Jopie Koen: ’n Hart vir kultuur in die stad

Die Pierneef-teater is ‘n juweel van die Moot en Pretoria-omgewing. (Foto: Verskaf)

In die hart van Pretoria se Moot-gebied word kultuur in vele vorme by die Pierneefteater uitgeleef. Die lewensaar van dié polsende teater is ʼn vrou. Háár hart klop al vir meer as twee dekades pure kuns en kultuur – van toneelspel en musiek tot digkuns en kinderteater. Sy bied aan kunstenaars die geleentheid om hul talente ten toon te stel, en aan die gemeenskap ʼn kans om hulle daarin te verlustig en verryk weg te stap.

Sy is Jopie Koen.

Op die skoolterrein van die Rietondale High School, vroeër die Hoërskool Hendrik Verwoerd, vind jy die Pierneefteater. ʼn Eenvoudige, onpretensieuse gebou, vol foto’s en herinneringe van kunstenaars wat oor die jare heen daar opgetree het. Jopie is nie kieskeurig nie. Sy gee aan elkeen wat aanklop ʼn kans om die kollig te ervaar – van plaaslike dansskole tot divas soos Amanda Strydom.

’n Mens sou dink sy was self ʼn kunstenaar of vir die vermaaklikheidsbedryf opgelei, maar haar teaterpaadjie het anders gekronkel.

Van plaaskind tot teatereienaar

Mathys Roets saam met Jopie Koen. (Foto: Verskaf)

As plaaskind van Frankfort se kontrei het sy by die bure se plaasskool leer lees en skryf. “Ons was presies sewe kinders in die plaasskool. Dit was net een vertrek en daar was een juffrou wat vir almal gelyk skoolgehou het. Japie, my ponie, het my skool toe gevat, of ek het fiets getrap. Dit was ʼn wonderlike ervaring wat ek nooit sal vergeet nie,” onthou sy.

Toe die plaasskool sluit – of val, soos die plaasmense altyd gepraat het – moes sy na die dorpskool op Frankfort gaan. Na skool het sy BA Tale by Tuks gaan swot, met volkekunde (vandag antropologie) as stopvak. Uiteindelik het dit haar hoofstudierigting geword en het sy ook daarin haar meestersgraad verwerf. Daarna het sy haar brood en botter by die Nasionale Intelligensiediens verdien. Hier het sy vir 13 jaar gewerk voor ander horisonne gewink het.

Juis in Kerstyd, soos nou, het sy die kunstenaars Carel Trichardt en Petru Wessels se eerste opvoering van Kersklanke by die Maskerteater in Pretoria bygewoon. Sy was in vervoering.

“Dit was vir my so ongelooflik mooi dat ek dit jaar na jaar weer bygewoon het. Daar was altyd gemmerbier en soetkoekies by die opvoering te ete en drinke. Toe die gemmerbier-vrou kennis gee dat sy nie meer kan kom nie, het ek dadelik aangebied om haar werkie oor te neem, al het ek nog nooit vantevore gemmerbier gemaak nie. So het ek eers vrywillig, vir die lekker, en later permanent by Kersklanke en nog later by Carel en Petru se Die Teaterhuisie betrokke geraak,” vertel sy. “Niks wat ek van teater weet, het ek nié by Carel en Petru geleer nie.”

Toe Die Teaterhuisie in 2002 sy deure sluit omdat die omgewing soveel verander het, het haar vriend Fanus Pienaar die saadjie by haar geplant om ʼn ander teater oop te maak. Hy was adjunkhoof by Hoërskool Hendrik Verwoerd en het voorgestel dat sy een van die drie leë sale wat op die skoolterrein staan as teater inrig.

So gesê, so gedaan. “Voordat ek die saak nog mooi oordink het, het dit gebeur. Met sy boor en skroewe het Fanus in November 2002 aan die werk gespring om ʼn ou staalwerksentrum in ʼn verhoog en konsertsaal te omskep, en in Maart 2003 was ons eerste opvoering. Ons het die oggend ʼn kinderteaterstuk aangebied, en Mathys Roets het die aand opgetree. Mathys tree sedertdien elke jaar in Maart hier op, om ons verjaarsdag te vier.”

Gefokus op gemeenskap

Jopie is gemeenskapsgerig. In Januarie elke jaar bied die teater platsak-konserte teen laer tariewe aan, sodat die teater toeganklik bly en die kunstenaars nog kan optree. Nuwe kunstenaars kom klop dikwels eerste by die Pierneefteater aan om hul produksies te toets. Jopie glo dis vir hulle ʼn veilige spasie, en meer bekostigbaar as ander teaters. As dit by die Pierneefteater werk, vat hulle dit dikwels ook na ander teaters. Kinderteater is ook vir haar baie belangrik, omdat dit ʼn grondslag lê waarop kinders allerhande vaardighede kan ontwikkel.

