Die Johannesburgse padagentskap (JRA) het besonderhede verskaf oor die toestand van die brug oor die M1 by die Booysens-afrit in Johannesburg.
Die Johannesburgse metropolisie het Woensdag aangekondig dat dele van die brug ineengestort het. Volgens die JRA is dit egter nie die geval nie.
“Die JRA se ingenieurs het Donderdagoggend ʼn volledige ondersoek gedoen,” het Siyabonga Nodu, die waarnemende besturende direkteur van die JRA, gesê. “Die stormwaterdreineringstelsel, wat veronderstel is om wat van die bokant van die brug te herlei, het onklaar geraak. Dit het veroorsaak dat water teen die brugverbindings afstroom en dit het tot erosie aan die plaveisel en grond van die brugwal gelei.”
Nodu het gesê die JRA kan bevestig dat die brug se struktuur in hierdie stadium veilig is vir gebruik.
“Die JRA se interne instandhoudingspan is besig om maatreëls in plek te stel om die situasie deurgaans te monitor. Dit sal voortduur totdat die rehabilitasieproses afgehandel is. Die stormwaterdreineringstelsel kort dringend aandag, maar weens die Kersvakansie sal kontrakteurs eers in Januarie 2020 daaraan kan begin werk.”
Nodu het bygevoeg die JRA wil alle padgebruikers gerus stel dat die veiligheid van paaie en brûe die organisasie se hoogste prioriteit geniet.