonah Lomu, het hom uitgedaag om sy beste spel te lewer.

“Vandag is dit vir my moeilik om met oë vol trane te skryf op my oogbegeleide-vertaler. Baie dankie vir alles Jonah. Rus in vrede my vriend,” het Van der Westhuizen op Twitter geskryf ná Lomu se skielike dood.

Die voormalige All Black het Dinsdag in Nieu-Seeland aangekom ná afloop van sy reis na die Brittanje vir die 2015 Wêreldbekerrugbytoernooi.

Lomu (40) is in 1997 diagnoseer met ʼn ernstige nierkwaal.

Die 1,9 m lange Lomu het sy opponente tydens die 1995 Wêreldbekerrugbytoernooi betower met sy spoed en krag, hoewel die Springbokke nietemin die eindstryd teen die All Blacks op Ellis Park gewen het met ʼn telling van 15-12.

Lomu het vroeër vanjaar ʼn dokumentêre prent Jonah Lomu: Back to South Africa in Suid-Afrika verfilm waarin hy besoek gebring het aan voormalige Springbokke van 1995. Aan die einde van die prent het Lomu by Van der Westhuizen, wat in 2011 gediagnoseer is met ʼn vorm van ʼn motorneuron-siekte, gekuier. In die dokkie beskryf Lomu vir Van der Westhuizen as ʼn goeie vriend en iemand wat hom op Ellis Park in sy spore gestuit het.

Van der Westhuizen het met behulp van ʼn oogbegeleide-vertaler teenoor Lomu erken dat hy hom altyd uitgedaag het hom sy beste spel te lewer.

In die emosionele toneel het die twee rugbyhelde herinneringe van die geskiedkundige oomblikke uit die eindstryd opgehaal. “Almal wat in daardie wedstryd gespeel het, het ʼn groot verskil gemaak in hierdie land en in wêreldrugby. Ek het jou nooit vertel watter voorreg dit was om teen jou te speel nie, my vriend,” het Lomu gesê.

Van der Westhuizen het erken dat vir hom net so ʼn voorreg was om teen die bekende held te speel.

Lomu het nederig gereageer en vertel hy onthou hoe baie Van der Westhuizen tydens die eindstryd gepraat het. “Ek het by myself gedink hierdie man kan nie ophou praat nie. Toe ek deur die lyn gehardloop het, het ek niemand om my gesien nie. Toe dink ek op ʼn stadium: ‘Waar is my bene heen?’ Dit was toe jy wat my platgeduik het.”

“Ek ken jou Joost, jy was die nommer nege wat my verhoed het om ʼn drie te druk. Jy het gekeer dat ons die Wêreldbeker wen. Ek weet jy gaan hierdie siekte oorkom, jy het daardie rugby-veggees in jou.”

Lomu het Van der Westhuizen geprys vir sy uitmuntende prestasies en hom gegroet met trane in sy oë.

Lomu het sy kort besoek beëindig deur ʼn foto van die eindstryd wat teen Van der Westhuizen se muur hang, te teken. “Belowe my dat jy sal aanhou veg, ek belowe ek sal dieselfde doen,” was sy woorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leeutjie ·

Ek bly sluk…maar ek kry nie die knop in my keel weg nie!!

Mike de Beer ·

“Stil broers … daar gaan ‘n man verby” Hy was ‘n grote in dieselfde liga as ons eie Frik du Preez en ander groot grotes van rugby.

Rina Kotze ·

Ek salueer Jonah Lumo. Hy was nedrig van die veld af en ‘n reus op die veld!
Al is ek ‘n Springbok ondersteuner, ek sien ‘n goeie speler raak, al is dit van ‘n ander land.
Rus in Vrede Jonah. Mag jy baie drieë druk in die hemel.

John ·

All Blacks verloor ‘n uitstekende speler. Hy het die wêreld laat gons met sy sterk krag lopies wanner hy diebal gekry het. Rus in vrede my hero

Illa ·

Ek en my man het gisteraand die dokumentêr gekyk en het ons getjank! Jonah Lomu was werklik ‘n rolmodel wat nagevolg kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.