JSE waarsku Sasol-aandeelhouers oor produksieverlies

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE)

Die petrochemiese reus Sasol het aandeelhouers in ʼn verklaring op die JSE se nuusdiens (Sens) gewaarsku dat sy brandstofproduksie vanjaar waarskynlik tussen 200 000 en 300 000 ton minder gaan wees.

In die verklaring skryf Sasol die verlies toe aan die langer tyd wat dit geneem het om die instandhoudingsprojek (shutdown) af te handel asook tegniese probleme wat ondervind is.

Sens-verklarings word deur die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) gebruik om inligting deur te gee wat ʼn direkte invloed op markbewegings kan hê.

Solidariteit meen egter die vertraging van Sasol se instandhoudingsproses is ʼn regstreekse gevolg van die vakbond se staking by die maatskappy. “Verklarings soos dié stuur rimpelings deur die JSE. Dit skep groot onsekerheid onder aandeelhouers. Wat die onsekerheid verder gaan verhoog, is ʼn mandaat van Solidariteit-lede gister by drie massavergaderings dat Solidariteit die druk op Sasol moet verhoog,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit-lede het op 6 September, in die middel van die instandhoudingsproses, begin staak. Hermann meen die onttrekking van die lede se tegniese vaardighede tydens hierdie instandhoudingsproses het tot groot ontwrigting by die Secunda-aanleg gelei. Volgens Solidariteit het hulle juis dié spesifieke tyd gekies omdat hulle geweet het hul lede se vaardighede is nodig vir die instandhoudingsprojek.

Solidariteit-lede het besluit om te staak nadat Sasol wit werknemers van sy personeelaandeletransaksie, Khanyisa, uitgesluit het. Hermann sê die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het gepoog om die geskil op te los, maar Sasol het geweier om enige toegewings te maak.

In die Sens-verklaring sê Sasol dat hy na verwagting nie sy jaarlikse produksieteiken van 7,8 miljoen ton by die Secunda-aanleg sal bereik nie. Die maatskappy het dié aanvanklike vooruitskatting in sy finansiële state soos gepubliseer op 20 Augustus gemeld. Sasol se aangepaste vooruitskattings is tussen 200 000 en 300 000 ton minder.

Volgens Hermann ondervind Sasol die tegniese probleme waarna hy in die Sens-verklaring verwys vanweë vaardige werkers wat gestaak het.

“Sasol en sy aandeelhouers betaal nou die prys vir die uitsluiting van sy vaardige werknemers uit die Khanyisa-personeelaandeleskema. Solidariteit-lede het vir Sasol gewys wat die krag van kennis is.

“Die miljoene rande produksieverlies en verlies in aandeelhouervertroue gaan uiteindelik groter wees as wat dit sou kos om die regte ding te doen deur wit werkers by die personeelaandeleskema in te sluit,” meen Hermann.

Hy voeg by Sasol gaan nog lank betaal vir sy “rassebesluit”.

“Werkers is steeds uitgesluit uit die skema en vervreem. Produksieverliese gaan in die toekoms nog miljoene rande beloop. Ons is verstom dat Sasol bereid is om ʼn verlies van soveel miljoene rande te absorbeer vir ʼn rasseskema wat nie moreel geregverdig kan word nie,” sê Hermann.

Die mandaat wat Solidariteit by sy lede ontvang het om die druk op Sasol te verhoog sluit ʼn hofsaak om die wettigheid van Khanyisa te toets en ʼn massa-optog na die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) en Sasol se hoofkantoor in Sandton op 25 Oktober in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Groenie ·

Verder betaal ons ook nog Brent-ru-olie pryse vir SASOL produkte!

Celtis Africana ·

Sou die produksieverlies soos deur Solidariteit aangevoer n direkte gevolg is van die staking, slaak ek n sug van verligting…
Bestuur se woordgimnastiek sou dus neerkom op n leuen, wat my verder met die oortuiging laat dat megabesighede gedryf word deur karakters van twyfelagtige integriteit. ( A la Marcus Jooste, VBS, Eskom ensovoorts)
Mag ons dus ervaar dat dié reus op sy knieë gedwing word deur die nageslag van sy stigters!

Herman ·

Optogte is nie die antwoord, tensy daar natuurlik iets afgebrand raak, wat ons tog weet die wit werkers sal nie doen nie.
Ek dink die beste sal n sloerstaking wees.

Realis ·

Goed So! Die Engelse spreekwoord…”Don’t bite the hand that feeds you…..” is ook hier van toepassing!

Koos de Meyer. ·

Mooi man. Kry maar vir julle Sasol. Dwing hulle maar op hulle knieë.

PJC ·

Die hastarrigheid van Sasol se bestuur wys net weer hoe sterk die anti-wit sentiment is.

Elsa ·

Ek is verheug dat hierdie staking vrugte afgewerp het en dat Sasol groot verliese gely het. Hou aan staak totdat Sasol heeltemal op hul knieë is en toegee om wit werkers ook tot die skema toe te laat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.