JSE oorweeg Oakbay-skorsing

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE)

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE)

Die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) het Vrydag gesê hy het Oakbay Resources and Energy in kennis gestel dat hy oorweeg om die maatskappy se registrasie op te skort omdat die maatskappy versuim het om ʼn borg aan te stel om Sasfin Capital te vervang.

Sasfin Capital het in April te kenne gegee dat hy sy betrokkenheid as borg van die omstrede Gupta-familiebesigheid op 1 Junie gaan kanselleer. Een van die vereistes van die aandelebeurs is dat ʼn nuwe borg binne 30 dae aangestel moet word.

Die JSE het Vrydag in ʼn verklaring gesê die “grasieperiode” om ʼn nuwe borg aan te stel, het op 14 Julie verstryk.

Oakbay het een minuut later op die JSE se nuusdiens ʼn verklaring gepubliseer om te bevestig dat hy “ondanks sy beste pogings” nie in staat was om ʼn borg te kry wat Sasfin kan vervang nie.

Volgens die verklaring het Sasfin bedank oor “redes wat verband hou met hul besluit om die strategiese doelwitte van Sasfin se korporatiewe finansiële afdeling nader te belyn met die groter Sasfin-groep”.

Dit is egter welbekend dat die besluit openbaar gemaak is in ʼn tyd toe ʼn aantal ander Suid-Afrikaanse maatskappye publiek bande verbreek het met die Gupta-beheerde onderneming oor bewerings van ʼn staatsvergryp.

Oakbay het in die verklaring daarop gewys dat hy, ná Sasfin se bedanking, ʼn nuwe JSE-geakkrediteerde ouditeur aangestel het en finansiële verslae vir die jaar tot 29 Februarie gepubliseer het. “Die maatskappy het ook grootliks sy transaksionele bankvermoë gestabiliseer en beduidende vordering gemaak om sy sakedoelwitte te bereik, veral dié wat verband hou met die Brakfontein-steenkoolaanleg wat hy sopas aangeskaf het en die ontwikkeling van sy Klerksdorp-gebaseerde uraan-projek, waarvan die vooruitsigte baie belowend is,” lui die verklaring.

Oakbay het gesê hy is “proaktief en positief” in gesprek met die JSE wat betref die aanstelling van ʼn nuwe borg en aandeelhouers sal binnekort in kennis gestel word van verdere ontwikkelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kombuis ·

Dit is swak dat hulle dit nou eers oorweeg, moes al lankal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.