Junior bestuurderes reël glo Spur-‘rooftog’

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Junior bestuurder het glo Dinsdag se nabootsing van ʼn gewapende roof by die San Diego Spur in die Mountain Mill-winkelsentrum in Worcester in die Wes-Kaap gereël om “personeel op te lei”.

“Sy het die nabootsing op haar eie inisiatief gereël, en buite haar magte opgetree,” het Pierre van Tonder, Spur se uitvoerende hoof, Woensdag aan Maroela Media gesê. Hy het gesê die Spur-groep volg ʼn spesifieke beleid as dit by enige vorm van opleiding kom, en dit is nie in hierdie geval gevolg nie. “Ons betreur dit wat gebeur het. Die ergste is dat, in lig van al die onlangse aanvalle by winkelsentrums, dit families erg getraumatiseer het.”

Die kamma-rooftog volg nadat vyf gewapende mans Sondagaand die Alamo Spur in die Tygervallei-winkelsentrum in Bellville beroof het.

Van Tonder het gesê die bestuurderes, in haar laat 20’s, gaan formeel dissiplinêr verhoor word.

Die eienaar van die winkel het reeds met klante wat hierdeur geraak is geskakel en om verskoning gevra. Daar word ook berading gereël vir diegene wat dit benodig.

​Sam Orton, Mountain Mill se sentrumbestuurder, het aan Maroela Media gesê die bestuur was ook nie van die ‘oefening’ bewus nie. Hy het ook bevestig dat die bestuurderes die inisiatief geneem het sonder om die winkeleienaar in kennis te stel. “Daar is protokol in plek wat gevolg moet word as enige oefening in die sentrum beplan word, en daar moet daar skriftelike toestemming daarvoor gegee word,” het Orton gesê. “Indien hulle ons toestemming gevra het, sou ons dit elk geval nie goedgekeur het nie, want dit is onverantwoordelik.”

Hy het gesê die sentrumbestuur is ongelukkig oor die voorval en voel daar is verkeerd opgetree. “Ons sal ʼn omsendbrief aan al ons huurders stuur om ons reëls en regulasies te beklemtoon.”

Maroela Media het Dinsdag berig die voorval het omstreeks 09:45 plaasgevind. ʼn Ooggetuie wat by ʼn ander restaurant gesit het, het vertel hoe sy skielik mense uit die Spur sien hardloop het. “Daar was absolute chaos. Mense in die Food Court het ook begin hardloop en daar was selfs iemand wat by die Mugg & Bean gegil het,” het sy gesê. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

julius ·

Die persoon wat by Mugg and Bean “gegil” het, het seker sopas na hul pryse gekyk.

Bielie ·

Niks soos ‘n regsgeding om die ouens weer op hulle tone te bring nie. Om by Spur te eet is al klaar marteling. Die hof sal vir die mense ‘n prys gee omdat hulle die mense se gesondheid gespaar het nie.

Babs ·

Onnosel! In ‘n ander berig is genoem dat iemand met ‘n vuurwapen uit die Spur gehardloop het. Wat as iemand op hom geskiet het of iemand ‘n hartaanval gekry het as gevolg van skok?

koos ·

Dank die bestuurderes af. So eenvoudig soos dit, want sy is so dom soos grond!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.