Joost: ‘Een van die beste Springbokke van alle tye’

Die foto is op 24 Junie 1995 geneem. Foto:  (AP Photo/John Parkin, file)

Die foto is op 24 Junie 1995 geneem. Foto: (AP Photo/John Parkin, file)

Die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap is in rou na die dood van die Springbokheld Joost van der Westhuizen.

Van der Westhuizen is Maandag in die ouderdom van 45 oorlede, nadat hy in 2011 met amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ʼn aggressiewe vorm van motorneuronsiekte (MNS), gediagnoseer is.

“Joost sal onthou word as een van die beste Springbokke – nie net van sy generasie nie, maar van alle tye,” het Mark Alexander, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), gesê.

“As ʼn speler het hy die Rugbywêreldbeker-trofee, die Drienasies-trofee en die Curriebeker-trofee gelig en homself gevestig as een van die beste skrumskakels wat die wêreld van rugby nog gesien het.”

Volgens Alexander was Van der Westhuizen ook ʼn inspirasie vir diegene wat aan dieselfde siekte ly, sowel as die wat nie eens daardeur geraak word nie. “Ons het almal verwonderd gestaan oor sy dapperheid en sy berustende aanvaarding van hierdie verskriklike las. Dit is ʼn hartseer dag vir rugby in Suid-Afrika en regoor die wêreld soos ons afskeid neem van ʼn legende van die Springbokke. Ons meegevoel gaan aan sy familie en vriende in hierdie hartseer, hartseer tyd. ”

Alexander het gesê terwyl Van der Westhuizen op die kruin van sy loopbaan was, was hy sonder gelyke. “Hy kon dinge doen wat niemand anders kon doen nie en dit was sy onvoorspelbaarheid as ʼn skrumskakel wat sy opponente betower het en sy ondersteuners soveel rede gegee het om te juig.”

Volgens Alexander is Van der Westhuizen ʼn rolmodel en held vir menige jong rugbyspeler. “Hy het ʼn generasie Suid-Afrikaners geleer wat dit beteken om ʼn Springbok te wees. Sy passie vir sy land en die Bokke sal altyd uitstaan en hy sal baie gemis word.”

Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het ook sy medelye met Van der Westhuizen se familie en vriende betuig. “Joost sal vir ewig onthou word as die vegter wat opposisie op die veld laat skrik het en die een wat MNS in die oë gekyk en reuseblootstelling vir die saak gekry het.”

Gert Wessel, president van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU), het Van der Westhuizen beskryf as die man met die “groot hart”, op en van die veld. “Dit was duidelik in sy benadering tot die spel, aangesien hy vir niks teruggestaan of opsy geskuif het tydens sy loopbaan nie. Sy hardnekkige houding het ook duidelik deurgekom in sy stryd teen MNS.”

Joost Heystek van der Westhuizen is op 20 Februarie 1971 in Pretoria gebore. Hy het sy hoërskoolloopbaan by FH Odendaal voltooi en is hierna na die Universiteit van Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Medelyer ·

Dis baie sleg…..maar as jy soort gelyke skoene dra raak dit jou meer. RIV

FM ·

Ek het JOOST se rugbyloopbaan gevolg. Onverskrokke, dominerend, intimiderend, fisies sterk, rats,vinnig, dinamies, onvoorspelbaar,gewild ens ens!!!Dit, en vele meer, was Joost. Trots om vir sy land te speel. Hy het sy 120 % gegee. Hy het die springboktrui met respek behandel en hy was bomenslik gemotiveer as hy die groen en goud oor sy kop getrek het. Dis iets wat vandag se spelers nog moet besef!!!!Rus in vrede, my held. Ons eer jou vir die persoon wat jy was. Jou gelyke moet nog gebore word!!!!

zahn ·

Ai man ou Joos, ek het nie woorde nie. Rus salig ou mater. Nou is jy weer sonder pyn.

Nick Liebenberg ·

Skok! Eina pyn! Jy is nou op n better plek broer. My gebede is met jou hele familie!

JC ·

RIV Joost. Jy was voorwaar ‘n man van staal en het tot op die laaste nog ‘n onverskrokke lewenswil en krag gewys :-)
HELD VAN, EN VIR, ALLE TYE EN ‘N VOORBEELD OM NA TE VOLG!!
“THE GOOD DIE YOUNG”

miem ·

Joost jy was my Blou Bul en Sprinbok held. Daar is nou rus vir jou want jy het hard geveg. Vir Amore en die kinders se ek en ek haal aan ” Will not the deepening darkness brighten the glimmering star” uit Whispering Hope.

FM ·

Baie dankie Pieter wat jy vir Joost gedoen het. n Voorbeeld van n opregte broer.Baie sterkte aan Amor en die kinders. Pieter baie sterkte ook aan jou en jou familie met jul verlies. Joost se gelyke op die rugbyveld het ek nog nie gesien nie. Sterkte met al julle reëlings. Julle was goed vir Joost. Trots op die LEGENDE.

Sannie ·

RIV – Ek gun jou die ewige rus jy was voorbeeld met uithouvermoeë toe dit op die slegste met jou gegaan het. Jy is nou by baie van familie wat ook deur diesekfde aftakelende siekte .isMy innige meegevoel gaan aan Amorè en kinders sowel jou dierbare ouers en broers. Maar al die swaarkry op aarde weeg nie op teen wat ons in die hemelwoning gaan beleef nie.

T ·

Wat se fantasiese voorbeeld was hy nie vir almal wat wou tou opgooi nie! Elke dag geveg vir sy kinders Ouers Amor en die wereld! Gun hom al die glorie wat hom toe kom. Hy verdien dit! RIP

Frans C ·

Springbokrugby het nog altyd sy kwota goeie skrumskakels opgelewer,maar Joost was seer die beste van almal.

arno ·

sterkte aan die mense wat naby joost was ons groet n groot man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.