Jordan veg dapper voort: Hoërisiko-chemoterapie amper verby

IMG_1513

Jordan en sy ma Yolandi. Foto’s: Phillip Bruwer

Jordan Pelser (4) ondergaan oor twee weke sy laaste ronde hoërisiko-chemoterapie, waarna ʼn lang pad nog voorlê in die stryd teen sy skaars, maar uiters aggressiewe kanker.

Jordan is in Maart vanjaar met Burkitt-leukemie gediagnoseer. Dit veroorsaak dat te veel witbloedselle in die bloed en beenmurg vorm. Hy is sedertdien in en uit die Unitas-hospitaal in Centurion om chemoterapie, bloed- en bloedplaatjie-oorplasings te ontvang.

“Daar is ʼn 50% kans dat sy kanker ná die hoërisiko-chemoterapie kan terugkeer, en as dit die geval is gaan hy ʼn beenmurgoorplanting benodig,” het Jordan se ma, Yolandi, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Yolandi en Jordan se trust, Jordan’s Brave Journey, moedig Suid-Afrikaners aan om as beenmurgskenkers te registreer. “Chris, Jordan se boetie, se beenmurg is reeds getoets, maar is nie geskik vir Jordan nie. Omdat sy kanker kan terugkeer terwyl hy vir die volgende twee jaar instandhoudingschemoterapie ontvang, wil ons vir die wis en die onwis nou al ʼn geskikte beenmurgskenker soek,” het sy bygevoeg.

“Dit is glad nie moeilik of pynvol om jou beenmurg te registreer of te skenk nie. Dit is basies soos bloedskenk. Beenmurg van geskikte skenkers kan van ʼn persoon se bloed versamel word. Daar word nie lumbale punksies gedoen nie,” het Yolandi verduidelik.

Sy het gesê selfs al keer Jordan se kanker nie terug nie, is daar steeds talle kinders in Suid-Afrika wat beenmurgoorplantings benodig. Twee van dié kinders, waaronder ʼn 15 maande oue baba, word by die Unitas-hospitaal behandel. “Almal kan deur beenmurgskenkings ʼn kind se lewe red.”

Klik hier om ʼn beenmurgskenker te word. 

Jordan se trust het op 13 September ʼn bloedskenkgeleentheid gehou as deel van ʼn bewusmakingsveldtog vir kinders met kanker.

Nagenoeg 50 mense het tydens die geleentheid bloed- en bloedplaatjieskenkings gedoen. Die sanger Jay en Mnr. Suid-Afrika John Owens, was ʼn paar van die bekendes wat die dag ondersteun het en bloed geskenk, of hul hare vir kankerlyers gekleur het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Dit is wonderlike nuus julle…ons is familie en is sommer baie bly oor die goeie nuus…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.