Joost nou deel van Heldesaal

Joost van der Westhuizen. Foto: Twitter

Joost van der Westhuizen. Foto: Twitter

Die Springboklegende Joost van der Westhuizen word Sondag by Sun City by die Suid-Afrikaanse Heldesaal vir Sport (SASHoF) ingehuldig waar hy een van die uiteindelike 125 Suid-Afrikaanse sportlegendes sal wees wat só vereer word.

Dié glansgeleentheid word op Supersport uitgesaai en verskeie bekendes sal die vierig bywoon.

Van der Westhuizen was een van Suid-Afrikaanse rugby se heel grotes: Wêreldbekerwenner in 1995; Wêreldbekerkaptein in 1999; tot in 2013 die grootste driedrukker in Springboktoetse met 38 drieë; en ʼn legende vir die Blou Bulle en Bulls in die elf jaar wat hy hulle verteenwoordig het.

Hy was ook lid van die Bokke wat die Drienasiestitel in 1998 gewen het, het twee Curriebekers gewen en ook in drie Wêreldbekers – in 1995, 1999 en 2003 – gespeel.

Sy 89 toetse was, toe hy in 2003 uit toetsrugby getree het, die rekord deur ʼn Suid-Afrikaanse speler en hy het 144 keer vir die Blou Bulle (22 as kaptein) en 26 keer vir die Bulls uitgedraf.

Joost het in 2003 uitgetree. Hy was rugbykommentator, ʼn boek oor sy lewe, Spieëlbeeld, het verskyn, en hy was ʼn sportheld soos net ʼn voorste Springbokrugbyspeler in Suid-Afrika kan wees. Hy het ook tydens sy speeljare ʼn BCom-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal.

Van der Westhuizen is in 2007 by World Rugby se Internasionale Rugbyroemsaal ingehuldig.

En toe, in 2008, het van der Westhuizen van ʼn swakheid in sy regterarm bewus geraak. ʼn Maand of twee later het hy saam met ʼn vriend, sy algemene praktisyn, in ʼn swembad gestoei toe hy gemerk het dat die swakheid toegeneem het.

Die dokter het motorneuronsiekte (MNS) vermoed en in 2011 is dit bevestig dat Van der Westhuizen Amyotrofiese Laterale Sklerose, ʼn vorm van MNS, het.

Van der Westhuizen se lewensverwagting is tussen twee en vyf jaar geraam.

Die J9 Stigting is tot stand gebring. Dit is ʼn liefdadigheid wat hom beywer vir sake rakende MNS en veral om die publiek van die siekte en sy gevolge op die pasiënt en sy gesin bewus te maak; en om ʼn bewustheid te skep onder mediese praktisyns oor die siekte sodat dit vroeër en korrek gediagnoseer kan word.

Van der Westhuizen is steeds aktief by J9 betrokke en bring gereeld tyd saam met sy seun en dogter deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Hoevele kere is bekendes en beroemdes nie al getref deur teëspoed. Daardeur is daar bewusmaking van daardie spesifieke ongesteldheid. “Geen haar sal van jou kop afval sonder Sy wil of sonder dat Hy daarvan bewus is”. Daarom is siekte nie sonde soos deur sommiges beweer word. Die Here gebruik mense VIR mense. Dit is vir ons as toehoorders om te luister en te doen na Sy wens.
Joost, jy verdien dit. Jou bydrae vir MNS is volgens my jou grootste prestasie.

lynette ·

Nie net oor ek n blou bul ondersteuner is nie . Maar ook oor menslikheid en respek . Kan ek net se Veelsgeluk Joost . Jy was sterk en goed . Jy het nie gaan le . Jy het alles wat jy trots op kan wees en Ons is almal trots op jou . Superster. .

fm ·

Joost jy is n superheld. Ons soek jou soort vir die wêreldbeker. Trotse rugbyman. Ons eer jou vir wat is en wat jy bereik het. En jy glimlag steeds. Bravo Joost!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.