Jy kan nog ’n stukkie van die Voortrekkermonument besit

Die Voortrekkermonument. Foto: Facebook

Van die 60 000 granietstene waaruit die Voortrekkermonument gebou is, is daar reeds 15 000 verkoop teen ʼn R100 elk. Drie van die 27 marmerfriese wat hoogtepunte van die Groot Trek uitbeeld en teen R100 000 elk te koop is, is opgeraap.

Met die “Herbou die monument”-projek is daar daarin geslaag om meer as R1,3 miljoen vir dié erfenisbaken in Pretoria in te samel deur dele van die monument virtueel te verkoop sê Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Kruger sê dit beteken hulle kan die spreekwoordelike wolf van die deur weghou tot November, terwyl hulle aanvanklik al in Mei personeel by die monument sou moes begin aflê.

Maroela Media het vroeër berig die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting is in geldelike verknorsing weens die Covid-19-pandemie se invloed op erfenis- en toeristeaantreklikhede. Die uitwerking was selfs nog groter op die Voortrekkermonument aangesien dit hoofsaaklik van toeriste afhanklik is vir ʼn inkomste om sy personeel te betaal en geboue op dié terrein te onderhou.

Die personeel van die Voortrekkermonument het egter nie net gaan terugsit en wag dat die ergste gebeur nie. Op 24 Junie het hulle die publiek gevra om ere-eienaars van die monument te word en hul eie stukkie van dié bouwerk te koop.

Die senotaaf en die groot skildery op die senotaafvlak wat elk ter waarde van R50 000 verkoop is, is vinnig opgeraap. Die swartwildebeeste van die monument is ook vinnig teen R5 000 elk verkoop, terwyl al 320 trappies van die monument ook vinnig uitverkoop het.

“Ons is aan die begin heeltemal onkant gevang deur die geweldige belangstelling in die projek. Ons het al die transaksies met die hand probeer verwerk en administratiewe probleme ervaar om al die sertifikate vir die kopers uit te reik,” vertel Kruger.

Daar was ʼn koper wat byvoorbeeld ʼn item vir R5 000 wou koop maar dan ʼn sertifikaat in elkeen van sy kleinkinders se name wou laat uitreik. Navrae soos hierdie en opvolgwerk het gemaak dat die personeel net nie by al die voornemende kopers kon uitkom nie.

Gelukkig het Jan Pieterse vinnig die Voortrekkermonument se verknorsing opgemerk en ʼn aanlyn winkel gebou op die monument se webblad waar voornemende kopers nou self kan registreer, die aankope kan doen en sommer vir hulleself ʼn sertifikaat kan uitreik en laat druk.

Volgens Kruger is die administratiewe druk op die personeel onmiddellik verlig en is dit vir ʼn haar net nog ʼn teken van hoe die gemeenskap saamspan om die monument te help bewaar.

Deur ʼn gedeelte van die Voortrekkermonument te koop kry elke koper ʼn sertifikaat wat aandui watter gedeelte van die monument hy of sy gekoop het en so word elke koper ʼn ere-eienaar van dié stuk erfenis.

Die name van die ondersteuners word dan in die Voortrekkermonument se argief aangeteken vir die nageslag as die mense wat tydens die Covid-19-krisis ʼn verskil gemaak het deur finansieel by te dra.

Die monument bestaan uit ʼn groot aantal argitektoniese belangrike elemente en kunswerke soos die hoekfigure, die marmerfriese, granietstene, die venstertjies en die walaer om maar net ʼn paar te noem.

Pryse wissel van R20 per trappie tot R100 000 vir een van die marmerfriese.

Volgens Kruger gaan die Voortrekkermonument ʼn nuwe fase van die heropbouprojek op Erfenisdag, Donderdag 24 September, bekendstel.

“Die Erfenisstigting is tans besig om navorsing te doen oor elke element wat in elkeen van die besonderse marmerfriese verskyn. Ons argief bevat nog selfs die inligting van die modelle wat vir die figure in hierdie panele gebruik is.”

Kruger sê die idee met die navorsing is om uiteindelik ook elke item en figuur in elke paneel te koop aan te bied. Sy hoop om so minstens R6 miljoen vir die Voortrekkermonument in te samel.

Die finale bedrag wat vir die Voortrekkermonument ingesamel is, sal tydens vanjaar se Geloftedag-feesviering bekendgemaak word, en indien daar dan nog elemente van die monument te koop is, sal dit moontlik opgeveil word.

Belangstellendes wat die herbouprojek wil ondersteun, kan die Voortrekkermonument se webwerf hier besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willem Wikkelspies ·

Ag lekker om my eie deeltjie te kan bydra om ons trotse taal en kultuur te vereer! Puik idee! Ek hoop dit verkoop soos soetkoek!
Ons vir jou Suid Afrika!

Johann ·

Ja wel dis wat gebeur as jy NET op toeris besoeke staat maak? Wat van al die verskillende fasaliteite inrig vir plaaslike besoekers se gebruik? Of is dit weer n kwessie van heilige en allerheilige grond wat nie komersieël benut mag word nie? Of weet hulle bloot nie hoe om aan te pas en te vernuwe nie?

Johann ·

Nog beter. Sloop die plek en ontwikkel die grond vir Afrikaner behuisings projekte?

annie ·

Ongelukkig is dit ‘n vreemde materialistiese en eensydige besluit wat ons erfgoed goedkoop maak. Die monument behoort nie aan die bestuur nie. Dit gaan sleg uitloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.