‘Kaalkop’-poppe bring vertroosting vir kankerlyertjies

Kyra en haar Desi-pop (Foto: Mandi Venter, Facebook)

“Hierdie pop bring ʼn bietjie sonskyn in die donker kankerstryd.”

Mandi Venter (34) se dogtertjie veg al vir byna twee en ʼn half jaar teen kanker en sy wil nou ook vir ander dogtertjies vertroosting bring deur middel van dié “kankerpoppe”.

Fase 4- neuroplastoma is op vyf maande by Kyra, wat amper drie word, gediagnoseer. Sy het ’n gewas tussen haar regterbynier en lewer gehad en moes sedertdien talle behandelings kry. Sy het ook onlangs ’n stamseloorplanting gekry. Sy is nou in remissie en volgens Venter is dit die mooiste woorde wat jy as ouer met ’n kankerkind wil hoor.

Venter vertel sy het ’n ruk gelede gehoor van behandeling in die VSA wat nog tegnies in ’n kliniese proefstadium is wat die kanse dat die kanker kan terugkom nadat die persoon in remissie gegaan het, verlaag. Met fase 4- neuroplastoma, kan hierdie behandeling die kans dat die kanker terugkeer glo van 46% na 15% verlaag.

Terwyl sy reëlings begin tref het om Kyra in die VSA te kry vir die behandeling, het sy van die Desi Strong-organisasie te hore gekom wat gratis poppe gee vir dogtertjies wat teen kanker stry.

Die Desi Strong-organisasie is deur ’n ouerpaar begin nadat hulle in 2016 hul dogtertjie, Desirae, na ’n lang, harde kankerstryd verloor het. Die organisasie is begin ter nagedagtenis aan Desirae en die Desi Strong Doll-inisiatief is toe in die lewe geroep.

Die Desi-pop (Foto: Mandi Venter, Facebook)

“Deur ons eie ervaring het ons gesien hoe ons dogtertjie emosioneel daaruit gebaat het om ’n Desi-pop as ‘maatjie’ te hê. Terwyl Desirae haar kankerstryd geveg het, het sy haar poppe behandel asof hulle haar kankerpasiënte is. Sy het vir hulle omgegee so asof sy hulle dokter is. Die Desi-pop is ’n spieëlbeeld van alles wat Desirae was en steeds is,” skryf die ouerpaar op hul Desi Strong-organisasie se webblad.

Venter het die organisasie gekontak om ’n Desi-pop vir Kyra te kry. Volgens die organisasie sou dit te duur wees om die pop per koerier na Suid-Afrika te stuur so sy het toe met die organisasie gereël om die pop na die Levine-kinderhospitaal in Charlotte, Noord-Carolina, te stuur waar Kyra haar eerste behandeling sou ontvang.

Kyra het in November haar Desi-pop gekry.

Die pop het nie hare nie en het ’n verwyderbare Hickman-lyn, die pypie waardeur pasiënte chemo en antibiotika kry en waardeur bloed getrek word.

“Die pop weerspieël die werklike kankerlyertjie, met die kaalkop en Hickman-lyn. Kyra sorg vir haar poppie en voel hierdeur dat sy nie alleen die stryd veg nie, maar ’n maatjie het wat 24 uur ’n dag by haar is en deur dieselfde swaarkry as sy gaan,” vertel Venter.

Toe sy sien hoe groot verskil die pop in haar dogtertjie se lewe gemaak het, het sy gedink alle dogtertjies wat teen kanker veg, moet een hê.

“Ek het die plan gekry om soveel moontlik van die poppe in Suid-Afrika te kry en vir mammas te stuur wat ook graag so pop vir hul dogtertjies wil hê. Ek het bereken dat as ons nog vier keer Amerika toe moet gaan vir behandelings, kan ek elke slag sowat ses poppe in my tas probeer saambring. Indien ek meer op ’n slag kan saambring, sal ek. Ek sal minder klere inpak sodat daar meer plek vir die poppe is.”

Die pop is kaalkop (Foto: Mandi Venter, Facebook)

Kyra gaan op 31 Januarie weer VSA toe vir haar volgende behandeling. Sy moet daarna vir nog drie behandelings gaan.

Volgens Venter het sy reeds ma’s, wat die eerste ses poppe wat sy einde Januarie gaan saambring, gaan vat.

“Mammas reg oor die land het my gekontak. My hart is seer om te sien hoeveel kankerlyertjies daar is.”

Vir Venter is dit ’n groot voorreg om ander ma’s, wat deur dieselfde pyn as sy gaan, te kan help.

“Die Here het ons geseën om ons klein Kyra te genees, so nou is dit my geleentheid om in ander se lewens ’n verskil te maak. Ek ken nie een van die mammas wat my gekontak het nie, maar ek voel hul pyn. Ek sien die seer en bekommernis wat eens op ’n tyd in my oë was. Tog voel ek ook hulpeloos om nie meer vir hulle te kan doen nie, maar vertrou die Here sal hulle sterk hou.”

Venter beoog om ook iets te soek vir kankerseuntjies wat vir hulle vertroosting sal bring soos die poppe vir die dogtertjies doen.

Die pad tot hier was baie moeilik.

“Die ergste is as jy jou kind vir chemoterapie moet vat terwyl die ander ma’s hul kinders dagsorg toe neem.”

Die pop se Hickman-lyn (Foto: Mandi Venter, Facebook)

Maar Venter sê na al die swaarkry het daar nou iets moois uitgespruit.

“In hierdie amper drie jaar het Kyra ander kindertjies en mense se harte aangeraak. Nou na alles kan ek ander wat dieselfde stryd as wat ek gestry het, help. Ek verstaan nou eers na die tyd die doel van alles.”

Sy sê Kyra was deur dit alles ongelooflik sterk en positief.

“Ek kan nou na drie jaar vir die eerste keer stilsit en dink waardeur my kind gegaan het en hoeveel haar klein lyfie moes verduur het. En dan besef ek hoe goed sy dit hanteer het. Party dae het dit nie eers gelyk asof sy chemo kry nie, want sy het die wêreld vol gehardloop met haar drup.

“Daar was baie moeilike dae, soos toe haar dik bos krulhare stuk vir stuk begin uitval het, en sy met hulpelose oë na my gestaar het omdat sy weet wat besig is om te gebeur. Vir my is dit swaar om te dink sy het so baie van normale kindwees gemis. Hospitaal, naalde en chemoterapie was haar normaal, en tog was sy gelukkig met haar normaal, want dis al wat sy geken het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

johanf ·

Sterkte vir Kyra, en al die ander klein vegtertjies en hul families, mag God oor julle waak.
Dit vat aan jou hart…..

Alana ·

Hoekom kan seuntjies nie ook n seuntjie pop kry nie? As seuns met action figures, wat eintlik ook maar poppe is, kan speel, kan hulle mos ook met so n pop speel?!

SomeOne ·

@johanf
soos jy se, dit vat aan jou hart, vir iemand wat nog nie chemo vir amper 3jaar met 3-4weke tussen poses gehad het nie, sal alles nie verstaan nie, dit vat aan jou
sterkte aan almal wat chemo ondergaan

Martie ·

My dogter van 15 jaar het haar mooi koper rooi haartjies als afgesny die naweek vir kankerlyers, ek is so trots op haar. Sterkte aan die familie. My dogter se woorde is “mamma dit is net hare” hare groei weer, maar ‘n lewe kry jy net een keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.