Juwelier dink verdagtes is klante, toe klap skote

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die Gautengse polisie is op die spoor van twee vermeende rowers nadat hul vroulike makker Sondag gedurende ’n gepoogde rooftog by ’n juwelierswinkel aan die Oos-Rand doodgeskiet is.

Die eienaar van Daniella’s Jewellers in Northmead Square in Benoni het die vrou na bewering doodgeskiet, nadat dié en twee mans op die winkel toegeslaan het.

Lt.kol. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die drie verdagtes het kort na 11:00 by die winkel ingestap en hul as klante voorgedoen.

Die verdagtes het ’n vuurwapen te voorskyn gebring en dit op die vroulike winkeleienaar gerig. Die eienaar het haar vuurwapen uitgepluk en skote is afgevuur.

Die vroulike verdagte is glo in die maag geskiet, waarna die twee mans in ’n wegkommotor gespring en weggejaag het.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die vroulike verdagte is met die nooddienste se aankoms leweloos in die ingang van die juwelierswinkel aangetref en dood verklaar.

Paramedici het aanvanklik gedink die eienaar van die winkel is ook geskiet. Dié vrou het egter net snye aan haar hande opgedoen weens gebreekte glas en is na ’n private hospitaal geneem vir mediese behandeling. Volgens Masondo se inligting het die eienaar beserings aan haar been opgedoen.

Bestuurders van die spesifieke winkel wou nie kommentaar lewer nie, maar volgens die bestuurder van ʼn ander tak van dieselfde juwelier, is die eienaar nie ernstig beseer nie. Geen klante is ook in die voorval beseer nie en die winkel is intussen weer oopgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Heinrich ·

Aan die eienares; jammer jy moes hierdeur gaan. Jy het egter die land ‘n beter plek gemaak, ek salueer jou.

jzjz05 ·

Goed vir julle dat lulle ongeskonde daar uitgekom het. Laat dit ook vir die skelems n les wees dat hulle ook tweede kan kom..

Di ·

Een minder om voor te sorg in die tronk! Net jammer die ander 2 het wegggekom

Danie ·

Wel gedaan.
Maar ek wonder nog hoekom sulke winkels nie metaalverklikkers by die deure het nie.
Kan dit die koste wees?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.