Jugomaro-katte verhuis na ‘groter en beter geriewe’ in Noordwes

Justin Fernandes vroeër vanjaar saam met een van die tiere by Jugomaro Predator Park. Foto: Facebook

Justin Fernandes vroeër vanjaar saam met een van die tiere by Jugomaro Predator Park. Foto: Facebook

Die roofdiere by die Jugomaro Predator Park in Limpopo, die tuiste van die alombekende tier, Panjo, sal eersdaags na ʼn nuwe heenkome geskuif word nadat die park se vorige eienaars amptelik dié perseel, waarvoor hulle hand en tand voor geveg het, kwyt is.

SD Nel, ʼn prokureur van De Meyer Prokureurs wat namens die koper van die perseel, Kamp 248 Sabie Park BK, optree, het Woensdag aan Maroela Media gesê die koper neem met groot vreugde kennis van die uitspraak van die appèlhof in Bloemfontein waarin twee appèlregters bevind het dat Goosey en Rosa Fernandes en hul seun, Justin, se aansoek om verlof tot appèl geen kanse op sukses het nie.

Die hofbevel is op 3 Augustus uitgereik en afskrifte daarvan het Nel se kantoor op 5 November bereik. Die Fernandes-gesin se aansoek teen hul uitsetting, wat vroeër in die hooggeregshof uitgereik is, is met koste van die hand gewys. Die bevel verbied die Fernandes-gesin verder om die eiendom te betree.

“Die gesin het Vrydag uit eie wil die perseel verlaat en hul private besittings daar gelaat nadat ons vir hulle genoeg tyd gegun het om dit op te pak. Die Rooimiere is vandag [Woensdag] na die perseel en ons het hul besittings op ʼn perseel langs die naaste teerpad gaan aflaai,” het Nel gesê.

Nel het daarop gewys dat die uitsettingsbevel slegs ten opsigte van die Fernandes-familie en hul losgoedere is en dat die roofdiere onder die likwidateurs van Validtrade se beheer val. Die likwidateurs het intussen die diere verkoop aan ʼn derde party om Validtrade se skuld te probeer delg.

Hy het egter diereliefhebbers gerusgestel dat die katte steeds op die perseel is, en dat daar behoorlik na hulle omgesien word deur die perseel se koper, en die tiere se wettige eienaar. “Hulle word goed versorg en sal nie honger ly nie. Die katte sal eersdaags na hul nuwe tuiste naby Lichtenburg in Noordwes verskuif word. Die eienaar van die park is ʼn bewaarder en liefhebber van eksotiese diere en sal goed na hulle omsien.”

Maroela Media het vroeër berig die uitsetting volg nadat die Fernandes-familie se destydse maatskappy, Validtrade 59 (Edms) Bpk, nie sy skuld kon betaal nie en gevolglik gelikwideer is. Kamp 248 Sabie Park BK het al die landbougrond uit die likwidasie gekoop en “goedgunstiglik” een gedeelte van die grond terugverkoop aan ʼn nuwe maatskappy van die Fernandes-familie, Naxxi Trading (Edms) Bpk.

Die gesin het egter nie in terme van die ooreenkoms presteer nie en die verkoper het die transaksie omstreeks Maart gekanselleer. Teen einde April is litigasie begin om ʼn uitsettingsbevel te bekom, wat toegestaan is. Die gesin het daarna ʼn aansoek tot verlof vir appèl ingedien, maar die koper het terselfdertyd ʼn reël 49(11)-aansoek ingedien. Dit is ʼn aansoek om die hof te vra dat die uitsettingbevel voort kan gaan, hangende die appèl.

Die kooptransaksie van 12 van die katte, waaronder tien tiere en twee leeus, is reeds in Maart met die nuwe koper gesluit. Vorige pogings om die katte by die koper uit te kry is egter in die wiele gery toe die Fernandes-gesin en talle diereliefhebbers op 8 Julie uitgangroetes na die park afgesper het om te keer dat die katte geskuif word, hangende die uitkoms van hul aansoek tot verlof om appèl.

