Justin Bieber-kaartjiehouers boos oor terugbetalings sloer

Justin Bieber. (Foto: Dimitrios Kambouris/Getty Images/AFP)

Dit blyk dat ʼn verskoning wat Suid-Afrikaners goed ken die rede is waarom terugbetalings vir Justin Bieber se geskrapte konserte sloer.

Weens ʼn “tegniese haakplek” met hul betalingsvennoot sukkel Ticketmaster SA – wat kaartjieverkope vir die Suid-Afrikaanse been van Bieber se konsert hanteer – om terugbetalings aan kaartjiehouers toe te ken.

Veral Kaapse aanhangers wag reeds weke lank vir hul kaartjiegeld nadat Bieber dele van sy Justice World Tour-konserte weens gesondheidsuitdagings gekanselleer het.

Bieber sou op 28 September 2022 by die DHL-stadion in Kaapstad opgetree het en op 1 Oktober by die FNB-stadion in Johannesburg. Dié konserte is egter amptelik geskrap.

Big Concerts, die organiseerder van die konserte, het in ʼn verklaring verduidelik dat dié “tegniese haakplek” te wyte was aan data wat outomaties van die betalingstelsel verwyder is. Terugbetalings kon dus nie outomaties plaasvind nie, aangesien die maatskappy klante se betalingsdata self via ʼn lang proses moes opspoor.

Volgens Kaya FM is terugbetalings vir die Johannesburgse been van die konserte grotendeels afgehandel, terwyl ongeveer 40% van die Kaapse kaartjiehouers steeds in spanning vir hul geld wag.

Ticketmaster SA se sosialemediablaaie skets egter ʼn ander prentjie.

Kommentaar stroom deurlopend van talle Johannesburgse kaartjiehouers in wat skryf dat hulle steeds geen betalings ontvang het nie, ondanks die feit dat hulle ʼn e-pos ontvang het wat sê dat hul terugbetaling suksesvol afgehandel is.

Volgens Ticketmaster kan konsertgangers nou egter ʼn terugbetaling in “vyf tot 10 dae” verwag.

Daronn Carroll, ʼn inwoner van Brackenfell in die Wes-Kaap, het aan Maroela Media vertel dat Ticketmaster SA voorheen in ʼn e-pos belowe het dat kaartjiehouers se geld reeds tussen 21 en 29 September aan hulle terugbesorg sou word.

In dié e-pos verduidelik Ticketmaster dat daar “ʼn vertraging in die verwerking van terugbetalings was” en dat “die bank tans daaraan werk om die betaling te bespoedig”.

Skermskoot uit ‘n video waar Justin Bieber vir aanhangers wys hoe sy gesigverlamming lyk. (Video: Justin Bieber/Instagram)

Volgens Ticketmaster sou dit ook 14 werksdae neem vir die geld om in klante se rekening te wys indien dit wel suksesvol geprosesseer is.

Carroll se 14-jarige dogter het reeds in Desember 2021 haar kaartjie teen R1 029 gekoop.

“Dit is feitlik onmoontlik om iemand van Ticketmaster in die hande te kry. Hulle antwoord nie navrae of boodskappe op sosiale media nie en daar is nie ʼn telefoonnommer waar mens hulle kan kontak nie. Natuurlik frustreer dit my nog meer omdat dit oor my dogter gaan, veral omdat sy self hard gewerk en gespaar het om dié kaartjie te bekostig. Hulle maak nie reg met ʼn mens nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat Bieber in Junie vanjaar onthul het dat Ramsay Hunt-sindroom by hom gediagnoseer is. Dié sindroom het gedeeltelike gesigsverlamming by die 28-jarige sanger veroorsaak.

Ná die diagnose het hy ʼn blaaskans van sy wêreldtoer geneem en die res van sy vertonings in die VSA uitgestel, maar teruggekeer verhoog toe vir die Europese been van sy toer, hoewel hy ná slegs ʼn maand besef het dat hy nog rus nodig het.

Die sanger het ʼn aankondiging oor sy besluit vroeër in ʼn Instagram-plasing gemaak en gesê dat die vertonings wat hy wel nagekom het ʼn tol op sy gesondheid geëis het.

Dit is nog nie bekend of hy dié toer weer in die komende jaar sal hervat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

Baie interessant! Almal wag in spanning vir die oorsaak van die eienaardige voorval. Indien dit ooit bekendgemaak sal word.

Renier ·

dalk soek hulle so maand of 2 se rente voor hulle terug betaal.

Leon ·

Dit is n baie ou trick , ek het dit destyds op Lourenzford in die Helderberg op Christo Wiese se plaas met Celine Dion se konsert oorgekom julle gaan nooit julle geld kry nie

George ·

Baie het reeds ontvang, ons het ons 8 kaartjies se gelde reeds gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.