Jy bly tuis; voertuigboewe nié

(Foto: Nabeel Syed/Unsplash)

Waar daar tydens die aanvang van die afsonderingstydperk ʼn beduidende daling in die getal voertuigverwante misdaad was, neem dié misdaad nou weer toe namate beperkings verslap word en al hoe meer mense terugkeer werk toe.

Die voertuigopsporingsmaatskappy Tracker se data van sy 1,1 miljoen opsporingstoestelle het in die eerste week van die afsonderingstydperk ʼn daling van 90% in herwinningsbedrywighede gewys in vergelyking met die weeklikse syfers voor afsondering.

Die polisie het ook al aangedui dat daar ʼn daling in die sogenaamde trio-misdade – kapings, sakerooftogte en huisrooftogte – tydens die afsonderingstydperk was. In die eerste week van die landwye afsondering is 2 098 van dié misdade aangemeld. In dieselfde tyd verlede jaar is 8 853 trio-misdade aangeteken.

Tracker sê daar is tans ʼn groot toename in die getal voertuie wat gesteel of gekaap word. In die eerste week van fase 4 van die afsondering is die aantal herwinnings reeds ses keer meer as in die eerste week van die aanvanklike afsonderingstydperk – en die aantal herwinnings wat die maatskappy doen, is nou maar net 35% minder van dít wat hy in normale omstandighede sou doen.

Voertuigverwante misdaad gaan waarskynlik selfs verder toeneem – na dieselfde vlak of moontlik hoër – terwyl Suid-Afrikaners terugkeer werk toe en misdadigers hul bedrywighede hervat, aldus Tracker.

In die eerste drie weke het kapings, eerder as motordiefstal, ʼn groter gedeelte van Tracker se voertuigherwinningsbedrywighede beslaan. Vóór die afsonderingstydperk was dit eweredig verdeel.

Tydens die aanvanklike afsondering was 63% van die voorvalle waarop Tracker gereageer het, kapings en 37% van die voorvalle was diefstal. Nadat die afsonderingstydperk verleng is, het Tracker ʼn terugkeer na die gewone verdeling gesien.

“Die neiging na kapings tydens die afsonderingstydperk is moontlik ʼn opportunistiese manier waar misdadigers toeslaan op voertuie wat buite is, terwyl die meeste ander voertuie veilig toegesluit is.”

Tracker sê daar was ook ʼn toename in die getal voertuie wat vir hul vrag geteiken word – en veral voertuie wat kos of snel bewegende verbruikersgoedere (FMCG’s) vervoer, loop deur. Tracker sê in sommige gevalle word kliënte van hulle waardevolle items of groot hoeveelhede kontant beroof.

“Die afname in voertuigverwante misdaad tydens die afsonderingstydperk kan toegeskryf word aan die kleiner getalle voertuie op die pad en die groot teenwoordigheid van wetstoepassers. Ons sien egter ʼn toename in misdaad terwyl voertuiggetalle toeneem en ons verwag dat ons reeds dié week nog na pre-Covid-19-syfers gaan terugkeer,” het Ron Knott-Craig, operasionele hoof by Tracker, gesê.

“Soos die res van die land hervat misdadigers ook hul bedrywighede onder die verslapte regulasies.”

Hy het mense gewaarsku om ekstra waaksaam te wees, veral as hulle terugkeer nadat hulle inkopies gaan doen het, terwyl sake stadigaan weer normaal begin verloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Nou vertel nou vir my. Gewone Burgers word gearresteer net deur in die straat te loop maar niemand arresteer hierdie BOEWE nie. Jy kzn ongelukkig nie sê wat jy wil nie maar jy kan dink wat jy wil. Word hulle beskerm?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.