JSE beleef bulmark

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE)

Aandele op die JSE trek ook voordeel uit die positiewe sentiment jeens Suid-Afrika.

Dít is die siening van Dawie Klopper, ʼn welvaartbestuurder by PSG Konsult. Hy sê die afgelope twee weke was daar ʼn groot vraag na plaaslike aandele. Boonop sê hy word die vraag aangedryf deur binnelandse en buitelandse beleggers.

Klopper sê plaaslike aandele het die afgelope paar jaar swaar getrek weens die gebrek aan beleggersvertroue en verbruikersentiment.

Volgens Klopper sal veral verbruikersmaatskappye soos banke, kleinhandelgroepe en nywerheidsaandele baat vind by die hernieude optimisme.

“Die mark word grootliks gedryf deur optimisme dat Suid-Afrika se ekonomie op die herstelpad is,” sê Klopper. Hy voeg by dat die optimisme grootliks aangedryf word deur stappe wat gedoen word om korrupsie en wanbesteding hok te slaan.

Boonop het die nuwe optimisme teenoor die land ook die rand ʼn massiewe hupstoot gegee. Hy sê dit skets die prentjie dat beleggers nou meer tevrede is met Suid-Afrika.

Klopper glo verbruikersvertroue kan herstel wat aandele nog meer kan ondersteun. Hy sê egter dat baie van die begroting gaan afhang en hoe dit verbruikers se sakke sal raak.

Hy sê egter dat verbruikers dalk ʼn taai begroting kan verwag en hulle daarvoor moet gereed maak. “Dit mag dan ʼn invloed op verbruikersvertroue hê,” sê hy.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, het intussen gesê dat die ekonomie teen ʼn stadige pas sal herstel. Hy verwag dat die ekonomie dalk rondom 1,5% kan groei.

Hy sê dit is nie juis veel nie, maar wel drie keer beter as wat die Wêreldbank voorspel het. Schussler sê die groei wat die aandelemark en die rand tot dusver vanjaar getoon het, is ʼn mosie van vertroue in die land.

Schussler stem saam dat die begroting vanjaar taai gaan wees en verbruikers sal raak. Hy meen dat dit ook die regering sal dwing om op infrastruktuurbesteding te besnoei. Hy sê daarom sal sekere sektore vanjaar op die JSE uitblink. Hy is veral opgewonde oor die banksektor se oplewing.

Volgens hom sal infrastruktuurbesteding volgende jaar weer verbeter en kan dit ingenieursaandele ʼn groot inspuiting gee. Hy waarsku egter die regering sal moet waaksaam wees en nie gras onder sy voete laat groei nie.

“Wat nou gebeur, is duidelik. Beleggers was moeg vir pres. Jacob Zuma wie se tweede termyn as president ʼn treurmare was,” sê hy. “Noudat daar daadwerklike stappe gedoen word om die skade wat Zuma gedoen het in te hok, is beleggers se vertroue aan’t herstel.”

Schussler sê die verwagting is dat die private sektor nou weer sal begin belê wat werkskepping ʼn hupstoot kan gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanna Botha ·

Die anc moet leer …as jy die regte goed se en doen dan versterk die Rand maar die oomblik as zuma iets se val die Rand met sy populistiese praatjies waarvoor die wereld nie tyd het nie ….en wie kry dan swaer ….presies die dom mense wat so aanhou vir hom stem ….hoe verstaan mens dit tog !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.