Die Suid-Afrikaner wat by ʼn polisieopleidingsentrum in Jordanië doodgeskiet is, was verloof.
Hy is geïdentifiseer as Conrad Vaughn Whitehorn (37) van Johannesburg.
Volgens DynCorp International (DI), die Amerikaanse veiligheidsmaatskappy waarvoor Whitehorn gewerk het, het Whitehorn as ‘n statiese sekuriteitsbeampte, beskermingsbeampte en veiligheidsbestuurder vir ‘n aantal maatskappye gewerk voordat hy by hul maatskappy aangesluit het. Whitehorn word oorleef deur sy ouers en verloofde.
ʼn Jordaniese veiligheidsbeampte het glo Maandag op sy kollegas by die polisieopleidingsentrum losgebrand en in die proses vyf mense doodgeskiet. Twee van die oorledenes, Amerikaners, het ook vir DynCorp International gewerk. Een van hulle is as Lloyd Carl Fields (46) van Florida geïdentifiseer. Hy word oorleef deur sy vrou en drie kinders. Die ander werknemer se naam is nie bekend gemaak nie.
Die ander oorledenes was Jordaniërs. Ses mense is tydens die skietvoorval gewond. Die skieter is tydens die voorval deur veiligheidsmagte doodgeskiet. Dit is nog nie duidelik wat tot die skietery gelei het nie.
“Ons kollegas het hul lewens opgeoffer om te werk aan ʼn program wat ten doel het om ʼn positiewe invloed op noodsaaklike veiligheidsdoelwitte in hierdie uiters belangrike streek te hê,” het Lou Von Thaer, uitvoerende hoof van DynCorp International, gesê. “Ons gedagtes en gebede is met hul families, vriende en kollegas in hierdie moeilike tyd.”