Joost se broer: ‘Hy was plein ou, maar legende vir wêreld’

Foto: Skermskoot/eNCA-video

Foto: Skermskoot/eNCA-video

Pieter van der Westhuizen, Joost van der Westhuizen se broer, het Vrydag tydens die openbare gedenkdiens by Loftus Versfeld sy broer gedenk.

Gavin Varejes, uitvoerende hoof van die South African Rugby Legends Association (SARLA), het eerste hulde aan Van der Westhuizen gebring. Hy het ʼn minuut van applous in plaas van ʼn minuut van stilte versoek, waarna die skare hard begin juig en hande klap het. Varejes het verwys na die dag in 2011, toe Van der Westhuizen hom meegedeel het hy is met amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ʼn aggressiewe vorm van motorneuronsiekte (MNS), gediagnoseer.

“Ons het daardie dag saam gehuil. Ons het daarna nooit weer gehuil nie.” Volgens Varejes het Van der Westhuizen nooit moed opgegee nie. “Daardie woorde was nooit in sy woordeskat nie.” Verejes het hierna boodskappe van medelye van talle sportlui en bekendes voorgelees.

Die sanger Ampie du Preez het hierna die liedjie “Saamstaan” gesing. Die video van die liedjie vertel die storie van Van der Westhuizen se lewe en loopbaan. Van der Westhuizen het destyds in sy rolstoel toegekyk toe die video op Loftus verfilm is.

Pieter van der Westhuizen, Joost se broer, is staande toegejuig toe hy na die podium gestap het. Hy het die laaste paar jaar na sy broer omgesien. “Hy was van jongs af vasberade om die hoogste piek te bereik. Hy het gesê hy sal ʼn Springbok word.”

Volgens Van der Westhuizen het sy broer Suid-Afrika met sy hele hart liefgehad. “Hy het alles gegee om sy land trots te maak. Hy het rugby so baie geniet en dit het hom bekend gemaak. Dit het sy privaatheid weggeneem, maar hy sou steeds stilstaan om gou ʼn handtekening uit te deel.”

Van der Westhuizen het vertel hoe moeilik dit was die dag toe Joost vir sy familie vertel het hy is siek. “Ons het gedink hy gaan medisyne kry en als sal oukei wees. Dit was soveel meer as dit. Mense met MNS is gevangenes in hul eie liggame.”

Volgens Van der Westhuizen was Joost ʼn liefdevolle broer en pa. “Hy was so lief vir sy kinders. Hy was ʼn nederige ou en het altyd tyd gemaak vir sy familie. Die dag toe hy vir my gesê ons moet beplan vir die einde – ek was nie reg nie. Met trane in my oë het ons begin beplan. Hy het gesê hy soek ʼn plein kis. Dit is hoe hy was – ʼn plein ou, maar ʼn legende vir die wêreld.”

Van der Westhuizen het gesê sy broer was ʼn grapmaker en het graag poetse gebak. “Hy was so ʼn positiewe mens en het altyd gelag. Selfs toe hy in ʼn rolstoel was het hy die spot met homself gedryf. Jy het my en ons familie so baie geleer. Ek eer jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ja so raak dit skierlik stil in ons harte geliefde en vriende, maar ek is seker dat dit wat ons held opgeskryf het in die boek van die lewe, ook vir die nageslag bewaar sal word

Maryna ·

Daar is geen woorde wat hierdie seer kan beskryf/opsom nie. Met tyd leer mens net daarmee saamleef. Uiteindelik sonder pyn…
Sterkte aan almal!

foxi ·

Die diens was so mooi……so mooi…..maar tog so hartseer.
Totsiens Joost. Ons sal jou altyd onthou.
Rus in vrede.??

Karma ·

Ag nee man, my oë bly aan die lek! RIV Joost, ek het dit dié week al so baie keer gesê en sê dit nou hopelik vir die laaste keer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.