“Dit is jammer dat die Fernandes-familie op sosiale media die publiek moes mislei om te glo dat hulle steeds die eienaars van die roofdiere is. Hulle het in ʼn laaste desperate poging beweer die diere gaan gejag word deur die nuwe koper om emosie aan te wakker. In werklikheid het die nuwe koper baie groter en beter geriewe vir die diere en geen vorm van jag vind plaas nie. Die nuwe eienaar het ook geld om sy diere kos te gee,” het Nel gesê.

Nel het gesê die geldinsamelingsprojekte waarin die Fernandes-gesin geld van die publiek vra vir die stryd om “hulle” diere te beskerm, kan moontlik neerkom op bedrog.

Hy het die gemeenskap versoek om die regsproses nou te respekteer en in ag te hou dat ʼn interdik die Fernandes-familie verbied om weer op die grond te kom ná die uitsetting.  “Enige persoon wat die Fernandes-familie bystaan om eksekusie te frustreer of terug te beweeg op die grond sal skuldig wees aan ʼn misdaad,” het hy gesê.

Justin het Woensdag aan Maroela Media gesê die gesin tref tans reëlings om hul besitting te gaan oplaai. “Ons sal daarna al die opsies bekyk oor wat ons te doen staan Tot dan kan ek nie verder kommentaar lewer nie,” het hy gesê.

  • Panjo het in Julie 2010 groot opspraak verwek nadat dié Bengaalse tier, ʼn geliefde troeteldier van die Fernandes-gesin, uit sy eienaar se bakkie ontsnap het. Hy was vir twee dae lank op vrye voet tussen Bronkhorstspruit en Groblersdal en is na ʼn reuse-soektog met sy dankbare eienaar herenig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

ek ·

Ek ken die mense persoonlik, my hart is baie seer vir hul part omdat ek weet hoe life hul die diere het… elke liewe een van die diere is in die mense se huis met die hand groot gemaak… dit is hul kinders, dit is n jammer dat ons nie meer die park sal kan besoek nie.

Werner ·

Ek ken hulle ook en daai diere het n beter lewe gehaat as wat ons mense het kani glo sulke hoed gebeur met goeie mense soos hulle nie hoe voel daai diere noudat hulle weg gevat word van hul eienaars dis net so goed jy vat n kind van sy ouers af ek hoop die mense wat dit gedoen het ly n swaar lewe

SNEL ·

Dis so hartseer, sulke pragtige diere, hulle is mos familie van die mense. Ek hoop regtig iewers lees of hoor iemand dit, wat kan help dat hierdie diere kan bly by hulle mense.

Wat n mooi foto, ek het geweet hulle is sterk, maar om n groot man so op die rug te dra, wow! Ai, ek dink dis wonderlik om sulke kontak met n wilde dier en veral so n pragtige een te hê.

Shannon ·

Waarom is die katte in Afrika ?
Kan die gesin aantoon dat dit nie bloot vir geldelike wins is nie ?

Marius ·

Die mense is werklik lief vir hul diere soos mens vir kinders sou wees…

SNEL ·

Waar is my kommentaar? Mens raak regtig lam as jy iets skryf en dit sonder rede nie geplaas word nie en sonder rede is; daar is niks wat nie aan die reëls voldoen nie :( ek tjank sommer n oseaan, want dis nie die eerste keer nie en ek voel nou dat ek net my kosbare tyd mors op niks.

Sune van Heerden ·

Dagsê SNEL

Jou kommentaar is goedgekeur op hierdie berig. Let asseblief daarop dat kommentaar soms in ‘n mandjie beland waar dit per hand goedgekeur moet word. Dit neem dus soms ‘n wyle voor die kommentaar goedgekeur is en op die webwerf verskyn.

