Jooste dalk gedagvaar om voor LP’s te verskyn

Markus Jooste. Foto: Steinhoff International

LP’s het Woensdag besluit om dadelik die bal aan die rol te sit om Markus Jooste, die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, te dagvaar om voor die parlementêre komitees te verskyn wat rekeningkundige onreëlmatighede by die maatskappy ondersoek.

Yunus Carrim, voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, het bevestig die besluit is geneem om Jooste te dagvaar. “Die kwessie van hoe dit gedoen sal word en presies wanneer, sal tussen die parlement se regspan en die Speaker se kantoor besluit word,” het Carrim gesê.

“Hulle sal moet kyk na die parlement se reg om enige persoon te roep om voor hulle te verskyn, of dit deur ʼn dagvaarding in openbare belang is en of die persoon wat van ʼn oortreding beskuldig word die reg het tot verdediging voor enige regulatoriese of ondersoekliggaam wat ook die saak ondersoek, insluitend die Valke.”

Dit kom nadat Jooste vroeër, by woorde van ʼn brief van sy prokureurs, gesê het hy sal nie Woensdag voor die staande komitee oor finansies, die staande komitee oor openbare rekeninge, die portefeuljekomitee oor openbare administrasie en die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid verskyn om sy rol in die rekeningkundige skandaal te verduidelik nie.

Volgens die brief is dit “waarskynlik” dat Jooste strafregtelik vervolg gaan word en sal sy verskyning voor die komitees dus sy reg op ʼn regverdige verhoor ondermyn.

Carrim het gesê hy is van mening dit is moontlik om ʼn balans te vind tussen die reg van LP’s om hul oorsigrol te vervul en die regte van ʼn beskuldigde persoon.

Ben la Grange, Steinhoff se voormalige finansiële hoof, het ook nie voor die komitees verskyn nie. Sy prokureurs het kort kennisgewing as rede aangevoer.

Carrim het gesê La Grange sal tien dae “blaaskans” gegee word om te besluit of hy middel Augustus voor die komitee gaan verskyn. “Maar as ons nie iets van hom hoor of hy laat weet hy gaan nie kom nie, sal ons oorweeg om aansoek vir ʼn dagvaarding te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

thinus ·

Dit is tyd dat die ” vet katte ” ook vasgevat word vir die skelmstreke en groot salarisse en bonusse wat hul uit besighede en instansies tap. Dit terwyl hulle duidelik weet dit is onregverdig teenoor die werkers en selfs die finansiele toekoms van die organisasie.
Hy het lekker geleef terwyl baie beleggers geld verloor het – hy behoort nou saam te verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.