‘Jy voel vasgevang, emosioneel’

Die brug op die Vaal de Grace-landgoed (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die eerste dag voel dit soos ’n avontuur, maar vinnig skop die realiteit in en dan voel jy mismoedig. Jy voel vasgevang en emosioneel.”

Só vertel Annelien Marais, ’n fisioterapeut van Parys in die Vrystaat, wat sedert die naweek op die Vaal de Grace-gholflandgoed vasgekeer is nadat die Vaalrivier oorstroom het.

Die brug – en enigste toegang na die landgoed – was Sondag heeltemal oorstroom en inwoners moes deur die water stap indien hulle dorp toe wou gaan. Teen Woensdagoggend kon inwoners al aan die kante van die brug loop, soos die water stadigaan begin sak het.

Die water het by vier huise in die landgoed ingestroom en waterskade veroorsaak.

Jacques Coetzee, bestuurder van Vaal de Grace, het aan Maroela Media gesê die inwoners is Saterdag vroegaand gewaarsku oor die rivier wat styg nadat 12 sluise by die Vaaldam oopgemaak is.

Die brug wat Sondag heel onder water (Foto: Verskaf)

“Ons het hulle die keuse gegee om óf te ontruim óf in hul huise te bly,” vertel Coetzee. “Die wat gebly het, het die beste van ’n slegte saak gemaak deur gholf te speel.”

’n Paar van die inwoners het hul motors aan die anderkant van die brug geparkeer en toe – met die water wat begin sak het – oor die brug na hul motors gestap.

Die landgoed se onderhoudsgebou en substasie was ook onder water, wat die landgoed sonder krag en ook veselinternet gelaat het.

Nou moet inwoners boonop sonder krag ook tuis sit en wag totdat die water uiteindelik heeltemal afloop.

Weens die vloedwaters kan Marais as fisioterapeut glad nie gaan werk nie en ly sy ’n groot verlies aan inkomste. Haar man kan van die huis af werk, maar sukkel sonder internettoegang.

“Ons seun wat in gr. 10 is, het ook al verskeie dae skool gemis. Nie net nou van die vloede nie, maar ook vroeër die jaar weens die betogings in die dorp.

“Daar was geen manier om kos te kon kry nie, ons moes maar eet wat jy het, die krag wat af is, maak kosmaak egter moeiliker. Met die vrieskaste wat af is, bederf die kos ook vinnig,” vertel Marais.

Dié gholflandgoed sowel as die Parys Golf & Country Estate is albei tans vir die publiek gesluit weens die vloedwaters. Die Parys Golf & Country Estate se hele gholfbaan het oorstroom terwyl vier putjies en twee setperke van die Vaal de Grace-gholflandgoed onder water was.

Die kragstasie van die landgoed is onder water (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens Coetzee moet die skade aan die brug en substasie van Vaal de Grace nog vasgestel word. Hulle het reeds begin om die gholfbaan skoon te maak.

“Finansieel is daar nie erge skade aan die gholfbaan nie, maar ons verloor inkomste deurdat die baan gesluit is en niemand kom speel nie,” sê Coetzee.

Mike Fourie van die Parys Golf & Country Estate sê hulle wag dat die water nog sak voordat hulle ook die skade kan bepaal.

“Ek dink die hersteltydperk vir die baan is sekerlik tussen vier en ses weke; dit sal ’n verlies aan inkomste beteken en ons werkers sal dan gevolglik ook daaronder ly,” sê Fourie.

Fourie sê die nodige inligting oor die vloed is vooraf aan hulle deurgegee en die landgoed was so voorbereid soos wat hulle kon wees. “As raad, het ons als gedoen wat ons kon, binne ons vermoë om ons mense op hoogte te hou.”

‘Waar is munisipaliteit?’

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens die inwoners het almal mekaar in die moeilike paar dae ondersteun en gehelp waar hulle kon. Die inwoners sê die munisipaliteit was nie veel van hulp nie en hulle was aan hul eie genade oorgelaat tydens ontruimings.

Carina Serfontein, DA-raadslid van die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, sê geen lewensverliese of lewensgevaarlike situasies is weens die vloede aangemeld nie.

(Foto: Verskaf)

Daar het ʼn paar diere in die slag gebly, met die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) wat ingespring het om te help om diere te red. Animal Emergency Assistance in Johannesburg het gehelp om vee uit die modder te trek en sowat 15 diere is gered.

Serfontein sê die vloede het wel ʼn finansiële en emosionele impak op diegene wat direk daardeur geraak word.

“Ek dink die onbekendheid oor wat volgende kan gebeur, eis die grootste emosionele tol op die inwoners,” sê Serfontein.

Serfontein verduidelik die vloede het verder ʼn impak op die dorp se infrastruktuur – wat wel voor die munisipaliteit se deur gelê kan word.

Dele in die dorp was teen Dinsdag nog sonder krag of water weens substasies en wateraanlegte wat onder water is.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die wanfunksionering van die wateraanleg is nie ʼn nuwe probleem nie en dit word nou net vererger met die reën.”

Sy sê die kans dat kragpale omval en kabels breek weens die vloede vergroot wanneer daar nie die nodige instandhouding gedoen word nie.

Die sekondêre paaie vaar sleg met die swaar reëns en sodoende is daar ook meer slaggate te sien in die dorp.

“Als kalwe ondergronds in weens die baie reëns en veroorsaak dat paaie wegval. Die verkeer op hierdie paaie veroorsaak dan dat paaie ingee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Carina Serfontein is net soos die ANC ver verwyderd van die realiteit. Die oopmaak van die sluise is uiters swak beplan. Hou op nonsens praat. Al die skade kon verhoed gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.