Juffrou gesleep: ‘Die Here het my ʼn tweede kans gegee’

Suzanne Leyden Foto: Facebook

Suzanne Leyden Foto: Facebook

Suzanne Leyden (36), wat op 20 November etlike meter ver in Sandton, Johannesburg deur ʼn bakkie saamgesleep is, is uit die hospitaal ontslaan en dankbaar sy leef.

Leyden het tydens die voorval ernstige breinbeserings opgedoen en is in die Milpark-hospitaal onder verdowing gehou om seker te maak dat die swelsel en bloeding op haar brein sak. Sy was vir ʼn week en ʼn half lank in ʼn geïnduseerde koma en is eers onlangs ontslaan.

Leyden het Donderdag aan Maroela Media gesê die spiere aan die linkerkant van haar gesig is verlam, wat tot gevolg het dat sy sukkel om te praat en nie behoorlik kan eet nie. “Ek moet my kos met ʼn strooitjie inneem,” het sy gesê. Sy moet steeds fisio- en spraakterapie ondergaan.

Volgens Leyden is dit nog te vroeg om te bepaal of sy permanente breinskade opgedoen het. “Volgens die dokters sal ons eers oor so ses maande weet of die skade permanent is.”

Leyden, ʼn Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Sandown in Sandton, was die dag van die voorval op pad skool toe, toe sy in ʼn geringe botsing met ʼn bakkie betrokke was. Toe sy glo die man nader om kontakbesonderhede uit te ruil, het hulle begin stry en sy het glo haar arm in die voertuig gesteek om moontlik sy sleutels af te neem. Die man het na bewering begin wegry en haar saamgesleep.

Leyden het gesê sy is dankbaar dat die Here haar ʼn tweede kans gegee het. “Ek moet dit nou net gebruik.”

Deon Schoeman (48), die bestuurder van die betrokke bakkie, het op 25 November in verband met die voorval in die Hillbrow-landdroshof verskyn. Hy staan tereg op aanklagte van roekelose of nalatige bestuur asook tref-en-trap. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en moet weer op 22 Januarie volgende jaar in die hof verskyn.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

anet ·

Suzanne, ek is so bly om te hoor dat dit elke dag beter met jou gaan. Ons sal aanhou bid vir jou.
Pas jouself baie mooi op, en onthou ons dink aan jou, jou dapper klein seuntjie en jou familie wat jou so mooi bystaan in hierdie moeilike omstandige van jou. Mag hierdie ‘n baie geseende en spesiale Kersseisoen vol vreugde wees vir jou en jou familie

Chris ·

Die schoeman moet ook aangekla word vir poging tot moord. Hy moes voorsien het dat as hy iemand met ‘n voertuig sleep sy kan sterf. Hy hoort voorts ook sy bestuurderslisensie te verloor.
Sterkte Juffrou! Hoop jy herstel vining.

Bruno Stef ·

Dit is werklik n verligting dat die dame besig is om te herstel maar wat my persoonlik pla is dat sy haarself so bloot stel om die sleutel van die ander motor te probeer bekom.Dit is makliker om sel foon fotos van die ongelukstoneel /nommerplate te neem en n klag by die Polisie kantoor in te dien.As dit my vrou was sou ek bitter ontevrede gewees het met sulke optrede van haar kant. Sy is nie toegerus as vrou om die rol van n wetstoepasser in sulke omstandighede te speel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.