Jou regte in dié ramptoestand

Foto: Pixabay

Suid-Afrika bevind hom weliswaar tans in ʼn wêreldwye ramptoestand, maar nie in ʼn noodtoestand nie. Die verskil is omvangryk en die implikasies vir Jan Alleman verskil ook.

In wese verskil hierdie situasies in die mate wat grondwetlike regte ingeperk word. In die geval van die bestaande ramptoestand bly grondwetlike regte steeds geld, hoewel dit ingeperk word.

Prokureur Péter Wassenaar sê ʼn noodtoestand word aangekondig in die geval van oorlog of openbare onluste.

“Onder sulke omstandighede mag die president vir ʼn beperkte tydperk die publiek se grondwetlike regte, met die uitsondering van sekere regte soos die reg op menswaardigheid en lewe, inperk. Só ʼn besluit moet egter eers deur die parlement goedgekeur word.”

Die huidige Covid-19-regulasies val egter onder die Wet op Rampbestuur (57 van 2002) en word deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake bestuur. Die Rampbestuurswet skort nie grondwetlike regte op nie, maar die minister kan sekere noodmaatreëls deur middel van regulasie uitvaardig. Sy bevoegdhede is egter nie naastenby so wyd soos in die geval van ʼn nasionale noodtoestand nie.

Persvryheid is byvoorbeeld ʼn baie besonderse reg wat deur die Grondwet beskerm word en dit loop hand aan hand met vryheid van uitdrukking en die publiek se reg tot toegang tot inligting.

Tog word dit wat ons mag sê en die inligting wat ons ontvang, tans gereguleer in wat die regering beskryf as ʼn poging om die verspreiding van valse inligting te voorkom en paniek te beperk.

(Foto: Brian Inganga/AP)

Wat mag ek sê?

Een van die regulasies wat uitgevaardig is, maak die opsetlike verspreiding van valse inligting ten opsigte van die Covid-19 virus, die status van ʼn persoon wat deur Covid-19 besmet is en die staat se pogings om die Covid-19-virus te bekamp, ʼn misdryf wat strafbaar is met ʼn boete en/of 6 maande tronkstraf.

Daniel du Plessis van Sakeliga verduidelik dat dit vir Jan Alleman in wese beteken dat dit belangrik is om versigtig te wees wanneer opmerkings in die openbaar gepubliseer word – of dit nou op sosiale media is, of persoonlik. Hierdie bepalings sluit in, onder meer, dat dit onwettig is om opsetlik enige misleidende inligting te kommunikeer oor Covid-19, enige stappe wat deur die regering geneem is om die Covid-19-pandemie hok te slaan, of oor die Covid-19-status van enige persoon.

“Dit is baie belangrik om te let op die feit dat opsetlikheid een van die kernvereistes van so ʼn misdryf is en daarom is dit waarskynlik nie ʼn misdaad om enige inligting te publiseer wat jy wel glo akkuraat is nie. Ondanks hierdie feit, is dit egter steeds belangrik om seker van jou saak te wees, omdat hierdie verweer eers op ʼn latere stadium geopper kan word,” sê hy.

Ongelukkig is dit baie moeilik vir selfs regslui om by te hou met die hoeveelheid regulasies en direktiewe wat deur die verskeie staatsdepartemente tot op datum uitgevaardig is. Volgens Wassenaar se verslae is daar al meer as 37 afsonderlike regulasies sedert 15 Maart 2020 uitgevaardig.

“Hierdie regulasies probeer ingrypend handel met verskeie aspekte van vrye beweging, vrye handel, die effek van die Covid-19-pandemie op die ekonomie en die staat se pogings om die Covid-19-pandemie te bekamp. Dit skep ontsaglik baie probleme met die uitvoer en interpretasie van hierdie regulasies, gewoonlik tot nadeel van die publiek wat binne hierdie tydelike regsraamwerk moet probeer om hul regte uit te oefen. Daar is ook heelwat teenstrydige direktiewe en regulasies wat interpretasieprobleme skep,” verduidelik hy.

(Foto: Denis Balibouse/Keystone via AP)

Wie moet ek glo?

Hoe weet mens dan wat geloofwaardige inligting is, en wat fopnuus? Ongelukkig is dit moeilik om te bepaal, omdat selfs gerekende nuusbronne nie noodwendig altyd heeltemal korrek is nie, juis omdat die omstandighede so vloeibaar en onseker is.

Du Plessis verduidelik daar is ook baie nuus wat in ‘n grys area val – dis nie noodwendig fopnuus nie, maar dit moet in ‘n baie bepaalde konteks verstaan word.

