June het Oscar vergewe, maar glo hom steeds nie

June Steenkamp in Maart vanjaar (Foto: Phill Magakoe/AFP)

June Steenkamp het Oscar Pistorius lankal vergewe vir die dood van haar dogter, maar sy glo steeds nie sy weergawe dat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het nie.

June het nie Vrydag Pistorius se jongste paroolverhoor bygewoon nie. “Ek kon eenvoudig nie die energie bymekaarmaak om hom in hierdie stadium weer in die gesig te moet kyk nie,” voer sy in haar slagofferimpakverslag aan wat aan die paroolraad voorgelê en later aan die media verskaf is.

Pistorius word op 5 Januarie op parool vrygelaat. Hy is sedert 2016 in aanhouding nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in 2013.

Volgens June moes sy Pistorius vergewe aangesien “ek geweet het dat ek nie sou kon oorleef as ek aan my woede moes vasklou nie”.

Reeva Steenkamp

Sy het Reeva as ʼn wonderwerkbaba beskryf nadat daar vir haar gesê is sy sou moontlik sukkel om swanger te raak ná ʼn vorige miskraam.

“Ek en Barry het groot drome vir Reeva gehad. Van ʼn baie jong ouderdom af het sy die vermoë gehad om ʼn vertrek met haar teenwoordigheid te verlig. Toe sy op 20-jarige ouderdom van ʼn perd afgeval en maande lank moes herstel het, het sy besluit om ʼn model te word en haar openbare profiel te gebruik om ondersteuning vir die slagoffers van huishoudelike mishandeling en verkragting te werf.”

In die 29 jaar wat Reeva geleef het, het sy in ʼn afgeronde jong dame ontwikkel, haar regsgraad voltooi en ʼn suksesvolle modelloopbaan begin.

“Dit het my die grootste deel van tien jaar geneem om te besef dat dit gelyk het of Reeva haar roeping gedurende haar lewe vervul het en meer oorvloedig so, in haar tragiese dood. Reeva se naam en haar afsterwe verhoog steeds bewustheid rakende geslagsgebaseerde geweld wêreldwyd.”

Volgens June het Reeva kort voor haar dood begin praat oor trou en kinders kry. “Die pyn wat deur die afskuwelike moord op Reeva veroorsaak is, het nie net emosionele trauma ingesluit nie. Dit het ook trauma ingesluit wat fisiek gemanifesteer het, soos duidelik geword het in die versnelde agteruitgang in my én Barry se gesondheid. Ek kan bevestig dat ons lewe ernstig geraak is – fisiek, emosioneel en finansieel.”

Barry en June Steenkamp in Februarie vanjaar (Foto: Verskaf)

Barry is in September vanjaar oorlede. “Ek het geen twyfel dat Barry aan ʼn gebroke hart gesterf het nie. Geen ouer moet ʼn kind begrawe nie en beslis nie in die omstandighede wat geheers het met die afsterwe van Reeva nie. Die feit dat hy met Reeva herenig is, bied ʼn bietjie rus, maar verlig nie die geweldige gevoel van verlies waarmee ek moet vrede maak nie. Barry se afsterwe het die wonde op baie maniere oopgemaak wat deur Reeva se dood veroorsaak is.”

Die enigste hoop wat Barry oorgehad het, was dat Pistorius dit in homself sou vind om uiteindelik die volle waarheid te vertel, sê June.

“My liefste kind het om haar lewe geskree; hard genoeg vir die bure om haar te hoor. Ek weet nie wat aanleiding gegee het tot sy keuse om vier keer deur ʼn geslote deur op iemand te skiet nie, terwyl hy, soos ek glo, geweet het dit was Reeva. Ek weet wel dat boodskappe wat deur Reeva gestuur is groot woedekwessies uitlig.” June het weer WhatsApp-boodskappe, wat destyds tydens Pistorius se moordverhoor in die hof voorgelê is, in haar slagofferimpakverslag opgehaal.

Oscar Pistorius destyds tydens sy moordverhoor. (Foto: KAREL PRINSLOO / AFP)

Volgens June weet sy nie in watter mate hierdie gedrag steeds bestaan of duidelik was tydens sy tyd in die tronk nie, maar tog is sy bekommerd oor die veiligheid van enige vrou as dit nie in sy rehabilitasie aangeraak is nie.

“Ek weet nie watter rehabilitasieprogramme Oscar bygewoon het terwyl hy in die tronk was nie, maar ek hoop van harte dat sy rehabilitasie psigoterapie ingesluit het om sy humeur en beledigende gedrag teenoor vroue te hanteer. In hierdie stadium is ek nie oortuig dat Oscar gerehabiliteer is nie.

“Rehabilitasie vereis van iemand om eerlik met die volle waarheid van sy misdaad en die gevolge daarvan om te gaan. Niemand kan daarop aanspraak maak dat hy berou het as hy nie in staat is om ten volle by die waarheid betrokke te raak nie. As iemand nie berou toon nie, kan hy of sy nie as gerehabiliteer beskou word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.