Justisie maak vordering ná kuberaanval

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Die departement van justisie het gesê hy maak goeie vordering ná ʼn kuberaanval in September 2021.

Steve Mahlangu, woordvoerder van die departement, sê ʼn span van die departement, spesialiste uit die bedryf en raadgewers van staatsorganisasies kon die verspreiding van die skadelike sagteware beperk. ʼn Getal aanlyn dienste is reeds in ʼn veilige omgewing aangeskakel.

Die span het ook daarop gefokus om seker te maak dat die uitbetaling van kinderonderhoud so min as moontlik ontwrig word.

“Nóg ʼn kritieke area wat hoë prioriteit geniet het, is die elektroniese opname van hofverrigtinge, om seker te maak die howe kan soos normaal voortgaan,” sê Mahlangu. “Meeste van die opnames is onaangetas en kon weer met die sentrale bewaarplek gesinchroniseer word.”

Waar howe steeds uitdagings beleef is spesiale kapasiteit beskikbaar gemaak om navrae op ʼn saak-vir-saak basis te hanteer.

Die webportaal wat deur persone gebruik word om hofopnames te transkribeer is ook suksesvol herstel.

“Goeie vordering is ook gemaak om die geïntegreerde saakbestuurstelsel (ICMS) te herstel. Dié administratiewe stelsel word deur alle howe gebruik, veral die kantoor van die meester van die hooggeregshof. Dele van die stelsel is reeds toeganklik, soos die kuratorskap en aanlyn portale vir geskiedkundige soektogte.”

Mahlangu sê nog werk sal in die komende paar dae gedoen word om die proses af te handel om aanlyn funksionaliteit te herstel wat betref onder andere trusts, afgestorwe boedels en insolvensies.

“Ná ʼn hoëvlak assessering afgehandel is oor ʼn moontlike uitlek van persoonlike inligting, en kragtens die voorskrifte van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, is ʼn kennisgewing uitgereik aan alle betrokke persone. Die departement het sy sekuriteitsmaatreëls verskerp om sensitiewe persoonlike inligting te beskerm.”

Dié maatreëls sluit opgradering van die IT-sekuriteitstelsel in en strenger toegangskontrole.

Die departement bedank lede van die publiek vir hul geduld en begrip tydens dié krisis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.