Juffrou sterf ná perdongeluk

Foto: Facebook.

Foto: Facebook.

Marzanne Kuhn, die vrou wat verlede week in ʼn fratsongeluk deur twee perde omgehardloop is, is Sondag in die Lenmed Ahmed Kathrada-hospitaal in Lenasia naby Johannesburg oorlede.

Haar suster, Antoinette Kuhn, het dit op Facebook bevestig. “Hou ons asseblief nog in julle gebede,” het Antoinette gevra.

Jaco Pretorius (29), Marzanne se kêrel, het vroeër aan Maroela Media gesê twee van hulle perde het op hul kleinhoewe in die pad voor die huis gestaan.

“Ek het haar gevra om naby die huis se hek te gaan staan en hulle te keer. Ek het hulle solank gaan aankeer sodat hulle nie in die openbare pad beland nie. Hulle het omgedraai en huis se kant toe beweeg, dit was 20:30 Saterdagaand, so dit was al donker. Ek kan nie presies sê hoe ver voor my hulle was nie, maar hulle het na Marzanne toe gehardloop, teen haar vasgehardloop en haar omgestamp,” het Pretorius verduidelik.

Die kleinhoewe is in Witpoort naby Wolmaransstad in Noordwes. Marzanne het agtertoe geval en haar kop gestamp. “Toe ek by haar kom, het sy my hand gedruk, maar was nie by haar volle bewussyn nie,” het Pretorius gesê. “Die perde is my werk, maar dit was haar stokperdjie.”

Marzanne het Vrydag 29 geword. Sy en Jaco het byna tien jaar lank uitgegaan.

Marzanne was ʼn gr. 1-onderwyseres by die Laerskool Makwassie in Wolmaransstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

AL ·

My innige simpatie aan haar naasbestaandes in hierdie donker droefheid.

T ·

Innig meegevoel aan vriende en familie en ook baie Sterkte Jaco.

Sarie ·

Dis voorwaar ‘n tragedie & bàie hartseer… Sterkte aan haar geliefdes….

Ada ·

Dit is so jammer, ai ek kry almal so jammer oor hierdie groot verlies. Sterkte met die pad vorentoe.

Mari ·

Ons innige meegevoel aan haar ouers en familie en ook aan Jaco Pretorius. Ons liewe Pappa hou hierdie mensies styf teen U vas in hierdie tyd. Gee hulle die krag en versekering dat Marzanne by U is in haar ewige tuiste en dat sy nou U Engel is en haar vlerke oop gesprei hou oor haar mensies hirr op die tydelike aarde. Amen. Sterkte julle

Hannelie ·

Ag nee, dis verskriklike hartseer nuus! Baie sterkte aan haar familie, mag jul vertroosting vind by God. Sy was nog so jonk gewees, maar ek glo sy is by haar Hemelse Vader en maak plekkie reg vir haar geliefdes. Dink aan jul almal.

Miliza Coetzee ·

Innige meegevoel aan haar familie, Jaco Pretorius en vriende.

D. ·

Baie sterkte aan die familie en vriende en kêrel, maar ook aan die skool en haar graad 1 leerdertjies.

J ·

Omarm mekaar praat en bid die antwoorde op vrae sal moontlik in lug hang maar … Jesus heel wonde met Sy Liefde en jul trane. Sterkte aan al die geliefde.

Esmay ·

So jammer. Ek dink aan julle. Ek ken julle nie maar my hart so seer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.