Joost se stewels terug by ouerhuis

Die stewels (Foto: Verskaf)

“Ons harte loop oor van dankbaarheid en waardering. Dankie dat julle ’n stukkie van Joost huis toe gebring het.”

Só voel die gesin van die rugbylegende Joost van der Westhuizen nadat wildvreemdelinge sy rugbystewels, wat hy in sy heel laaste rugbywedstryd gedra het, op ’n aanlyn veiling gekoop en aan hulle terugbesorg het.

Joost se vervreemde vrou, Amor Vittone, het verlede naweek ’n veiling gehou waar sy dié verbronsde stewels saam met ander items opgeveil het.

’n Egpaar van Rustenburg, Karlien en Xandré Bosse, het op Amor se Facebookblad die veiling raakgesien en daar en dan besluit om die stewels te koop.

“Ons het die stewels gesien en besef dit moet iets baie spesiaal en sentimenteel wees. Ek kan nie ’n rede gee waarom ons besluit het om dit te koop nie, maar dit het reg gevoel in ons harte om dit te doen,” vertel Karlien aan Maroela Media.

“Ons wou nie ’n ophef hieroor maak nie; ons wou net doen wat reg voel.” Saam met die stewels het die egpaar bykomende items soos ’n ou Tukkies-rugbybaadjie en medalje van Joost bekom.

Karlien het Joost se broer, Pieter, se nommer in die hande gekry en hom genader en vertel dat sy die stewels graag aan die gesin wil terugbesorg. “Ek het aanvanklik vir Pieter gesê dat hy die stewels self kan gaan haal, maar hy het aangedring dat óns dit eerder aan sy ouers moet oorhandig.”

Die oorhandiging van die stewels aan Joost se ouers. Die Bosse-egpaar (links) en Joost se ouers (regs) (Foto: Verskaf)

Pieter sê weens die Bosse-egpaar se spesiale gebaar het hy gevoel hulle moet self die stewels aan sy ouers, Gustav en Mariana, oorhandig.

Die egpaar is toe Woensdag na Joost se ouerhuis in Montana, noord van Pretoria, om die stewels, baadjie en medalje te oorhandig.

“My ouers was heeltemal uit die veld geslaan. My ma was baie emosioneel en die trane het oor haar wange geloop,” vertel Pieter. “My ma het in haar hart daarmee vrede probeer maak dat sy nie weer die stewels gaan sien nie.”

Pieter vertel sy ma se lewe draai om haar kinders en kleinkinders. “Sy sal enigiets vir ons doen.”

Mariana het ’n kamer vol van Joost se ou besittings, soos sy heel eerste en laaste springboktrui wat hy ooit gedra het.

Pieter sê hulle is baie dankbaar vir die Bosse-egpaar se onbaatsugtige omgeeharte.

“Engele op aarde is ’n werklikheid, en dit kom in die vorm van mense met ’n hart vol omgee, ’n hart wat seer en verlies verstaan en ’n hart wat uitreik na ander. Soms is dit mense wat jy nog nooit voorheen ontmoet het nie, maar dan ’n warmte uitstraal asof hulle al ’n leeftyd met jou ’n pad stap. Dit is mense soos Karlien en Xandré.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Annakapat ·

Wonder of Amore nie dink haar kinders sou hul pa se rugby besittings wou hê nie?
Hoop maar sy het dit eers met hulle bespreek.

Estelle ·

Wat ‘n ongelooflike gebaar gedurende hierdie tyd. Sommer trane in my hart en oë.

Chris dupreez ·

Dit is baie mooi gebaar van julle, mag julle geseen word.

Alta Alleman ·

Hoe hartseer. As ek Amor was dan het ek dit nooit verkoop nie maar direk aan Joost se ouers gegee.

Anoniem ·

Ek stem saam met Pieter. Daar is baie engele daar buite met harte vol van liefde. Ek glo ook daar mense is wat graag hul liefde aan ander wil gee maar die muur tussenin is net te hoog.

Cornelia ·

Dit is lief en dierbaar van die Bosse egpaar om dit te doen, ja daar is Engele hier op aarde wat opreg omgee vir ander mense. Dankie vir julle mooi gebaar, geseënd is julle .

Lynette ·

So mooi gebaar! Wonderlik om te sien daar is nog mense met harte van goud

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.