JP Smith ry saam met treinwagte

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het Vrydagoggend saamgery om te kyk hoe die eenheid vir wetstoepassing op treine werk. Foto: Verskaf via ANA

JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het beamptes van die eenheid vir spoorwetstoepassing Vrydagoggend op ʼn patrollie van treine en stasies in die Kaap vergesel.

Die eenheid is onlangs gestig om die bestaande veiligheidsdienste by te staan om Metrorail se uitdagings die hoof te bied. Dit sluit aanvalle op spoor-infrastruktuur en -bates, die sabotasie van die stedelike spoornetwerk en aanvalle op pendelaars en Metrorail-werknemers in.

Die stadsraad sê die stigting van die eenheid kom nadat ʼn ooreenkoms in Mei vanjaar tussen hulle, die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en die Wes-Kaapse regering onderteken is waarvolgens al drie belanghebbende partye hulle daartoe verbind om die R47,9 miljoen te voorsien wat nodig is om die eenheid op te rig en 12 maande lank te bedryf.

“Pendelaars sê hulle voel baie veiliger met lede van dié eenheid op die treine,” het Smith Vrydagoggend gesê. “Ons sal in die komende week of wat gesprek met Prasa voer deur die LUR Donald Grant om die uitbreiding van die projek te ondersoek en beamptes heeltyds op elke trein te ontplooi en spanne aan te stel om infrastruktuur te beskerm.”

Tydens die patrollie het Smith gesê hy het opgelet hoe baie pendelaars nie ʼn geldige treinkaartjie gehad het nie. “Op die wa waarop ek nou is, het net een uit 18 passasiers ʼn kaartjie. Die volgende een het geeneen uit 42 een nie.”

Die aktivistegroep Unite Behind het in Oktober ʼn beroep gedoen dat mense ʼn groot betoging buite die Kaapse stasie hou om te vra vir die dringende regruk van die sukkelende spoorstelsel en dat werk gemaak word van pendelaars se veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Daar sê jy alles wat gesê moes word. Betaal geen munisipale dienstegelde nie en brand tyres as die diens onvoldoende is.

Chris du preez ·

Hulle wil dit reg geruk hê maar niemand betaal vir kaartjies nie. ????

alida ·

In die ou dae was daar ‘n kaartjieondersoeker en/of kondukteur. Hoekom stel hulle nie ‘n betaalstelsel soos Gautrain in werking nie. Niemand ry dan verniet nie. Weereens nie gedink nie. Nou nadat hoeveel treine verbrand is nou besef hulle die ou Spoorwegpolisie moes maar gebly het. Maar nee hulle was mos almal wit en moes waai.

Gemaskerde Sopbeen ·

Vergeet tog nou die “ou dae”……..dis vir altyd verby. Om-arm die nuwe awesome Suid Afrika……..en ry verniet trein!! Maak jou tuin nat met die brandkraan in jou straat……….en koppel jou huis aan die naaste lamppaal vir gratis elektrisiteit!! Hou op om so te kerm oor die nuwe Suid Afrika………en benut die bleddie ding………..dis daar vir ons almal…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.