Dankie vir jou aktiewe bydrae op Maroela Media en geduld in hierdie verband.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

SNEL ·

Hallo Suné

Baie dankie dat jy terug gekom het na my toe oor die kwessie. Ek het gedink dit lê iewers en wag om goedgekeur te word, maar dit het al gebeur dat my kommentaar sonder dat iets verkeerd was glad nie eers n dag later ook op is nie, en ek het net gedink dis alweer so geval. Ek is jammer ek het so gou opgetree, ek moes net nog n bietjie gewag het :) Baie dankie buitendien vir al julle harde werk, die feit dat julle ons altyd op hoogte hou van alles en julle geduld met ons lesers. Julle kort madaljes!

Terwyl ek nou met jou gesels Suné, as dit moontlik is, of julle nie miskien weer n opvolg berig kan plaas van hoe dit gaan met daardie man wat so vreeslik gebrand het toe die gasbottel ontplof het nie. Hy het so sleg gebrand en ek wonder gereeld hoe dit met sy herstel gaan.

Nogmaals dankie vir jou terugvoer.
SNEL

Sune van Heerden ·

Geen probleem! Ek stuur jou navraag deur aan die nuusredakteur.

Groetnis
Suné

MELISSA BECK ·

Wonder of die “nuwe eienaar” soveel liefde, tyd en omgee aan daardie diere gaan gee soos wat Justin en sy gesin het. Daardie katte is nie hul troeteldiere nie maar hul lewe, soos hul kinders.

Om daai diere-kinders weg te vat van hul ouers is die wreedste ding wat enige persoon kan doen.

Die mense daar buite wat dink dat die Fernandes gesin al hierdie diere het bloot vir geldelike wins moet asb tog die moeite doen om hulle persoonlik te ontmoet en leerken, sien hoe hulle met hulle diere-kinders is en dan weer dink oor hulle kommentaar. Totdat jy nie self die absolute liefde tussen daardie diere-kinders en die Fernandes gesin ervaar het nie is dit maar beter om net geen kommentaar te lewer nie.

So so hartseer dat dit met sulke wonderlike liefdevolle mense moet gebeur.

xxx

cindy ·

My hart gaan uit aan die Fernandes gesin. Ons ken hulle ook persoonlik en hulle is opregte diere mense. Dis hulle kinders daardie. Ek bid dat die nuwe eienaar hulle soveel aandag en liefde soos wat hul gekry het kaan gee. Ek wonder net wat nou van die Wolwe gaan word en die rooikat mamma wat babakies gaan he? Of syt al seker hulle? Wie gaan na haar omsien? Ek bid in my hart dat die skepper sy wakende hand oor die gesin en diere sal hou.

Franny ·

Ons as gemeenskap is beslis om die bos gelei deur die Fernandes-familie. Ek is regtig dankbaar vir persone soos die prokureur en sy span wat uit hul pad gaan sodat reg en geregtigheid kan geskied en die diere na ‘n faisliteit geskuif word waar hul beter af is. Dit het lankal nie meer oor die diere gegaan nie, maar oor mense se eie gewin. Dis vir niemand lekker om te verloor nie, maar ongelukkig in vandag se lewe verloor baie mense as gevolg van finansiële implikasies. Dit sal net reg wees vir die diere om te skuif na ‘n fasiliteit waar dit nie van ‘n gemeenskap se geldelike bydraes afhang of die diere hul volgende maaltyd gaan kry nie. Vir almal wat so pro-Fernandes is, gaan maak dalk eers mooi seker van jul feite voordat julle mense soos die prokureur en koper net aanval. Die gesin het dit vir baie mense rondom hul onmoontlik gemaak om mee saam te lewe, want bure se wild is onwettig gejag, afval-gate is nooit toegestoot nie wat ook roofdiere gelok het wat bure se wild opgevreet het en fondsinsamelings is gehou terwyl hulle ‘n lopende besigheid het in die stad. Daar is ook nie eers permitte vir al die diere wat daar aangehou is nie, hoe erg is dit? Hierdie is ‘n baie dieper saak as net die Fernandes-gesin wat hul tiere verloor en nou huil almal. Wens regtig mense wil eers seker maak van hul feite voordat hul enige iets skryf. En asb, voor enige iemand nou wil kom argumenteer hieroor, ek het bewyse van wat ek skryf. My huiswerk is baie deeglik gedoen…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.