K-woord-man ook skuldig aan huishulp se aanranding

Argieffoto

Argieffoto

Andre van Deventer (36), ʼn verkoopsman van Kaapstad wat vroeër in die gelykheidshof skuldig bevind is dat hy ʼn huishulp die k-woord genoem het, is Vrydag skuldig bevind aan haar aanranding.

Landdros Alta le Roux het hom in die Kaapstad-landdroshof skuldig bevind op aanklag dat hy sy voormalige vriendin se huishulp verlede jaar aangerand en in haar gesig gespoeg het. Sy het gesê Van Deventer se weergawe van die gebeure is hoogs onwaarskynlik en die staat het die aanklag van aanranding bo redelike twyfel bewys. Sy het gesê dit is duidelik Van Deventer het ʼn kort humeur en druk homself fisies uit.

Van Deventer sal na verwagting op 12 Desember gevonnis word.

Die gelykheidshof in Kaapstad het hom op 24 Oktober in ʼn afsonderlike verhoor oor dieselfde voorval, beveel om skadevergoeding van R50 000 aan die huishulp, Gloria Kente te betaal. Klik hier om meer te lees.

Hy het ná die uitspraak buite die hof gesê hy is jammer dat hy Kente die k-woord toegesnou het, en hy oorweeg dit glo om ʼn woedebeheer-kursus by te woon. “Dit het alles in ʼn fraksie van ʼn sekonde gebeur,” het Van Deventer aan joernaliste gesê. “Dit was ʼn twee of drie minuut lange argument, en daar is nou niks meer wat ek daaraan kan doen nie.”

Hy het aan die joernaliste gesê hy is nie ʼn rassis nie. Hy het vyf jaar lank saam met Kente in die huis gewoon. “Ek het twee bruin kinders. Ek was in ʼn agt jaar lange verhouding met ʼn bruin vrou. Ek is nie ʼn rassis nie, dit is die laaste ding wat ek is.”

Van Deventer het bygevoeg hy gaan sy lewe omkeer en hy voel van balans af. Hy wil glo ʼn dokter raadpleeg om hom met sy woede te help, maar hy het nie geld daarvoor nie.

Kente het vroeër getuig hoe Van Deventer in Junie verlede jaar haar aangerand en gevloek het by haar werkgewer, Van Deventer se voormalige vriendin, se huis in Tafelsig. Sy het aan die hof gesê hy het haar aan haar kamerjas gegryp, verbaal aangerand en in haar gesig gespoeg.

Van Deventer het skuld erken op die crimen injuria aanklag, maar het ontken dat hy haar aangerand het. Hy het verlede maand in die getuiebank erken dat om dit onnodig was om haar die k-woord te noem, maar dat hy woedend was. Hy het toe aangevoer dat hy onsteld was dat Kente hom onderbreek het toe hy bier gedrink het en besig was om ʼn elektroniese toestel aan die televisie te koppel.

Volgens Van Deventer het hy die rassistiese uitlating gemaak om na Kente te verwys tydens ʼn argument met sy voormalige vriendin. Sy bedoeling was nie dat Kente hom moes hoor nie, al het hy dit in die slaapkamer geskree.

Kente het hom gehoor, hulle het in die gang gestry en hy het haar in haar aangesig beledig.

Lees alle vorige berigte oor Andre van Deventer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.