Jy kan nie eis as ál die ligte afgaan

Argieffoto (Foto: Myriams-Fotos/Pixabay)

Versekeraars gaan nie pa staan sou die gevreesde dag aanbreek dat die nasionale kragnetwerk geheel en al ineenstort en ál die ligte op een slag afgaan nie.

Verskeie groot versekeringsmaatskappye het reeds, onder druk van hul herversekeraars, aangedui dat hulle geen versekeringseise in die geval van ’n algehele ineenstorting van die nasionale kragnetwerk sal aanvaar nie.

Old Mutual Insure is een van dié wat aangedui het dat hy “geen ander opsie” het as om dekking hiervoor te skrap nie.

Soul Abraham, uitvoerende hoof van die afdeling kleinhandel by Old Mutual Insure, sê die moontlikheid van ’n algehele ineenstorting van die nasionale kragnetwerk word beskou as ’n sistemiese risiko. “En dit is ongelukkig net nie moontlik vir versekeringsmaatskappye om hulself teen sistemiese risiko te beskerm nie.”

Herversekeringsmaatskappye, wat dekking aan versekeraars bied indien ’n eis ’n sekere bedrag oorskry, bied óók nie beskerming teen sistemiese risiko nie.

Abraham verduidelik dit só: “Versekeraars beoordeel die waarskynlikheid dat ’n risiko sal plaasvind, tesame met die erns van ’n gebeurtenis. Hierdie beoordeling van die gebeurtenis word dan gebruik om te bepaal of ’n risiko aanvaar kan word, teen watter bepalings en voorwaardes dit aanvaar kan word en of dit eerder uitgesluit behoort te word.

“Dit is egter onmoontlik of baie moeilik om die omvang van die skade te bepaal sou die elektrisiteitsnetwerk in Suid-Afrika ineenstort.

“Indien ons nie die potensiële grootte van ons algehele blootstelling kan bepaal nie, kan ons nie ’n voldoende prys aan hierdie risiko koppel of die bedrag van herversekering bepaal wat ons moontlik sal benodig nie.”

Argieffoto (Foto: Colin Behrens/Pixabay)

Kenners het egter in September verlede jaar aan Maroela Media gesê die nasionale kragnetwerk sal “nie sommer” in die geheel in duie stort nie, ten spyte daarvan dat opwekkingseenhede die een na die ander uitskop.

Deon Reyneke, adjunkbestuurshoof van arbeidsverhoudinge by Solidariteit, het in daardie stadium gesê hoewel dit ’n moontlikheid is, het die kragstelsel meganismes wat verhoed dat so iets gebeur.

Die energiekenner Ted Blom meen ook sou dit gebeur, sal dit uit onkunde of moedswilligheid wees want onder normale omstandighede behoort Eskom dit te kan beheer.

Abraham sê herversekeraars het reeds verlede jaar aangedui dat hulle vorentoe nie dekking in die geval van ’n ineenstorting sal kan verskaf nie.

Herversekeraars het op hul beurt verlede jaar daarvoor begin druk dat dekking vir skade tydens ’n algehele ineenstorting vanaf 1 Januarie ten volle geskrap word, aangesien hulle nie in staat is om die dekking vorentoe te bied nie.

Wat beteken dit vir sakeondernemings?

Die werkgewersorganisasie Neasa sê nou dit is moontlik vir maatskappye om ’n uitbreiding van Sasria, die staatsbeheerde versekeraar teen onluste, se materiële skadevergoeding te bekom. Dit sal dan dekking vir uitgawes vir bykomende sekuriteitskoste, of die koste van sekuriteitsbeskerming in geval van dreigende gevaar, insluit.

“Werkgewers word aangeraai om hul versekeraars te kontak om hierdie uitgebreide dekking te ondersoek, aangesien bykomende sekuriteitsmaatreëls nodig kan wees om eiendom tydens ’n algehele ineenstorting van die elektrisiteitnetwerk te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Langlewe-melk en biltong blyk die oplossing te wees vir probleme met verkoeling en bevrore groente moet plek maar vir varses. Klein-koop op ‘n slag, net genoeg vir nóú, is die antwoord. Supermarkte se vleisvoorrade het baie gekrimp weens die onsekerhede. Die ou diepduik-vrieskiste se dae is vir eers getel. Hulle kan mens deesdae eerder kós.

Papsak ·

Ja nee kyk ek weet nie wat om hier te se nie regtig gemors wag vir ons

Truman Burbank ·

Sedert die LS epidemie verlede jaar getref het, is yskas leeggemaak en afgesit. Geyster twee ure per dag aan en dan af. Selfs by isolator. Leef maar op take aways. Dalk duurder as gekookte kos, maar minder verliese. En minder geld by toilet afgespoel

Elma ·

Ek wonder hoeveel gaan die prys van blikkieskos en ander nie-bederfbare produkte NOU styg. Dis reeds amper duurder as vleis en ons kettingwinkels wat so baie omgee vir die arm verbruikers, gaan nou reeds begin skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.