Jordaan breek sy stilte oor verkragtingbewerings

Danny Jordaan. Foto: GCIS

Danny Jordaan, sokkerbaas en voormalige burgemeester, het Woensdag uiteindelik reageer op die verkragtingbewerings wat deur voormalige ANC-LP Jennifer Ferguson teen hom gemaak is.

Tot nou toe het Jordaan niks gesê nie oor die bewerings wat verlede maand aan die lig gekom het toe Ferguson die uitsprake op Facebook gemaak het en dit later op Talk Radio 702 herhaal het.

Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, Jordaan se regsverteenwoordiger, het gesê haar kliënt se oënskynlike stilswye in die lig van sulke ernstige bewerings was weens sy “empatie met die slagoffers” van geslagsgebaseerde geweld.

“In die lig van die vlaag geslagsgebaseerde geweld in die land en dr. Jordaan se sensitiwiteit teenoor hierdie kwessie, moes hy sy openbare reaksie versigtig oorweeg oor die bewerings wat deur me. Ferguson gemaak is.”

Mohlala-Mulaudzi het gesê Jordaan het egter besluit om, na versigtige oorweging, sy onskuld te verdedig. “Hoewel dr. Jordaan openbare debat ondersteun as ʼn noodsaaklike instrument om die kwessie van geslagsgebaseerde geweld te beklemtoon, is daar in hierdie geval twee teenstrydige weergawes wat nie in die media of enige ander plek as ʼn hof opgelos kan word nie,” lui die verklaring.

“ʼn Bemiddelingsproses soos deur me. Ferguson voorgestel is, bied die risiko dat die publiek dit sal sien as ʼn toesmeerdery weg van die publieke oog, en dat dit sal blyk dat daar een wet vir die magtige en ʼn ander wet vir die massas is.

“As sy regsverteenwoordigers het ons dr. Jordaan daarom aangeraai dat hy nie in ʼn openbare debat betrokke moet raak oor die bewerings wat teen hom gemaak is nie. Uit ʼn regsoogpunt kan ernstige bewerings soos wat deur me. Ferguson gemaak is net in ʼn hof bespreek word, waar die regte van al die betrokke partye beskerm is.”

Ferguson beweer die sportbaas het haar 24 jaar gelede in ʼn hotel in Port Elizabeth verkrag. Sy het by die sosialemediaveldtog #MeToo aangesluit, wat vroue aanmoedig om hul ervarings te deel en hul stem dik te maak teen verkragting en seksuele aanranding.

Gedurende die radioprogram op Radio 702 Dinsdagaand, het dit aan die lig gekom dat twee ander anonieme vroue ook die sportadministrateur van seksueel onvanpaste gedrag beskuldig. Jordaan se regsverteenwoordiger, wat ingebel het na die radiostasie, wou nie op die nuwe bewerings kommentaar lewer nie omdat dit deur “gesiglose” individue gemaak is.

Ferguson het gesê daar is duidelik geen poging van Jordaan se kant af om die saak te bemiddel nie en sy oorweeg om regstappe te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Justice ·

Die eerste keer in my lewe dat ek Jordaan op `n foto nie met `n stoppelbaard sien.

Kabous ·

Die rede hoekom hy tot nou gewag het is kinderagtig.
Hy het die verkeerde regspan as dit hulle beste verduideliking is.3

Piet Pompies ·

‘n Onskuldige person sal in die openbaar verklaar dat hy bewus is van die aanklagte teen hom en dat hy sy volle samewerking sal gee met die ondersoek.
Om agter verskonings weg te kruip is ‘n bewys van skuld.

Mielie ·

Wat se die ANC en die rooispan nou? Niks nie……wonder hoekom hulle so stil is..

lana ·

dis altyd sulke lelike dik ou mans wat van seksuele teistering aangekla word. jonk, aantreklik is nooit skuldig nie. laat my nogal wonder…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.