Vriend Fanie Marais van die Cordis Trust steun die teater nog al die jare – óf finansieel, of met raad. “Danksy die Cordis Trust kan ons elke jaar vir ʼn week lank die verhoog vir mense met gestremdhede oopstel en aan hulle ʼn platform bied om hul talente ten toon te stel,” vertel Jopie.

Jopie Koen saam met Carel Trichardt en Petru Wessels tydens die viering van die Pierneefteater se 10de bestaansjaar. (Foto: Verskaf)

Dié inisiatief heet Ten spyte van en dit lê haar baie na aan die hart. Sy vertel hoe sy oor die jare heen met hierdie week se optredes kon sien hoe mense se oë oopgaan as hulle die gestremdes se optredes bywoon.

“Almal behoort so ʼn aand by te woon. Hier sien jy hoe mense bo groot struikelblokke uitstyg; dis werklik ʼn lewensles. Die Cordis Trust het ook al party van dié kunstenaars in staat gestel om CD’s op te neem en boeke te laat druk. Die optredes maak werklik ʼn verskil in die gestremdes se lewens, én in die wat hul optredes sien.”

Sy lees weer ʼn briefie waarin ʼn gestremde dogtertjie se mamma haar vir die geleentheid bedank wat haar kind gegun is om die verhoog te bestyg. Die trane lê vlak. “Beste Jopie,” lees sy die brief, “baie dankie vir alles wat julle doen vir ons kinders en mense in ons land wat ‘anders in staat’ is. Dit was vir Nadia ʼn hoogtepunt en julle sal nie weet wat dit vir haar beteken het nie. Sy werk baie hard aan haar selfbeeld en om haar drome te verwesenlik.”

Dóén vir jou behoud

Sandra Prinsloo met ‘n vertoning in 2010 by die Pierneefteater. (Foto: Verskaf)

Jopie put lewensvreugde uit die klein dingetjies. “Ek het nooit groot drome gehad nie, nooit gedink ek sou ʼn teater bedryf nie, maar om dit op ʼn daaglikse basis te doen – sélf te laat werk – is baie bevredigend en bevrydend.”

Om besig te bly en dinge prakties te doen, is haar behoud in hierdie onsekere tye waarin Covid-19 ons gedompel het. “Hoe bly ʼn mens positief? Met gebed. As jy moedeloos raak, onthou dat die Here groter as hierdie virus is. Hoewel ek nogal oor dinge kan tob, is dit my behoud – doen wat jy kan, gaan aan. Ek maak die teater skoon, reël optredes, volg die alledaagse patroon. En ek dig om ʼn uitlaatklep vir my emosies te vind.”

Saam met haar teaterfamilie is haar bloedfamilie ook vir haar baie belangrik: haar tannies, ooms, twee jonger broers en suster, en haar suster se kinders. Haar liefde vir musiek en taal het sy by haar ouers gekry – haar pa is reeds oorlede. “My ma is al in haar tagtigs, maar sy ondersteun my nog daagliks. Sy help my dikwels om die teater skoon te maak en het al die gordyne wat daar hang gemaak – dit was ʼn reusetaak!”

Sy is onlangs met die ATKV-tak Aksie & Woordvreugde se Afrikoon-toekenning vereer, vir haar buitengewone bydrae tot die gemeenskap en vermaaklikheidsbedryf. Die mense van die omgewing eien haar en haar teater met trots as hul eie en daar is teatergangers wat só gereeld daar opdaag, dat hulle naderhand vriende word. Hulle vorm deel van die hartklop, die suurstof in die teater se kultuurare.

“Die Pierneefteater sal jou verwelkom vir solank as wat ek toegelaat word om aan te gaan en om mense konserte te laat bywoon,” bevestig sy met ʼn glimlag.

Jopie het ʼn paar gedigte oor die Covid-19-virus geskryf:

kleur
daar lê duister donker
oor die wêreld
vasgevang in vrees
vir ’n virus

maar die sonneblom ken steeds net geel
die lug blou blouer blouste
en die wolke suiwerwit

jopie koen
11/4/20

Die Pierneefteater is tuiste van talle kunsvorme. (Foto: Verskaf)

Here

U het ons gemaak
U ken ons vrees
ons angstigheid
ons kommer
ons skrik
oor hierdie groot onbekendheid

maar U het ook die virus gemaak
en U is groter as enige virus
van gister vandag môre

help ons Here
om daaraan vas te hou
vir vandag en tot by môre

jopie
21/3/20

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.