Justisieminister sê nie oor Kroukamp nie; Solidariteit gaan weer hof toe

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit het gesê Michael Masutha, die huidige minister van justisie, het nie sy verbintenis nagekom om voor Dinsdag terugvoering aan die vakbond te gee rakende landdros Martin Kroukamp se aanstelling as senior landdros nie.

Solidariteit het gesê hy sal gevolglik sy hofsaak namens landdros Kroukamp in die gelykheidshof voortsit. Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het minister Masutha op 23 September, toe die saak in die gelykheidshof aangehoor moes word, Solidariteit versoek om hom die geleentheid te bied om sy voorganger se besluit te heroorweeg.

“Die gelykheidshof het toe beveel dat die saak tot ná 21 Oktober 2014 uitgestel word. Solidariteit is teleurgesteld dat die minister nie sy verbintenis om landdros Kroukamp se aanstelling te heroorweeg, nagekom het nie. Minister Masutha het die saak onnodig uitgestel en het, deur sy versuim om sy verbintenis na te kom, sy integriteit onder verdenking geplaas. Solidariteit sal eenvoudig die stryd voortsit en voortgaan om die saak weer te laat aanhoor,” sê Groenewald.

Groenewald het gesê die positiewe kant hiervan is dat die gelykheidshof nou die geleentheid gebied sal word om die kwessie van absolute rasseverteenwoordiging te oorweeg. “Die publiek is geregtig op die beste regspleging moontlik. Om sulke senior poste vakant te laat en dan terug te trek op grond daarvan dat ʼn wit man nie transformasie sal bevorder nie, is eenvoudig onaanvaarbaar en moet hand en tand beveg word.”

Groenewald het gesê Solidariteit sal wéér die vorige minister van justisie, minister Jeff Radebe, dagvaar om oor sy besluit om landdros Kroukamp nie as senior landdros aan te stel nie, te getuig. “Daarby sal Solidariteit ook versoek dat die besluit om 22 ander poste vir senior landdroste terug te trek en weer te adverteer, heroorweeg word,” het hy gesê.

Klik hier om vorige berigte oor dié saak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.