Joslin Smith-saak: Oproerigheid by hof veroordeel

(Foto: SAPD)

Die polisie het skokgranate en traanrook op woedende inwoners afgevuur wat Woensdag buite die landdroshof op Vredenburg betoog het.

Talle gemeenskapslede het buite die hof opgeruk waar Joslin Smith se ma, Racquel (Kelly) Smith, en haar drie medebeskuldigdes, kêrel Jacquen (Boeta) Appollis, Steveno Duwayne en Phumza Sigaqa verskyn het.

Klagte is intussen teen Sigaqa, wat aanvanklik daarvan verdink is dat sy ’n sangoma is en ’n aandeel in Joslin se verdwyning gehad het, teruggetrek. Die ander beskuldigdes het besluit om nie in dié stadium om borgtog aansoek te doen nie.

(Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het gesê indien die beskuldigdes later van plan verander en om borgtog wil aansoek doen, sal die staat dit teenstaan. “Die ondersoek duur voort en nog aanklagte en nog persone kan later tot die saak gevoeg word.”

Gemeenskapslede het buite die hof met polisielede slaags geraak nadat ’n lid van die Patriotic Alliance toegang tot die hofverrigtinge geweier is. Hakiesdraad is in die straat voor die hof gespan om gemeenskapslede te verhoed om die hof met geweld binne te gaan.

(Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Reagen Allen, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, het ook die hofverrigtinge bygewoon en gesê gemeenskapslede se woede is verstaanbaar. “Dit moet egter nooit tot geweld lei nie.” Volgens Allen is ’n vrouepolisiebeampte tydens die oproer buite die hof beseer.

Kaapse Forum het die oproerigheid buite die hof ten sterkste veroordeel. Lede het die verrigtinge bygewoon omdat dié burgerregteorganisasie saam met die gemeenskap teen borgtog vir die aangeklaagdes gekant is.

(Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Meer as 1 500 mense het binne enkele dae dié organisasie se aanlyn petisie onderteken waarin lede van die publiek hul teenkanting teen die toestaan van borgtog vir die beskuldigdes kan laat hoor.

Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, was teenwoordig en het ook onder die traangas deurgeloop. Volgens Wyngaard neem die betogers se optrede en die rede waarom hulle oproerig geraak het, die aandag weg van die feit dat die sesjarige slagoffer steeds vermis word.

“Ons wil met ons petisie verseker dat die fokus bly op ’n kind van onse gemeenskap wat verdwyn het en dat ons nog nie antwoorde daarop gevind het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Piet Snot ·

Michael, ek dink darem in hierdie geval is die ontsteltenis geregverdig.

Pampoen ·

Die polisie weet meer as wat hulle te kenne gee. Hulle weet wat van die meisie geword het, want hulle het ophou soek. As die meisie nog weg was, sou hulle die beskuldigdes intens ondervra het om haar op te spoor. Die polisie se standaard antwoord is dat hulle ruimte nodig het om die saak te ondersoek. Lyk my eerder hulle skep behae daarin om die enigstes te wees wat weet wat aangaan. Die populasie het lankal hulle vertroue in die polisie verloor.

JJB ·

Hoeveel mense is gearresteer omdat hul “verby die polisie versperring probeer beur” het?

ES ·

@Michael, mense is moeg vir misdaad en veral misdaad en geweld teen kinders. Persoonlik is dit vir my afgryslik om te dink waardeur sy moes gaan.

Ek dink as Joslin nog gelewe het sou haar ma gese het waar sy is..

Leona ·

Stemsag is naby. Tans is dit veiliger vir die beskuldiges binne. Anders is dit jungle justice tyd buite. Joslin pop, ons bid vir vrede waar jy ookal is.

Tinus ·

Politici dink altyd hulle het al die antwoorde en is altyd reg. Die meeste van hulle het geen benul wat in die land gebeur met gewone mense nie. Hierdie betogings gaan nog erger word, want kriminele is onaantasbaar en onskulige mense dra die gevolge daarvan.

karin ·

Tien uit tien vir die gemeenskap! Ons is moeg en sat vir al die leuens van politici en van die SAPS. Staan saam en staan sterk!

Cassie Carstens ·

Dis reg as die gemeenskap opstaan, maar die PA wou net die saak vir politieke gewin uitbuit en is nie nodig om in die hof te wees nie. Dan moedig hulle swak gedrag aan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.