“Hierdie is veral die geval met die menigvuldige wetenskaplike studies oor Covid-19 wat tans verskyn. Talle hiervan verteenwoordig nie noodwendig enigiets naby aan ‘n wetenskaplike konsensus nie. Baie wetenskaplike artikels is, uit die aard van omstandighede, taamlik spekulatief of voorlopig van aard.”

Kundiges is egter tog ʼn belangrike bron van inligting omdat hulle, binne hul area, meer intellektuele hulpbronne en ervaring het, wat hulle kan gebruik om aspekte van hierdie krisis beter te verstaan. Dit is wel belangrik om in gedagte te hou dat verskillende kundiges, juis vanweë hul kundigheid, verskillende uitgangspunte het.

Kundiges speel ook ʼn belangrike rol om die staat verantwoordbaar te hou vir die data wat hy uitreik en die beleide wat hy toepas. In hierdie opsig verteenwoordig kundiges ʼn baie waardevolle hulpbron vir die samelewing en dit is daarom baie belangrik dat hulle die vrymoedigheid moet hê om hul insigte te deel.

“In wese is die vraag wat ons almal in die gesig staar, ‘n kosteberekening. Dit is belangrik om na soveel as moontlik kundiges te luister om uiteindelik ‘n idee te kry van die voordele van bestaande beleide, maar so ook die kostes wat hul meebring,” sê Du Plessis.

Wat nuus oor moontlike kure of die wetenskap van Covid-19 betref, beveel Du Plessis aan dat mense moeite moet doen om ‘n bietjie breër te lees en veral te kyk na artikels wat jou bestaande opvattings uitdaag.

“Vir hierdie en ander mediese nuus is dit ook goed om ‘n basiese begrip van die wetenskaplike metode – en die versigtigheid wat daarmee saamloop – op te doen.”

Gesondheidsorgwerkers doen voorbereiding om mense te toets by Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Regering én burger se rol in ramptoestand

Die regering het inderdaad ʼn span van die land se topkundiges wat saam met die departement van gesondheid aan die strategiese plan vir die Covid-19-krisis werk.

Daar word daagliks Covid-19-toetse in beide die openbare en privaat sektor gedoen. Syfers uit albei sektore word ingesamel, saamgestel en dan bekendgemaak. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het aangedui dat verskille in rapporteringsmetodes, terugwaartse datakonsolidasie en vertragings met rapportering daartoe aanleiding kan gee dat nuwe bevestigde gevalle van Covid-19 nie altyd opvolgend sal optel nie. Daarom kom dit soms voor dat iets skort of dat die inligting wat die publiek ontvang, nie akkuraat is nie.

In die lig hiervan meen Du Plessis dat die belangrikste ding wat die regering kan doen, is om so ondubbelsinnig as moontlik met die publiek te kommunikeer, om sodoende die publiek se reg tot toegang tot inligting te respekteer.

Hy beklemtoon dat dit belangrik is om te onthou dat hierdie inderdaad nié ’n noodtoestand is nie en, selfs al was dit ‘n noodtoestand, dit steeds nie die staat volmag gee om te doen wat hy wil nie.

“Dit is veral nou baie belangrik om die rol van gemeenskappe, burgerlike instellings en goeie buurmanskap te beklemtoon. ʼn Ekonomiese uitdaging loop saam met die mediese krisis. Dit is ons almal se plig om nie net onsself te verlaat op wat die regering kan doen nie. Trouens, sy middele en vermoëns is juis geweldig beperk.”

  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jemma ·

Die wêreld deur word kriminele uit gevangenisse gelaat en wetsgehoorsame burgers vervolg vir wat hulle sê en omdat hulle dit waag om op n verlate voetpad te gaan stap of draf? Nee maar reg hoor!

Petrus Klipkop ·

Ek is geen regskenner nie, en ek wonder of iemand dalk kan help met hierdie vraag wat meer van die regte weet as ek. Tree Beki Cele nie ultra vires op wanneer hy opdragte en regulasies maak oor wie mag handel dryf en wie nie? Val dit nie eerder binne die jurisdiksie van die minister van handel en nywerheid nie?

Indien die minister van polisie wel buite sy grondwetlike magte optree deur in te meng in handel en nywerheid, kan hy dan nie voor stok gekry word en sy regulasies ter syde gestel word nie?

Miskien kan ‘n regskenner by Solidariteit of Afriforum die saak verder opneem? Ek glo dit sal interessante leesstof wees vir ‘n artikel, juis omdat baie mense twyfel aan die regsgeldigheid van Cele se bevele en regulasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.