Juffrou sien beskuldige vir die eerste keer sedert sleep-voorval

Suzanne Leyden (regs) saam met haar sussie Marlize, en seun Armand (5). Die foto is voor die voorval geneem.

Suzanne Leyden (regs) saam met haar sussie Marlize, en seun Armand (5). Die foto is voor die vermeende tref-en-trap-voorval geneem.

Suzanne Leyden (36) het Donderdag vir die eerste keer die man gesien wat haar glo in November etlike meter ver in Sandton, Johannesburg, langs sy bakkie gesleep het ná ʼn vermeende geringe botsing.

“Dit was moeilik, maar bevrydend,” het Leyden Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê.

Deon Schoeman (48) het vlugtig in die Hillbrow-landdroshof verskyn, waar Leyden, met haar suster Marlize aan haar sy, hom in die hof in die oë kon kyk. “Die laaste keer wat ek hom gesien het, was die dag van die voorval.” Ná die vinnige oogkontak is die sussies uit die hof, aangesien hulle nie die verrigtinge wou bywoon nie.

Leyden, ʼn Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Sandown in Sandton, was op 20 November 2014 op pad skool toe, toe sy glo in St. Andrew-weg in Hurlingham in ʼn geringe botsing met Schoeman se bakkie betrokke was. Toe sy hom nader om kontakbesonderhede uit te ruil, het hulle begin stry en sy het glo haar arm in die voertuig gesteek om moontlik sy sleutels af te neem. Schoeman het na bewering begin wegry en haar tussen 20 m en 30 m ver saamgesleep. Sy het tydens die voorval ernstige breinbeserings opgedoen en is in die Milpark-hospitaal onder verdowing gehou. Sy was vir ʼn week en ʼn half lank in ʼn geïnduseerde koma en is in Desember ontslaan. Die spiere aan die linkerkant van haar gesig was verlam, en sy het gesukkel om te praat en te eet.

Sy is steeds afgeboek en moet fisio- en spraakterapie ondergaan. “My linkeroog is steeds blind en my oor is doof, maar as ek hard probeer kan ek darem my mond lig en glimlag,” het sy gesê.

Leyden moet in Februarie weer haar breinchirurg sien waar meer toetse gedoen gaan word om te bepaal of daar enige permanente skade is.

“Ek kry nog verskriklike nagmerries oor die dag, maar ek fokus al my energie in my terapie.”

Schoeman staan tereg op roekelose of nalatige bestuur en word ook van tref-en-trap aangekla. Die saak is tot 13 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek. Hy is tydens sy eerste hofverskyning op 25 November op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy het ná die Donderdag se hofverrigtinge die media ontduik.

“Ek kan nie wag om geroep te word om te getuig nie. Ek onthou alles van daai dag, totdat my kop die pad getref het,” het Leyden vol vertroue gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Tammy ·

As hierdie man van my familie was sou ek my dood geskaam het. Sies!!! Wonder wat dink sy vrou en kinders van hom???

Amanda ·

Leoni wie is jy om te oordeel?
As jy so volmaak is vat n stoel en gan sit langs Jesus.

Ek bid vir julle famielie wees sterk en glo.
God kan alles verander.

Lyn ·

2 sides to every story. She bent in to grab the keys, sounds like the aggressor to me. Lets hope both of them have their say in court with decent lawyers and a fair judge then the truth might be revealed

Henry Knersus ·

Vasbyt!
Is al wat mens onder sulke omstandighede kan doen.

Ladybug ·

Net aangekla vir roekelose en nalatige bestuur? Wat van poging tot moord? Hy behandel seker sy vrou ook soos ‘n vloerlap.

anet ·

Suzanne, ek is so bly dat dit beter met jou gaan, dat jy tuis is saam met jou familie.
Ons hoop en vertrou dat dit elke dag net beter sal gaan met jou.
Dit is jammer dat so iets gebeur het, en ek hoop dat ons almal saam kan leer uit hierdie omstandighede om meer geduld en respek teenoor mekaar te handhaaf in die verkeer

Sune van Heerden ·

Dagsê Adele

Ons vra om verskoning, dit was ‘n growwe tikfout wat deurgesluip het. Ons het die artikel gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

pop ·

Mev Leyden, ek hoop jy sal volgende keer dink voor jy mense aanvat in die pad. Dit was lyk my toe nie die moeite werd nie. Jys glad nie so onskuldig as wat jy jouself nou skilder nie.

Henry ·

Stem saam Pop!
Om so voor op die wa te raak, maak hoeka dat jy onder die wiele kan beland

Marietjie ·

Pop – sy mag dalk nie onskuldig wees nie, maar geen man het nodig om hom soos ‘n barbaar te gedra teenoor ‘n vrou nie. Hy het weggery van die ongelukstoneel en haar net daar gelos en homself eers later oorgegee – ek hoop hy kry wat hy verdien. Ek haal aan uit ‘n vorige berig:

“Die bestuurder van die bakkie het glo vlugtig gestop, haar losgehaak, en weer weggery. Dit is toe dat sy onder die bakkie beland en ʼn paar meter ver gesleep is. Die bakkie het van die ongelukstoneel weggejaag en die bestuurder word steeds gesoek. “

carel ·

lyn – I agree every story has got 2 sides – but how is it ok to almost kill her?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.