Jordan loop, praat weer ná gru-ongeluk

Die 16-jarige Jordan Marais (Foto: Verskaf)

Jordan Marais (16), die enigste oorlewende van ’n gru-ongeluk wat die lewe van sy ouers en broer geëis het, is Donderdag ná byna drie maande uit die hospitaal ontslaan. Jordan het erge breinskade tydens die ongeluk opgedoen en moes van voor af leer praat en loop. Hy sukkel ook nog met sy geheue.

Christa (45) en Ian Greyling (52) en hul seun, Jacques Marais (15), het op 10 Januarie in ’n ongeluk op die N3 by Harrismith omgekom. Jordan en sy ouboet, Donovan Delport (22), is die enigste oorblywende lede van dié gesin van Pretoria-Noord.

Die gesin was die betrokke Sondagaand saam met hul boesemvriende, Willie (44) en Zelde (41) Snyman en hul dogter Lize (15), in ʼn bussie van Uvongo, waar hulle vakansie gehou het, op pad terug huis toe.

Die bussie waarin die gesinne gery het, Willie se Prado en ’n vragmotor was in die ongeluk betrokke.

Almal behalwe Jordan het in die ongeluk gesterf. Donovan was nie in die ongeluk betrokke nie nadat hy vroeër vertrek het omdat hy moes terugkeer werk toe.

Jordan het ernstige brein- en ander beserings opgedoen en is ná die ongeluk na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gejaag. Hy het drie weke lank behandeling ondergaan voordat hy op 2 Februarie na die Mediclinic Muelmed in Pretoria se neurologiese rehabilitasie-eenheid oorgeplaas is.

Daar het hy fisio-, spraak- en arbeidsterapie ontvang.

Jordan kon lank nie praat nie en het onlangs weer geleer loop. Deesdae praat hy weer, soms nog deurmekaar, en soms vergeet hy sy woorde.

Kort na die ongeluk is Jordan geopereer om die bloeding en swelling op sy brein te verlig. Hy het ook ’n operasie ondergaan waartydens sy kakebeen, asook sy regterbobeen geheg is. Weens die skedelfraktuur wat hy opgedoen het, moet hy later vanjaar rekonstruktiewe chirurgie ondergaan om ’n gedeelte van die skedel te herbou.

“Sy bobeen is byna vergruis. Die dokters het dit weer geheg, maar hy loop nou mank. Die dokter sê hy sal sowat 18 maande vat om te herstel,” sê Suzette Schoeman (65), Jordan se ouma by wie hy nou in Pretoria woon.

Schoeman het elke dag vir Jordan in die rehabilitasiesentrum gaan kuier.

Van links: Jacques, Ian, Christa, Jordan en Donovan (Foto: Verskaf)

Sy sê Jordan ly aan korttermyngeheueverlies weens die breinskade wat hy opgedoen het.

“Die dokters kan nog nie bepaal wat die omvang van die breinskade is nie, maar glo dit sal sowat twee jaar neem om te herstel.”

Weens die geheueverlies kan Jordan ook nie die ongeluk behoorlik onthou nie.

“Ons het hom van die ongeluk vertel en dan sou hy etlike minute daarna vra dat ons sy ma moet bel. Elke keer moet ons vir hom verduidelik dat sy ma-hulle nou by liewe Jesus is. Hy het herhaaldelik dieselfde trauma herleef. Die sielkundige het ons daarna aangeraai om nie meer met hom daaroor te praat nie omdat dit elke keer opnuut traumaties vir hom is.”

Daar is egter niks fout met Jordan se langtermyngeheue nie.

Schoeman sê hy besef nou dat sy ma, stiefpa en broer dood is en nie gaan terugkom nie.

“Party dae is beter as ander. Daar is dae wat hy verskriklik na sy ma-hulle verlang.”

Schoeman sê hoewel sy self ʼn kind verloor het, moet sy om Jordan se onthalwe sterk bly.

“Ek kry ook my afdae. Ek huil myself aan die slaap. Ek verlang my dogter, maar ek moet my kop hoog hou. Jordan het gister vir my gesê: ‘Toemaar ouma, ouma is sterk. Ons kan hierdie hanteer.’

“Dit is sleg as iemand soos hy na jou opkyk en jy voel self verpletterd. Ek glo wel die Here sal nie vir my ’n kruis gee wat ek nie kan dra nie. Daarom vat ek elke dag soos dit kom. Ons beplan nie te ver vooruit nie en probeer ook nie die verlede met ons saamsleep nie.”

Jordan is in Único Akademie, ʼn private skool in Pretoria, maar sal weens sy breinbeserings nie vanjaar al terugkeer skool toe nie.

Ouboet Donovan bly in ’n woonstel in Pretoria en ontvang berading.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jakes ·

Jordan en sy broer en ouma ons innige simpatie met julle en ons bid vir berusting vir julle.

Anthony ·

Arme kind, om elke keer te vra “bel my ma” net om WEER te hoor hulle is dood….aaklig

Excalibur ·

Ouma Suzette, Ouboet Donovan en SUPERMAN Jordan; geen menslike woorde kan die pyn van die hart se verlange & liefde stil nie maar slegs Jesus Liefde. Onthou, Jesus het die dood al lankal oorwin en ons aardse lewe is slegs ‘n oogwink van die ewige lewensbelofte van God vir Sy kinders, Ons/Julle. Jul geliefdes het jul vooruitgegaan want in God se plan sal jul triomfeer as engel helde. Jordan, Donovan dit is nie hoe ‘n mens soos Job val nie MAAR hoe hy in sy geloof bly vasklou en weer opstaan in die heerlikheid van die Allerhoogste wanneer jul weer met jul geliefdes sal herenig in die Koninkryk!

PersHeks ·

Ek is vreeslik jammer!! Julle is in my hart en gedagtes!!

Dana ·

Ai dis so hartseer. My hart gaan uit na Jordan, Donovan en hul ouma. Wat ‘n tragedie.

Mariaan ·

Ag nee ek verstaan niedie goed nie…hoekom? Wat kan tog die doel v so n tragedie wees?? Sterkte vir hierdie ouma…en 2 seuns…dis so hartseer

Yolandie ·

Sterkte Jordan, jy het reeds soveel oorkom. Ek is vol vertroue dat jy sterkre anderkant sal uitkom. Jammer vir die verlies van al jou geliefdes. Mag die Here vir jou vertroosting bied en krag gee in die tyd.

Casper ·

Dit is so ontsettend hartseer.Hy sal een of ander tyd sy geheue herwin en daai oomblik van die ongeluk oor en oor beleef.Dit en sy ouers se dood sal altyd by hom bly.Ek bid dat tyd berusting sal bring.

Mieke ·

Jordan, Donovan en ouma – alle familielede – Ek is so jammer om te hoor van julle hartseer verliese. Mag ons Vader God julle troos en in Sy groot liefde omvou. Mag julle in die toekoms weer vrede en vreugde in julle harte ervaar. Ek bid vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.