Jý is dalk op vakansie, maar misdadigers nié

(Argieffoto: pixabay)

Dis daardie tyd van die jaar. Tyd om te ontspan en ʼn blaaskans te neem, maar wees gewaarsku: net omdat jý met vakansie is, beteken nie misdadigers is ook nie.

Die veiligheidskenner en private ondersoeker Mike Bolhuis sê in die vakansietyd beweeg misdadigers ongesiens deur groot skares gejaagde mense wie se aandag boonop deur allerlei ander dinge afgelei word.

“Hulle pleeg winkeldiefstal en steel items uit ʼn slagoffer se sak sonder dat die persoon dit eers besef,” waarsku Bolhuis.

“Misdadigers het in die feestyd hulle eie wenslys en buit die geleentheid uit om niksvermoedende en weerlose mense te teiken.

“Misdaad is in die vakansietyd boonop hoog omdat kontantbedrae toeneem. Diewe weet die polisie is oorlaai en vakansiegangers dra dikwels groot bedrae geld.”

Van die algemeenste misdaad wat tydens vakansies aangemeld word, sluit in inbrake in voertuie om geskenke, selfone en elektroniese toerusting te buit. Huise wat leeg staan terwyl die inwoners elders uitspan is ook ʼn aanloklike teiken vir misdadigers. “Boosdoeners neem hul tyd om deur woonbuurte te drentel en te soek na huise waarvan die eienaars ooglopend nie tuis is nie,” sê Bolhuis.

Die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT stem saam dat die Desembervakansie dikwels ʼn besige tyd vir opportunistiese misdadigers is.

“Ons almal verdien ʼn ruskans saam met vriende en familie. As ons egter ʼn paar basiese veiligheidsmaatreëls onthou, kan ons ʼn groot verskil maak om dit ook ʼn veilige tyd te maak,” sê Charnel Hattingh, woordvoerder van Fidelity ADT.

Hattingh sê een van die belangrikste stappe is om te verseker jou alarmstelsel funksioneer behoorlik. Dit is ook belangrik dat ʼn veiligheidsmaatskappy jou in die hande kan kry in geval van nood.

(Argieffoto: pixabay)

“Ons stel ook voor dat mense versigtig is wanneer hulle pak vir ʼn reis en om nie enige aanduidings te gee dat jou huis dalk vir ʼn geruime tyd gaan leegstaan nie,” sê sy.

Bolhuis sê dieselfde kan van plasings op sosiale media gesê word. “Wees versigtig wat jy op sosiale media plaas. Dit lyk dalk onbenullig om te sê dat jy weggaan, maar as dié inligting in die verkeerde hande beland, kan dit nare gevolge inhou.

“Bespreek eerder die ervarings ná die tyd, wanneer jy weer veilig tuis is,” sê Bolhuis.

Hattingh sê dit is deurslaggewend dat almal in die huishouding weet wat om tydens ʼn noodgeval te doen. Dit is dus belangrik om sekere belangrike vrae af te vra.

“Dit maak nie saak of jy tuisbly dié vakansie of dalk langs die see uitspan nie. As iets met jou of een van jou geliefdes gebeur, weet jy wie jy moet kontak om hulp te ontbied?

“As jou kinders alleen is, weet hulle hoe om na hulself om te sien?

“En laastens, werk die veiligheidstelsel by jou huis behoorlik?”

Hattingh sê as jy al dié vrae kan beantwoord, is die kans reeds veel beter dat jy veilige en ontspanne vakansie gaan beleef.

Wenke om veilig te bly:

  • (Argieffoto: pixabay)

    Maak seker jou alarmstelsel werk behoorlik.

  • Snoei bosse of bome wat misdadigers kan help om maklike toegang tot jou eiendom te kry.
  • Moenie enige leidrade los dat jou huis vir ʼn lang ruk gaan leegstaan nie.
  • Vra iemand om dan en wan ligte in jou huis aan en af te skakel.
  • Maak seker jy weet wat om in ʼn noodgeval te doen.
  • Vra bure wat jy vertrou om ʼn oog oor jou eiendom te hou. Oorweeg dit om ʼn stel spaarsleutels by iemand te los in geval van nood.
  • Verseker dat jou troeteldiere veilig is.
  • Gaan jou motor na, beplan jou roete behoorlik en laat genoeg reistyd toe.
  • Hou belangrike dokumente op ʼn veilige plek.
  • Los afskrikte van belangrike dokumente by ʼn persoon wat jy vertrou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.