Juffrou sak inmekaar, sterf by Pta-skool

(Argieffoto)

Die Gautengse departement van onderwys het sy meegevoel betuig oor die afsterwe van ʼn 48-jarige onderwyseres van Pretoria.

“Die juffrou het Vrydag naby ʼn fontein by die Central Secondary School in Soshanguve inmekaar gesak en kollegas het haar na ʼn nabygeleë kantoor geneem,” het Steve Mabona, woordvoerder van die departement, gesê. “Paramedici is dadelik ontbied, maar hulle het haar met hul aankoms dood verklaar.”

Beamptes het dadelik die skool besoek om die nodige ondersteuning te bied en het aangeraai dat die skool verdaag. “ʼn Span sal Maandag die skool besoek om die nodige berading te verskaf.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het sy meegevoel betuig met die onderwyseres se familie en die skool. “Dit is baie moeilik om te verstaan in dié moeilike periode. Ons innige meegevoel aan die familie en die skoolgemeenskap. Ons bid vir die familie in hul tyd van rou. ʼn Gedenkdiens sal binnekort plaasvind om haar lewe te vier.”

Die Suid-Afrikaanse regering het Donderdag aangekondig dat slegs graad R, 6 en 11 Maandag sal terugkeer skool toe. Ander grade sal deur die loop van die maand terugkeer. Die drie grade sluit by graad 7 en 12 aan wat reeds op 8 Junie teruggekeer het skool toe ná 10 weke weens die Covid-19-pandemie.

The Royal Schools Princess Park-kampus in Arcadia, Pretoria (Foto: Jacques Naude/African News Agency (ANA)

In ʼn onverwante voorval het die Royal Schools Princess Park-kampus in Arcadia, oos van Pretoria, Vrydag tydelik gesluit ná ʼn skolier positief getoets het vir Covid-19. Ouers het ʼn kennisgewing van die bestuur ontvang dat hulle dadelik hul kinders moet kom haal. “Ons het ons eerste positiewe Covid-19-geval,” lui ʼn boodskap van die skool. “Kom haal asseblief jou laerskoolkind vanaf 11:30 vandag. Kom haal asseblief jou hoërskoolkind vanaf 12:00. Dit is dringend, omdat die skool ontsmet moet word. Geen personeel sal teen 12:30 meer by die skool wees nie. Dankie vir julle begrip.”

ʼn Omsendbrief deur skoolhoof Maxon Dutuma verduidelik die graad 4-leerder, wat positief getoets het, was Maandag by die skool. “ʼn Ma van een van ons graad 4-leerders het ongelukkig op 30 Junie 2020 positief getoets vir die koronavirus. Die ma en kind is albei getoets en albei is positief. Die leerder was Maandag, 29 Junie 2020, by die skool en het nie enige simptome gehad nie, maar is as ʼn voorsorgmaatreël getoets. Die skool is op 2 Julie in kennis gestel deur die leerder se ouers,” het Dutuma in ʼn interne memorandum gesê, wat die African News Agency (ANA) onder oë gehad het.

Die skoolbestuur het protokol gevolg en die geval by die departement van gesondheid en die departement van onderwys aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.