Jou kind en Covid-19: ʼn Kenner verduidelik

(Foto: Unsplash)

Kinders word te midde van die tweede Covid-19-infeksiegolf steeds as ʼn lae risiko beskou sover dit die koronavirus betref. Tog behoort kinders bo ’n bepaalde ouderdom, net soos hul ouers, veiligheidsmaatreëls te volg om hulself teen die virus te beskerm.

Prof. Mignon McCulloch, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging en ʼn dokter by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad, sê daar is min rede tot kommer dat kinders dieselfde as volwassenes deur die tweede infeksiegolf getref word mits ouers waaksaam is.

Hoewel effens meer kinders tans positief toets vir Covid-19 moet dit teen die agtergrond van die toename in gevalle onder volwassenes gesien word.

Sy verduidelik dat kinders selde ernstig siek word of selfs doodgaan weens Covid-19 vergeleke met volwassenes.

(Foto: Unsplash)

Volgens McCulloch het verskeie kinders reeds by Rooikruis-kinderhospitaal positief getoets vir Covid-19. Die meerderheid van hierdie kinders het egter geen simptome getoon nie en is bloot vir Covid-19 getoets nadat hulle weens ander mediese redes, soos vir ’n gebreekte arm of vir chirurgie, opgeneem is.

Die hospitaal het sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie verlede jaar vier Covid-19-verwante sterftes onder kinders aangemeld. Dié kinders het egter al vier reeds aan ernstige mediese toestande gely, waaronder hartkwale en kanker.

“Kinders word geraak deur Covid-19, maar nie soos volwassenes nie.”

Hulle toon selde simptome, word bitter min in die hospitaal opgeneem en sterf nie sommer weens die virus indien hulle nie ernstige komorbiditeite het nie.

Sy gee toe dat daar tans ’n effense toename in gevalle onder kinders is, maar benadruk dit moet in verhouding met die totale getal infeksies gesien word.

“Die toename in gevalle onder kinders is beslis nie kommerwekkend nie,” verseker McCulloch.

“As jy bekommerd is oor jou kind, gaan sien ’n dokter.”

(Foto: Unsplash)

McCulloch beveel aan dat kinders van sesjarige ouderdom dieselfde riglyne as volwassenes volg om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Dit sluit in die dra van maskers, die gereelde was van hande en die handhawing van sosiale afstand van hul maats.

Sy beveel ook aan dat kinders nié in hierdie tyd by maats gaan speel nie. Kinders word wel aangemoedig om lustig buite te speel.

Wat sê die syfers?

Luidens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se jongste epidemiologiese verslag word Covid-19-gevalle in alle ouderdomsgroepe aangemeld. Die jongste ouderdomsgroep hou egter in dié stadium die laagste risiko in met 244,2 gevalle per 100 000 mense in die ouderdomsgroep 0-4 en 300,4 gevalle per 100 000 mense in die ouderdomsgroep 5-9 jaar.

Ouderdomsgroep Totale getal gevalle (% van alle gevalle) Nuwe gevalle in een week (3 tot 9 Januarie)
0-4 14 025 (1,1) 1 087 (1,0)
5-9 17 171 (1,4) 1 292 (1,2)
10-14 29 300 (2,4) 2 102 (2,0)
15-19 50 393 (4,1) 3 515 (3,3)

Die ouderdomsgroep 50 tot 54 blyk in dié stadium die hoogste risiko in te hou (4 221,2 gevalle per 100 000 persone).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

Ek het ‘n baie groot probleem met die alewige gewassery en ontsmetting. Dit gaan nou al amper’ n jaar aan en geen verskil. My probleem is dat alle goeie kimme nou ook vernietig word. Ons liggame se vermoë om te baklei teen kieme word nou weggevat. So sal geen virus bekamp kan word nie. Mens kan nie in ‘n borrel bly vir die res van jou lewe nie. Daar sal altyd kieme wees. Nou word jou liggaam ontneem van sy natuurlike vermoë om self teen virusse te baklei en so verswak jy jou imunstelsel. Hoeveel van die mense wat so ernstig siek word sê dat hulle omtrent permanent maskers dra en honderkeer op ‘n dag hulle hande ontsmet en tog is dit hulle wat siek word. Ek is net’ n gewobe mens en gebruik my logika. Ons kinders was selde siek. Eerste wat hulle almal gedoen het toe hulle kon kruip was om na die honde se bakke te gaan en hondekorrels te eet. En hulle het niks oorgekom nie. Ouers wat ons geken het, het amper die piep gekry, maar hulle kinders was omtrent altyd siek, gedurig geontsmet.

Francois Le Cochon ·

Anel, ‘n mens kan ‘n kleuter in 3 maande “potty train”, maar nou na ‘n jaar verstaan baie nog nie die dinamiek van die pandemie nie. Al die covid maatreels het ten doel om die verspreiding van die virus in te perk, nie om te verhoed dat jy die virus opdoen nie. Ons moet hande was en ‘n masker dra om verspreiding te voorkom, nie om te keer dat ons die virus opdoen nie. Jy kan 10 maskers dra en jou hande 100 keer was, as jy in aanraking met die virus kom, sal jy dit heel moontlik kry, omrede ‘n ander persoon nie die maatreels nagekom het nie, en die virus versprei. So, dra jou masker en was jou hande sodat jy nie die virus na ander versprei indien jy dalk positief is nie. As almal die maatreels nakom, eers dan sal die verspreiding van die virus afneem. Eenvoudig soos dit.

Zombie ·

Anel, ek stel voor jy lees Francois Le Cochon se antwoord ń paar keer rustig en deeglik deur, sodat jy mooi verstaan wat die doel van die voorkomingsmaatreëls is.
Die verband wat jy tussen die eet van hondekos en die pandemie probeer trek, klink maar bra onlogies.

Karel Kobus Kruger ·

Anel, as jy nie hou van die ontsmettingsmiddels by winkels nie, tap n bietjie water in n botteltjie en spuit voor die sekuriteitswag jou hande daarmee. Soms moet n mens maar kortpaaie en skelmpaaie vat om jou lewe te vergemaklik, veral wanneer die owerhede betrokke is.

Francois Le Cochon ·

Gysbert, aanhitsing om ‘n wet te oortree is volgens die Strafregwet ‘n oortreding. Wees meer versigtig.

Francois Le Cochon ·

Te oordeel aan vorige kommentaar van MM lesers se siening van die pandemie, voorspel ek dat ‘n aansienlike hoeveelheid MM lesers nie met die Professor sal saamstem nie.

Oranje-Blanja-Blou ·

Ek weet nie meer nie. Ek het nog altyd gedink ‘n epidemie is ‘n siekte wat almal siek maak en jou kanse om te oorleef is dan skraal. Maar die pandemie raak “nie kinders so ernstig nie.” Het ons te make met ‘n pandemie of met ‘n sieke wat selektief gevaarlik is? Selektiewe vryheid van spraak; selektiewe vryheid van beweging; selektiewe ekonomiese bevoordeling; ens.

Zombie ·

Daar was al ander epidemies wat kinders meer geraak het. Probeer gerus om wyer te lees. Dit kan insig bring.

Danie ·

‘n Goeie idee vir ‘n fliek.
Die wereld word na die pandemie beheer deur ryk kinders :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.