Joost reageer oor boek-uitspraak

Joost in hofDie oud-Springbok Joost van der Westhuizen het Maandag vir die eerste keer amptelik reageer nadat die hof Vrydag ʼn dringende interdik van die hand gewys het om ʼn boek oor hom en sy vervreemde vrou, Amor Vittone, te keer.

“Van der Westhuizen en Vittone en hul families is teleurgesteld oor regter Eberhard Bertelsmann se uitspraak, maar aanvaar die besluit,” het Odette Schwegler, Joost se woordvoerder, Maandag gesê.

Schwegler het gesê Gavin Prins, vermaaklikheidsjoernalis en die outeur van die boek met die voorlopige titel Joost en Amor – agter die skerms, het in hofdokumente erken dat daar niks nuut in die boek publiseer word as wat alreeds in die publieke domein bekend is nie. “Die feit dat Prins en Random House Struik, wat die boek uitgee, juis nóú besluit om die boek tydens dié tyd van Van der Westhuizen se lewe uit te bring, laat ernstige etiese vrae,” het Schwegler gesê.

“Met niks nuut nie, buiten Prins se perspektief van ou nuus, sal die enigste beduidende impak van die boek wees om ou wonde tussen Van der Westhuizen en Vittone oop te krap. Wonde wat hulle en hul families al agter die rug geplaas het.”

Schwegler het gesê Van der Westhuizen sal aanhou om sy motorneuronsiekte (MNS) te beveg. Hy sit ook sy werk voort om die lewens van ander MNS-lyers te verbeter. “Hy sal ook aanhou om sy familie, veral sy kinders, tot die beste van sy vermoë te beskerm,” het sy bygevoeg. “Joost bedank al sy ondersteuners. Hul ondersteuning en boodskappe van bemoediging word hoog op prys gestel.”

Sy sê dat Van der Westhuizen en Vittone nie finansieel gaan baat by die verkope van die boek nie.

Lees ook:
Joost-boek: Hof besluit
‘Joost het privaatlewe in openbaar gehou’
Video: Joost wil publikasie van boek keer
Joost-boeksage nog nie oor
Joost se versoek om boek te keer in hof
Joost-boek: Verhoor staan oor
Joost in hof om boek te keer
Joost wil biografie keer

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.