Juffrou se hartroerende briefie oor graad 1-seun wat by skool sterf

Divan Joubert.

Divan Joubert.

Elsie Hamman, die graad 1-juffrou van Divan Joubert wat Maandagoggend by Laerskool Standerton in Mpumalanga oorlede is, het ʼn hartroerende boodskap aan hom opgedra.

“Ek is nie net vandag ʼn hartseer juffrou nie, maar ook ʼn verpletterde ‘mamma’. Divan was nie net nog ʼn kind in my klas nie, ek het hom gekoester soos ek my eie kind.

“Die rede vir sy skielike weggaan verstaan ons nie nou nie, ek weet wel dat Divan in sy kort bestaan op aarde ʼn groter impak gemaak het as heelwat grootmense wat al vir dekades lewe.

“Hy was ʼn intelligente, toegewyde leerder, wat altyd sy werkies keurig voltooi het.

“Soms moes ek vra ‘Joubertjie’ is jy nog in die klas? Want hy was so ʼn goedgemanierde, stil kind wat erns met sy werk gemaak het. Hy het skool geniet en kon al goed lees en mooi sinne skryf.

“Divan was ʼn omgee-kind. Altyd bekommer oor sy klasmaats en juffrou se welsyn. Dis hy wat elke oggend vir sy juffrou sou sê dat sy so mooi vir hom lyk en dan was dit vir hom belangrik om my met ʼn stywe druk in die middae te groet met die woorde: ‘Juffrou hier is jou medisyne, (wat die druk was).’

“Divan was ook altyd die eerste een wat ʼn eensame maat nader sou trek, hy sou ook eerste sonder aarseling sy broodjies deel. Jou stem is nou stil klein man, jou plekkie in die klas leeg, maar jou glimlag is vir ewig in ons geheue ingeprent.

“Die mooi herinneringe aan jou sal ons vir altyd koester. 
Ons gaan jou so ontsaglik mis Divan!”

Joubert se skoolmaats en onderwysers plaas steeds blomme by die skool se herdenkingsmuur vir hom.

Maroela Media het vroeër berig Joubert het glo op die skoolterrein gestruikel. Graad 7-leerders het hom opgehelp, maar hy het onmiddellik daarna inmekaar gesak. Noodhulp is toegepas, maar hy kon nie bygebring word nie. ʼn Dokter, wat langs die skool woon, se hulp is onmiddellik ingeroep en hy het Joubert dood verklaar. Die skool het die polisie en die departement van onderwys in kennis gestel.

Sy gedenkdiens is Vrydag, 24 April om 11:00 by die NG Moedergemeente (Klipkerk) in die dorp.

Intussen het Rudi Hamman, die skoolhoof, Woensdag aan Maroela Media gesê die uitslag van die nadoodse ondersoek is nog nie bekend gemaak nie. Die uitslag word binnekort verwag waarna die oorsaak van sy dood eers bekend sal wees.

Blomme vir Divan.

Blomme vir Divan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

SNEL ·

Hoe ruk ek nou soos ek snik, hierdie juffrou het met daardie briefie n pragtige beeld geskep van Divan. Wat n pragtige seuntjie!!!!! Baie baie sterkte aan sy ouers en familie!!!

ladybug ·

Baklei ek nou teen die trane …. rus in vrede klein mensie … jy is by Liewe Jesus, hy sal jou veilig hou!

Sterkte aan die gesin, mag God jul vertroosting bring.

Rieks ·

Daar moet verseker die mooiste tuin in die hemel wees, want al die mooiste blomme word vroeg gepluk. Mag hierdie ouers en almal wie se lewe hy aangeraak het berusting kry. Laat sy mooi lewe altyd in julle gedagtes bly. Rus in Vrede Jesusblom.

Louna ·

Die ergste gaan vir die juffrou wees om die seun se naam op haar klasregister dood te trek. En om na sy leë sitplek in die klas te kyk. Dis verskriklik! Ek weet, want ek is al daardeur. Baie sterkte aan die juffrou.

Michael ·

Ons Innige Meegevoel vir Familie en Vriende en Onderwysers en Hoof. Ons Harte gaan uit na julle toe, stukkend ons harte seer, pyn en met al onse liefde raak dit ons aan en Sterk wees ons dink aan julle en bid ter selfde tyd ook! God Bless!!

Jan ·

Spesiale kind en spesiale onderwyseres, ………baie skaars !!!

Eish! ·

Sjoe, ek verstaan hoe die juffrou voel. My kind is ‘n grad 1 onderwyseres. Nog jonk, het nie kinders nie en glo my elke kind in haar klassie is baie spesiaal. Toe ek die berig lees, het ek in my hart gese dankie dit is nie een van haar leerders nie. Elke November moet ek saam huil en troos oor die kindertjies wat aanbeweeg na gr 2. Sterkte vir familie, ouers, vriende en die onderwysers. (Hoop dit sal bekend gemaak word wat sy dood veroorsaak het.)

Corné ·

Elsie – die Goddelike liefde wat uit jou straal en die impak wat jy op ons kinders se lewe maak, bewys die spesiale mens wat jy is en jou roeping wat jy uitleef. Mag die Here jul trooster wees in die tyd van hartseer maar ook jul Leidsman op die weg vorentoe… Geseend sal jul wees…

Theresa ·

Die Here pluk sy mooiste blomme eerste. Baie sterkte vir Divan se familie. Ek weet julle sal krag kry van Bo en vertroosting en berusting.

Hannelie - Worcester ·

Sjoe wat ‘n wonderlike onderwyseres met ‘n hart van goud. Ek dink sy is iemand wat in elke klein kindjie se hartjie kruip. My hart is sommer seer toe ek haar briefie lees! En nog seerder oor klein Divan wat so vroeg na Jesus moes gaan. Maar ek dink hy gaan nou daarbo liefdes drukkies uitdeel . Sterkte aan Divan se ouers en sy juffrou en maatjies. Ek weet jul sal al die krag kry van Hom ons groot Vertrooster.

Hannelie - Worcester ·

Sjoe wat ‘n wonderlike onderwyseres met ‘n hart van goud. Ek dink sy is iemand wat in elke klein kindjie se hartjie kruip. My hart is sommer seer toe ek haar briefie lees! En nog seerder oor klein Divan wat so vroeg na Jesus moes gaan. Maar ek dink hy gaan nou daarbo liefdes drukkies uitdeel . Sterkte aan Divan se ouers , sy juffrou en maatjies. Ek weet jul sal al die krag kry van ons groot Vertrooster.

Surita ·

Ja vandag was die roudiens van klein Divan,ek het nie woorde nie.Dus so n sad verhaal.Maar ons weet Jesus vra nie of jy gereed is nie.Hy pluk die mooiste rosie in sy tuin om in sy huis te bere en te beskerm.

Jesus wees vandag asb met die mamma,pappa en sussie en help hulle op die pad na vore.Die seer gaan nog lank by bly en die gemis en verlange ook.Dus sit en al Divan se geliefdes in U hande en weet U sal hulle beskerm en help die die baie moeilike tyd wat voorle.

elsabe kruger ·

Divan soek vir kabouter hy is al da van 2002 af hy was net so n Seun soos Jy lief vi almal altyd da omgegee en liefde uitgedeel dit was my seun hy Sal jou handjie vashou en mooi na jou kyk ek voel vi Sy ouers want dit is baie moeilik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.