‘Jy het my nommer,’ sê Eben vir Bakkies

Die Springbokke se Eben Etzebeth. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Vergeet maar van die komende kryt-stryd tussen Eddie Hall en Hafthor Björnsson, ’n mens sal bereid wees om op te dok vir ’n kaartjie as Eben Etzebeth en Bakkies Botha sou besluit om die bokshandskoene vir ’n vertoongeveg nader te trek.

Veral noudat daar ’n lekker storielyn tussen die twee Springbokbrekers ontwikkel het.

Dit het alles begin nadat die 30-jarige Etzebeth aangedui het dat hy teen die einde van die huidige Europese seisoen om persoonlike redes Toulon vir die Haaie gaan verlaat.

“Ek sal egter steeds my beste vir die span gee om sodoende te verseker dat sy posisie op die punteleer verbeter,” het hy in ’n onlangse verklaring gesê.

Dit was egter een te veel vir Botha – ’n vuurvreter wat in sy speeldae ’n rits titels saam met Toulon gewen het.

Die 42-jarige voormalige slot het in ’n onderhoud met die Franse koerant Midi Olympique gesê dat Etzebeth ’n ongelooflike speler is, maar selde op sy beste vir Toulon is.

“Hy is die voorste slot ter wêreld, maar hy speel ongelukkig net sy beste rugby vir die Springbokke. In die kleure van Toulon is hy voortdurend beseer, herstel van harsingskudding en speel uiteindelik nooit nie,” het Botha aangevoer.

Volgens die voormalige Bloubulspeler is Etzebeth nie gemaak vir rugby in Frankryk nie, terwyl hy sy rug op die klub se probleme gedraai het met sy beplande terugkeer na Suid-Afrika.

“Dit is teleurstellend. Ek is mal oor Eben, maar jy kan nie met jou aankoms by Toulon sê dat jy “die kampioen van Frankryk” wil wees en dan ’n rukkie later – sonder dat jy veel van ’n verskil by die klub gemaak het – loop nie.”

Bakkies Botha het in sy speeldae ’n spul trofees saam met Toulon gewen. Foto: Bertrand Langlois/AFP.

Botha het drie keer vir Toulon gehelp om die Europese Kampioenskap te wen, terwyl hy ook die Top 14-trofee omhoog gehou het.

Nodeloos om te sê was Etzebeth – ’n Springbok-veteraan met 97 internasionale toetse agter sy naam – nie te ingenome met Botha se kritiek nie.

“Bakkies Botha – ek neem kennis. Jy het my nommer vir die volgende keer wat jy jou mening wil afdwing,” het hy getwiet terwyl hy die oud-Springbok sommer aan sy erekode herinner het.

Etzebeth was geruime tyd langs die veld nadat hy in die Bokke se toets teen Engeland op Twickenham vir die derde keer harsingskudding opgedoen het.

Dan het hy Toulon se jongste wedstryd teen Perpignan met ’n kuitbesering misgeloop en hy sal waarskynlik vir nóg ’n maand op die krukkelys wees.

Tog het hy die een skittervertoning na die ander vir die nasionale span gelewer en was hy as’t ware die gom wat die Springbokpak aanmekaar gehou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Anoniem ·

Maklike sommetjie Eben, hoe lank was jy by Toulon, hoeveel keer het jy vir Toulon gespeel, hoeveel is jy betaal en hoe lank was jy buite aksie gedurende die tydperk?

piet ·

Kan hy help dat hy beseer was? Jy kan nie vir jou klub speel as jy beseer is of vir jou land speel in die toetsgleuwe nie. Wat hy betaal is, het niks met enige iemand uit te waai nie. Hy’t ‘n kontrak met die klub gesluit en dit is ongelukkig so dat spelers beseer kan raak en nie kan speel nie en die klub weet dis een van die risiko’s. Bakkies se kritiek is ongevraagd. Was Pollard nie ook lank beseer op ‘n stadium toe hy so baie betaal is by sy Franse klub nie? Spelers soos Johan Goosen was ook baie beseer toe hy daar gespeel het.

Anoniem ·

Selfs Toulon se grootbaas het gereken dat Eben ‘n las is vir die klub.

piet ·

Presies. Top-spelers moet in die toekoms maar tweekeer dink voor hulle vir daai klub wil speel. Eerste keer dat ek sien ‘n klub het ‘n probleem as spelers nie kan speel as hulle beseer is nie. Bereid om spelers vir groot bedrae te koop maar lyk my nie heeltemal so verdraagsaam as dit kom by die risiko’s daaraan verbonde nie. Lyk na ‘n toksiese werksomgewing, Eben doen die regte ding om daar weg te kom.

N ·

Ok, maar meet dan gelyk. Bakkies het aan die einde van sy loopbaan vir Toulon gaan speel. (Laaste paar skille maak). Eben speel gelyk vir Toulon en die Bokke. Die man het n kop besering gekry maar daar word van hom verwag om te speel?

Riaan ·

Jy moet sê OOM Bakkies my broer, bietjie respek toon aan die ouens wat daar was en deur dit is. In sy glorie dae sou hy jou ‘n goeie pakslae gegee het, moontlik selfs nogsteeds

piet ·

Niemand gee ‘n Etzebeth pakslae nie maar julle ouens daar in die Noorde sal dit nie weet nie. Etzebeth het reeds meer toetse as Bakkies gespeel, dalk moet Bakkies meer respek vir Eben he.

krodedil ·

Piet deur ‘n groot hoeveelheid toetse te speel beteken absolute NIKS. Kyk na die bok kaptein. Hy het vir 5 minute lank ‘n 1000 toetse gespeel en het nog steeds geen impak in ‘n game nie.

piet ·

Jy kyk duidelik nie dieselfde wedstryde as ek nie. Kolisi was een van ons beste spelers verlede jaar en is ook SA rugbyspeler van die jaar (kon net sowel Eben gewees het). As daar nou twee spelers is wat wel ‘n geweldige impak gemaak het, is dit Kolisi en Eben. Bietjie tyd dat jy daai kleurbril afhaal en krediet gee waar dit hoort. Bakkies was in elk geval nie so goed soos Eben nie, hy’s net jaloers.

Sobymykoolkop ·

Totaal nie ń aanhanger of ondersteuner van een van die 2 nie, maar Bakkies is 100% reg. As ek heer Eben was sou ek te skaam gewees het om die miljoene van Toulon te vat, want dis beslis nie ” verdien ” nie.

piet ·

Dis ongelukkig soos dit werk. Sal jy daarvan hou as die maatskappy waarvoor jy werk ophou om jou te betaal as jy afsiek is? Rugby is ‘n risikobedryf, spelers kan maklik seer kry en kan dan nie speel nie. “It comes with the territory”

MakersMark ·

Bakkies is reg. Dalk is Franse rugby harder as ‘n kroeggeveg in Langebaan.

Corne123 ·

Ag Eben maak die waarhied seer? Sharks het jou nou gekoop vir wat wonder ek ook om hele tyd op kantlyn te sit met beserings?

Chris dupreez ·

Dit is nou regtig nie nodig vir Bakkies om enige kommentaar te lewer oor n ander speler se doen en late nie.

Johan David ·

Bakkies moet sy neus uit ander mense se sake uithou en konsentreer op watookal hy nou doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.