Jugomaro-katte: Polisie veroordeel ‘onwettige stropery’

Elvis en Kai. Foto: Via Facebook

Die Limpopo-polisie het die onwettige stropery van beskermde spesies ten sterkste veroordeel nadat vier van die gewilde Jugomaro Predator Park se skaars en geliefde katte Vrydag in die vroeë oggendure op hul nuwe wildplaas vergiftig is.

ʼn Emosionele Rosa Fernandes, wat saam met haar man, Goosey, en seun, Justin, die park bestuur en die diere van kleins af met die hand grootgemaak het, het Vrydag aan Maroela Media gesê die katte is skaars twee weke gelede na hul nuwe wildplaas naby Vaalwater geskuif nadat die vorige wildplaas naby Groblersdal gelikwideer is.

“Teen 01:30 hoor ons ons wolf onophoudelik huil, wat hy nooit doen nie. Ek en Justin het gaan ondersoek instel en by Elvis, ons witleeu, en Kai, ons goue tiermannetjie, se kamp gesien Elvis lê by die hek. Daar het skuim uit sy bek gekom. Hy het soveel pyn gehad dat hy die groot staalhek gebyt het dat dit buig.”

Kai het net stil gelê en nie asemgehaal nie. Justin het dadelik besef die katte is vergiftig. Hy het mond-tot-mond-asemhaling op Elvis, wat toe nog gelewe het, toegepas terwyl Rosa op Elvis se hart gedruk het in ʼn poging om hom aan die lewe te hou. Dit was tevergeefs.

“Terwyl ons besig was, het ons ons twee bruinleeumannetjies, Hercules en Taariq, in die kamp langs Elvis sʼn van pyn hoor grom. Ons het probeer om vir hulle steenkool in te gee terwyl ons gewag het vir ʼn veearts om van Bela-Bela af te kom, maar hulle wou niks eet nie en het later gesterf.”

Rosa het gesê in albei kampe is stukke vleis, waaronder lewer, haas en derms, met die gif Temic, ook bekend as Two Step, gevind. Dit was aan die heinings gehang, het in die kampe gelê en die vleis is ook deur die katte opgebring.

Die booswigte het toegang tot die wildplaas deur die heining verkry. Hulle is vermoedelik onderbreek voor hulle enige liggaamsdele van die diere kon verwyder en het met leë hande op vlug geslaan.

“Ons vermoed ons geliefde katte is vergiftig om vir moetie geslag te word. Al waaroor ons bly is, is dat geen liggaamsdele geslag is nie. Ons gaan hulle nou op ʼn spesiale plek in die park begrawe,” het Rosa gesê.

Die Vaalwater-polisie is na die toneel ontbied en ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging is aanhangig gemaak.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het namens die polisie die voorval verwerp en aan Maroela Media gesê die verdagtes is onbekend en nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Hy het gesê voorvalle van onwettige stropery is weer besig om kop uit te steek.

“Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan om die oortreders op te spoor, word versoek om ao. Leon Moolman by 072 534 5383 te bel,” het Ngoepe gesê.

Hercules en Taariq. Foto: Via Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wilmarie ·

Dit is sulke pragtige diere! Ek het nie woorde nie! Hoe wreed en harteloos kan iemand nie wees om dit te doen nie!

Danie (Daan) ·

Hier sal ernstige veranderings moet kom in hierdie land. Om sulke waardevolle diere wat soveel jare met liefde en geduld grootgemaak en onderhou is, te gaan staan en vergiftig, dis onmenslik. Ek hoop regtig die skuldiges word aangekeer en behoorlik gestraf.

Hennie ·

Nou hoekom nie ook PLAASMOORDE veroordeel nie? O ja…dis nie katte nie…

Cherokee ·

Maroela, waarom is daar nie meer ‘n rapporteer-skakel nie?

leser ·

wat ñ tragiese geval, sterkte aan die diere ouers

n bietjie negatiewiteit, troos julle daaraan dat die wat julle diere vergiftig het sal eendag aan hulle kinders / kleinkinders moet verduidelik hoe lyk ñ witleeu en veral ñ tier
hulle sal eendag hul dag van afrekening kry

Oop oge ·

Ouerskap verwys na direkte bloedverwantskap.

‘n Kind is ‘n menslike wese wat voortgebring is deur die samestelling van ‘n man en n vrou se bloedverbintenis.

Dit sou beter klink as die woord “versorger” of iets dergliks gebruik word in die geval van siellose diere, want emosionele woordgebruik lei dat kinders wat wan opgevoed word in terme van die verskille tussen mens en dier en hulle funksies.

‘n Mens is ‘n mens en ‘n dier is ‘n dier en elkeen het sy plek.

Anneke ·

Ek is so jammer oor julle verlies… Dit was sulke pragtige diere hulle het nie verdien om so te sterf nie. Ek hoop die wat dit gedoen het word gevang en swaar gestraf.

HPV ·

Sulke optrede besef mens hulle sal nie stop tot die hele Afrika kontinent gestroop is nie. Dit stop egter nie net by mens en dier wat geslag word nie, dit sluit nou ook eiendomsreg, alle roerende asook nie-roerende bates in. Ek neem my voorgeslagte ernstig kwalik dat hulle ooit na die derdewêreld helhool gekom het.

leser ·

oop oge,
jammer ek het dit so gestel, maar as diere na aan jou is ?????
ek sal dit onthou vir ‘n volgende keer

FG ·

Ja asb.! Dis is hartseer en wreed om diere so te vergiftig en vir baie van ons is ons diere kosbaar. Hulle is onskuldig en na my mening is ons daar gestel om ook om te sien na die wesens wat God ook geskape het. As my diere vergiftig moet word sal die 1 wat die gif gegooi het ook van die gif kry, by gese as jy so n lafaard sou vang.

Diere kinders ·

OOP OGE, baie dankie vir jou les oor die “bytjies en die blommetjies”
Ek het net diere omdat ek NIE KAN kinders hê weens n oorerflike siekte. My diere is ook my kinders en ek hul ouers. Diere is sielloos…….., nê, sê jy wat tande het?. Diere is meer opreg as meeste mense. Hul gee net liefde. Almal wat sover hier kommentaar lewer voel jammer vir die diere en hul “ouers” behalwe jy wat oënskynlik nie n hart in jou het nie. Dink aan mense wat diere het vir kinders weens omstandighede.

Diereliefhebber ·

Dis baie waar! Diere raak soos ń mens se ‘kinders’. Ek noem my 2 hondjies, my ‘dogtertjies’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.