Julius Malema weer in hof

Julius Malema in die hof. Foto: EFF/Twitter

Julius Malema, leier van die EFF, het weer Maandag in die Newcastle-landdroshof verskyn.

Malema het op aanklagte van die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste verskyn en die saak is tot 25 Februarie uitgestel hangende ʼn uitspraak oor die grondwetlikheid van die aanklagte.

Die EFF-leier se regspan betwis die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste en die EFF beskuldig die staat dat hy “wette uit die apartheidsera” gebruik om kritici stil te maak.

Talle ondersteuners het buite die hof saamgedrom waar Malema hulle toegespreek het. Hy het sy onlangse uitsprake dat die meeste Indiërs rassisties is, herhaal. “Ons het nie gesê alle Indiërs is nie. So, as jy ʼn Indiër is en jy is rassisties, dan weet jy ons praat met jou.”

Volgens Malema is daar dubbele standaarde rakende rassisme in Suid-Afrika aangesien hy gekruisig is oor sy uitlatings rakende Indiërs, maar dit nie ʼn probleem is as ʼn Indiër self sê die meeste Indiërs is rassisties nie.

Julius Malema spreek sy ondersteuners buite die hof toe. Foto: EFF/Twitter

“Dit is die probleem wat ons het in hierdie land. Dit is waar as ʼn wit persoon dit sê, dit is waar as ʼn Indiese persoon dit sê, maar wanneer dit deur ʼn persoon van ʼn laer klas gesê word, is dit onaanvaarbaar.”

Malema het ook van sy vorige uitlatings oor grondonteiening herhaal. Hy het aan sy ondersteuners gesê dat hulle almal binne die volgende vyf jaar grond sal hê en kan bewerk. “Elkeen van julle sal gelyk wees aan die wit minderheid. Dit is hoe die toekoms lyk. Van julle sal wit huishulpe hê.”

Malema het in April in die Bloemfontein-landdroshof op dieselfde aanklagte verskyn en die saak is tot 27 Julie uitgestel, ook hangende ʼn uitspraak oor die grondwetlikheid van die aanklagte teen hom.

Die aanklagte teen Malema hou verband met uitlatings wat hy in 2014 en 2016 gemaak het.

Malema het in 2014, by ʼn EFF-verkiesingskonferensie in Bloemfontein, aan EFF-lede gesê hulle moet grond beset. Nadat Malema verlede jaar op hierdie aanklagte in die hof verskyn het, het hy weer eens aan sy ondersteuners buite die hof gesê hulle moet “enige mooi stuk grond wat [hulle] sien, vat”, omdat dit “deur volksmoord” by swart mense afgeneem is.

Malema het in Junie 2016 vir sy ondersteuners gesê om grond te beset omdat dit aan swart mense behoort en wit mense nie eienaars van grond mag wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

jakes ·

Daar is n video op u-tube wat Malema mooi beskryf. Hy leef in n droomwereld en sy beperkte aanhangers sal nog uitvind dat hy n kansvatter is veral wanneer hy die oranje klere van korrektief gaan aantrek.

thinus ·

Sorry Jakes, jy leef in droom wereld: Malema se “beperkte aanhangers gaan dramaties groei sodra hulle begin grond gryp en die regering terug sit soos in ZIM. Hy het klaar belowe wit mense mag geen grond besit nie, nou gaan hy fokus op hul skole, huise en ja dalk nog jou motors ens. gee maar kans (nie baie lank nie)
En o ja, die tronk met oranje pakkie sal jy hom net so min sien as sy groot oom Zumpies.

Antie ·

Wit huishulpe?????? Malema, jy gaan vrek lank wag vir dit en dit sal nooit gebeur nie!!! Jy praat uit jou beurt uit dat jy belowe dat almal grond sal hê oor 5 jaar, julle wat nie eers kan boer nie, alles gaan agteruit!!! As die land nou heeltemal in sy kanon is, watter land gaan julle dan wil oorneem????

Sussie ·

Ag Malema jy maak ons siek klim van die kassie af want ons wil nie hoor wat jy te se het nie

Susan de Klerk ·

En nou wil Lesotho ook hulle grond terug eis. Kry vir jou Julius!!

