Die Jacob Zuma-stigting het teenoor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uitgevaar nadat oudpres. Jacob Zuma se verhoor vandeesweek vir die soveelste keer uitgestel is.
Zuma was veronderstel om Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg op aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery in verband met die wapenskandaal te verskyn. Volgens die stigting is die saak egter weer uitgestel aangesien die NVG nie gereed is om met die verhoor voort te gaan nie.
Die stigting beskuldig nou die NVG daarvan dat hy vertragingstaktiek aanwend – presies dít waarvan die NVG en die media die oudpresident vantevore beskuldig het, wys die stigting in ’n verklaring daarop.
Luidens dié verklaring is die media se swye oor die NVG se ongereedheid oorverdowend.
“Die stigting is teleurgesteld in die manier waarop die NVG sy sin in ons howe kry en ons howe magteloos teenoor die NVG voorkom. Dít is omdat daar blykbaar ’n ander regspraak is wat deur ons howe toegepas word as dit by oudpres. Zuma kom.”
Volgens die stigting sou die saak in gewone omstandighede van die hofrol geskrap word totdat die NVG en Thales gereed is om met die verhoor voort te gaan.
“Dit blyk egter dat só ’n beroep ’n vermorsing van tyd sal wees aangesien ons howe nooit op ’n manier sal beslis wat beskou kan word as ‘sag wees op Zuma’ nie.
“Die stigting doen ’n beroep op die NVG en ons howe om oudpres. Zuma soos enige burger en litigant te behandel.
“Gegewe die weersin teenoor oudpres. Zuma in ons strafregstelsel, is dit te verstane dat hy huiwerig lyk om ons howe te nader vir geregtigheid.”
Die stigting doen egter verder ’n beroep op die NVG om onmiddellik met die verhoor voort te gaan aangesien Zuma ‘meer as gereed’ is vir die verhoor.
Maroela Media het vroeër berig die korrupsieaanklagte teen Zuma, wat saam met die Franse wapenvervaardiger Thales op aanklagte van korrupsie teregstaan, is al langer as ’n dekade oud. Zuma word daarvan beskuldig dat hy tydens Suid-Afrika se omstrede wapenaankooptransaksie omkoopgeld van die maatskappy ontvang het. Sy eerste verskyning in verband met die aanklag was reeds in 2005.
Lankal vra hy om ‘sy dag in ‘n hof’. Tyd dat hy dit gegun word.
Zuma must fall please
Sluit zuma toe vir res van sy lewe asb!!!!!
Jacob Zuma-stigting?? En waarmee hou die organisasie homself nogal besig?
O nee red ‘n nasie! Sluit hom toe en gooi die sleutel weg genade man! Nou het hy so baie regte… Is hy bo die wet?
Hy weet meer as wat sommige individue bereid is om hom te laat vertel… Dis hoekom hy nooit in die hof sal voorkom nie…
Watter shampoe gebruik hy? Dit lyk glad nie dof of beskadig nie.
Wie gee om wat daai kieme voel en sê . Maak ons wakker as daar nog nuus is
Hy was klaar President nou moet hy 27 jaar tronk toe.
#Tronk toe Zumpies