Jordaan se regsverteenwoordigers soek inligting

Danny Jordaan (Foto: safa.net via ANA)

Die sokkerbaas Danny Jordaan se regsverteenwoordigers gaan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nader om die saak van verkragting wat teen hom aanhangig gemaak is so gou moontlik te laat aanhoor.

Jordaan se regsverteenwoordigers het in ʼn verklaring gesê dit is al amper ʼn maand gelede dat hulle deur die media verneem het Jennifer Ferguson, sangeres en voormalige ANC-LP, het ʼn klag van verkragting teen Jordaan aanhangig gemaak.

“Ondanks verskeie pogings om met die owerhede in verbinding te tree, waaronder twee briewe aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens, kon ons nog geen inligting kry oor waar die dossier is nie. Die gebrek aan inligting is skadelik vir ons kliënt,” lui die verklaring.

Volgens Jordaan se regsverteenwoordigers het hulle ook met die ondersoekbeampte in die saak probeer kontak maak en sal hulle nou tot die NVG wend in ʼn poging om die saak so gou moontlik aan te raak.

“Ons benadruk dat Ferguson se bewerings absoluut ongegrond en onwaar is en dat haar ware motiewe erg verdag is.”

Ferguson wat nou in Swede woon, beweer die sportbaas het haar 24 jaar gelede in ʼn hotel in Port Elizabeth verkrag. Sy het haar by die sosialemediaveldtog #MeToo aangesluit, wat vroue aanmoedig om hul ervarings te deel en hul stem dik te maak teen verkragting en seksuele aanranding.

Jennifer Ferguson (Foto: Facebook)

Ferguson het destyds gesê daar is duidelik geen poging van Jordaan se kant af om die saak te bemiddel nie en sy oorweeg regstappe. Sy het verlede maand ʼn klag van verkragting teen Jordaan aanhangig gemaak by die Parkview-polisiestasie in Johannesburg. Die saak is toe glo na Port Elizabeth oorgeplaas.

Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het ook verlede maand aangekondig dat sy nasionale uitvoerende komitee Jordaan sal ondersteun te midde van bewerings van verkragting teen hom.

Safa het gesê Jordaan is onskuldig totdat hy skuldig bevind word. Jordaan, voormalige burgemeester van Nelson Mandelabaai, het die voorval ontken en hou vol hy is onskuldig. Hy het verlede jaar Ferguson se aanbod vir bemiddeling tussen die twee van die hand gewys omdat hy gevoel het die publiek sal dit as ʼn toesmeerdery beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christa ·

kan nie dink mense wag jare om iemand anders te laat vervolg nie. Hoekom dit nie maar los as jy nie dit daardie tyd nie ‘n saak wil maak nie. Of wil sy haar naam ook nou in die nuus he

Presies ·

Christa, presies my denke ook. Klag kom maak en dan gerieflik weer terug toer oorsee. Ek hoop indien mnr Jordaan werklik onskuldig is, sal hy nie stop totdat sy onder n boom moet skuiling soek snags nie. Tyd mense besef ongeag, enige persoon se naam is onherstelbaar na skade soos die.. wat het sy om te verloor? Niks, wat het mnr Jordaan om te verloor? Aansienlik meer as sy. En dis duidelik sy is kwaad omdat hy nie wou skik nie.. seker gedink sy gaan gou n paar miljoen kry. Onaangename vrou elkgeval hoop die skuldige hier ry aan die pen.

Duncan ·

Danny is in dieselfde bootjie as wat onlangs met Bob Hewitt gebeur het. Die verskeie jong tennis meisies het na etlike jare tevore gekom met hul smart en eer wat gekrenk is met verkragting wat ook destyds afgemaak is as leuens. In die hofsaak/appelsaak van Bob Hewitt is hy skuldig bevind en tronk toe gestuur. Danny, Jennifer het `n sterk saak en Danny jou dag sal binnekort in die hof aanbreek nes jou ANC korrupte leier JZ wat ook skuldig is aan bedrog/geldwassey. Danny en JZ, die tronk is julle voorland op julle oudag en geniet dit – geen simpatie met julle twee nie.
Verbeel jou die ANC kaders ondersteun twee misdadigers – wys jou net hoe laag het SA gedaal met geen morele waardes meer nie.

SjN ·

Na soveel jare, hoekom nou eers die voorval rapporteer. hoop geregtigheid geskied en indien dit so was, sal dan safa, wat jou ondersteun, se kommentaar wil hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.