Casper Labuschagne ·

Lesotho se geldige aansrpaak om grond begin net oos van Bloemfontein, suid van Heilbron en wes van Ladismith in Natal. Maar dit sal nie ‘n geldige aanspraak kan wees nie omdat die “oorspronklike wit sonde” gekanselleer sal wees as gevolg van die huidige swart regering in SA.

ne ·

Nou weet ons waar al die plaasmoorde vandaan kom. EFF soek grond vir sy mense.

GM ·

Daar is ‘n oulike video wat die rondte doen van ‘n Indiër wat reageer op Julius se uitsprake. Hy sê ‘n sekere bevolkingsgroep is moordenaars, en verkragters (onder andere) en sê dan, maar hy sê nie almal is so nie, net die meerderheid. Hy gebruik Julius se presiese woorde, en vervang net die verwysing na Indiër mense, sodat hy kan sien hoe dom sy stellings is wat hy maak. Hy vertel ook van hoe swaar Indiërs gekry het op ‘n stadium, maar hulle het hulself weer opgebou waar ander net afbreek en wil vat. Iemand moet dalk maar vir Julius ‘n Geskiedenis lessie of twee gee.

CJ ·

Tyd dat alle media Julius Malema totaal en al ignoreer. Hy laat my dink aan n stout kind: hoe meer aandag jy aan sy stoutigheid gee, hoe meer volhard hy daarmee. Ongelukkig het JM se uitsprake die geneigdheid on ons almal verkeerd op te vryf, maar hy is tipies n negatiewe leier.

Casper Labuschagne ·

Julius het nou effektief onaantasbaar geword, hy bedryf ‘n revolusie juis deurdat hy vir sy vergrepe vervolg word. ‘n Soortgelyke taktiek is met sukses in die Iranese revolusie voor 1978 gebruik, waar die terrein buite die howe die platforms van revolusie geword het. Die sukses van so ‘n strategie is lê daarin dat hoe meer hy sê, “gryp die grond” hoe meer word hy vervolg en hoe meer steun kry hy by die veertig miljoen wat nie grond het nie omdat hy namens hulle praat. Daarby kry hy nou ook deur die vervolgings die groot geskenk van ‘n “geskiedenis as kampvegter vir die bevryding” oftewel “struggle history”, iets wat hy glad nie het nie.

Vryheid ·

Julius bly sy swak selfbeeld en onkunde wys met kinderagtige uitlatings oor sake wat ver bo sy vuurmaakplek is. Dit is net in Afrika waar hy n ou plekkie het waar daar mense is wat na hom sal luister.

DR ·

Moet se ek kort n leier om na te volg, niks op die oomblik, dringend op soek

Roelien ·

Dit maak sin Casper. Dit ook so ervaar. Julius Malema het sy strategie en taktiek haarfyn beplan. Moet hom nie onderskat nie. Hy hoef nie geld uit te gee om n toespraak vir sy party te hou nie, hy sorg net dat hy in die hof kom, dan kry hy al die gratis publisiteit en platvorm. Hy gebruik die massas mense wat swaarkry om aan bewind te kom. Hulle moet net nie dink hy gee regtig vir hulle om nie

Freud ·

Wat hom gevaarlik maak is dat hy en sy volgelinge die snert glo wat hy kwytraak!

Kevin ·

Klagtes kom teen uitlating wat hy in 2014 en 2016 gemaak het, en nou word dit weer uitgestel? n Witpersoon sal al lankal in die tronk gesit het en nie eers borg gekry het nie….

Herman ·

Moenie dink dis ver gesog dat die EFF nie aan bewind kan kom nie. Maar nietemin werk hulle ondelings saam die ANC. Jammer maar ons loop die Zim paadjie. Mense emigreer en het minder kinders. Ons word al hoe minder..

Theresa ·

Die man se onsinnige snert maak mens regtig kwaad. En om te dink daar is hordes wat dit opslurp vir die waarheid. Wensdenkende patetisisme. my woord vir sy soort twak wat hy uitdink, op mikrofone uitskree en glo. Sies man.
Niks moeilik daaraan om mense op te rui nie. Dis om vrede en regverdigheid te hou wat ware leierskap uitlig. Siestog, sal dit seker nooit glo nie, want dis tog te lekker om al die aandag te kry wat arrogansie en grootpraat meebring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.