‘Jy dink dit sal nooit met jou gebeur nie’

Leilani Kuter (47), stigter van die nieregeringsorganisasie Yellow for Survivors. (Foto: Janice du Plessis / Maroela Media)

Verkragting, aanranding en roof kan op enige plek gebeur, en daarom is dit belangrik dat vroue en kinders vaardighede aanleer om hulself te kan verdedig, sê Leilani Kuter (47), stigter van die nieregeringsorganisasie Yellow for Survivors.

Dié organisasie het vanjaar weer hande gevat met Never Tap Out, ʼn organisasie wat mense bemagtig om hulself te beskerm en verdedig, om gratis selfverdedigingsklasse tydens die nasionale 16 dae van aktivisme aan te bied.

Altesame 32 vroue en drie kinders het verlede Saterdag by Zitapark in Garsfontein, Pretoria, saamgekom om hierdie tegnieke te leer.

In dié twee uur lange sessie het Gary Lewis en Carien Davel van Never Tap Out verskeie selfverdedigingstegnieke vir verskillende voorvalle aan die groep gedemonstreer, en aan elkeen die geleentheid gebied om dit self in te oefen en vrae te vra.

Shantha Spannenberg (28) en Mcanally Marshall (37) het saam met hul kinders van Eersterust in Pretoria gekom om die sessie by te woon.

Gary Lewis en Carien Davel van Never Tap Out, het verskeie selfverdedigingstegnieke aan die groep gedemonstreer. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Ons bly in Suid-Afrika. Ons moet weet hoe om onsself te verdedig en ons kinders moet ook leer,” het Marshall aan Maroela Media gesê.

Igna Engelbrecht (45) en haar twee dogters, onderskeidelik 13 en 17 jaar oud, van Witbank in Mpumalanga, was ook daar.

Engelbrecht meen dit is uiters belangrik om dié tegnieke aan te leer sodat “jy proaktief kan dink en optree”.

“Dit kan ‘vries’ in ‘veg’ verander,” het sy gesê.

Temcke Zwiegelaar (30) het die sessie vanjaar vir die tweede keer bygewoon, en sê dit is belangrik om jou vaardighede deurlopend op te skerp.

“Dink maar net aan die sagteware van ʼn selfoon. Hoe meer dit opgedateer word, hoe beter word dit. So moet jy ook ‘jou eie sagteware’ opdateer.”

Manier om ander te help

Leilani Kuter leer ’n jong seun selfverdedigingstegnieke. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Kuter sê die klasse wat sy nou organiseer is haar manier om ander mense te help en hulle met vaardighede toe te rus wat moontlik kan help om ʼn aanval of verkragting af te weer.

Sy het self 29 jaar gelede ʼn gewelddadige verkragting op die ouderdom van 18 oorleef. Die verkragter het destyds geel aangehad en vandaar die naam Yellow for Survivors.

“Mense dink werklik ‘dit gaan nooit met my gebeur nie’.

“Dit gaan ook nie net oor verkragting nie, maar ook ander vorme van geweld soos roof of aanranding, wat op enige plek – selfs in ʼn winkelsentrum – kan gebeur.

“Hierdie vaardighede maak jou nie skielik ʼn hero nie. Dit maak nie van jou ʼn Johnny Bravo of Lara Croft nie; nee, dit gee jou bloot die regte gereedskap om jouself te kan help.”

Gary Lewis en Carien Davel van Never Tap Out, het verskeie selfverdedigingstegnieke aan die groep gedemonstreer. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Kuter sê voorts mense is ook geneig om te dink dat hulle bloot in ʼn noodsituasie sal “vries”.

“Wat as jy nie vries nie? Wat as jy veg? As ek destyds die regte vaardighede gehad het, kon dinge dalk anders gewees het. Dit kon my dalk gehelp het.”

Die volgende gratis sessie word Saterdag 4 Desember tussen 09:00 en 11:00 by Rietvallei-diereplaas in Alberton aangebied. Vroue, mans en kinders is welkom om enige van die gratis klasse by te woon. Gratis klasse word ook aanlyn beskikbaar gestel.

Verlede week se sessie is deur Spar geborg. Enigiemand wat betrokke wil raak of skenkings wil maak, kan ʼn e-pos aan [email protected] stuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Perdeby ·

Ek is ook ‘n vrou, maar alles gaan altyd oor vroue en kinders, of staar julle, julle blind teen die mans wat deur hulle vrouens mishandel en aangerand word? Hoeveel kinders is daar nie wat hulle bejaarde ouers verbaal verniel en aanrand, toesluit in ‘n kamer vir dae sonder kos, water of toilet geriewe. Gee bietjie aandag daaraan ook.

Anonymouse ·

Niks keer jou om aandag daaraan te gee nie. Moenie altyd vir ander mense wag om stappe te neem wat jy dink is belangrik.

SlinkseKoljander ·

Baie dankie! Dit is asof vroues en kinders niks vir hulleself kan doe nie. Net soos die BLM beweging, alle lewens is belangrik.

Vat geslag en ras uit alles.

Hennie ·

GFSA gaan ook seker ‘n eier lé, hulle is mos van mening dat vrouens hulself net oorgee an hul aanvaller/s.

Shakespeare ·

Ek het nie meer woorde vir die poel van hel wat die ANC/EFF ons in gedompel het nie……en die gemors rugsteun al die moord en doodslag.

Perdeby ·

Shame en dit is ook net vrouens en kinders wat in winkelsentrums geroof en geskiet word. ……………………………………Julle het totaal en al die plot verloor. “Dit gaan ook nie net oor verkragting nie, maar ook ander vorme van geweld soos roof of aanranding, wat op enige plek – selfs in ʼn winkelsentrum – kan gebeur.

Alet ·

Wonderlike inisiatief. Dit mag dalk net n paar vroue help. Doet zo voort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.