Kaap allerbeste plek vir feeste, geleenthede

Kaapstad is die beste plek in die wêreld vir feeste en geleenthede. Foto: Facebook

Kaapstad is tydens die Wêreldreispryse 2018 as die beste plek ter wêreld vir feeste en geleenthede aangewys.

Die prys wat die Moederstad in Oktober as Afrika se voorste bestemming vir feeste en geleenthede gewen het, is gister by die Pátio da Galé in Lissabon, Portugal, deur die topprys in die wêreld opgevolg.

“Ons wil hê die wêreld moet weet Kaapstad is die bestemming om in te belê, die plek om te werk, vir vermaak en die beste stad om in te woon,” het Dan Plato, Kaapstad se burgemeester, gesê nadat die stad die prys ontvang het.

“Ons wil hê Kaapstad moet hom posisioneer as ʼn plek waar die wêreld toegang tot Afrika kan kry en van waar Afrika die wêreld kan betree. Deur steeds geleenthede van wêreldgehalte aan te bied sal hierdie doelwit ʼn werklikheid word.”

Plato sê dit beteken ook dat die stadsvaders voortdurend op die uitkyk is na groot geleenthede om aan te bied waardeur die plaaslike ekonomie gestimuleer kan word. “Amptenare het pas teruggekeer van Singapoer waar hulle Kaapstad se bod aangebied het om die Netbalwêreldbekertoernooi in 2023 aan te bied.”

Die Moederstad se jongste eerbewys getuig daarvan dat dit ʼn stad van wêreldgehalte is wat die leiding neem in die reël en aanbieding van geleenthede, sê JP Smith, burgmeesterskomiteelid vir veiligheid en maatskaplike dienste. “Die geleenthede wat ons aanbied is uiters belangrik vir werkskepping en om die ekonomie te ontwikkel om ons plaaslike gemeenskappe te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nick ·

Nie vir lank nie. Die ANC gaan die Kaap vat en glo my dit gaan soos die res verval. Alles te danke aan D.A, MINI ANC se leier!!!!!!

Kappstad is hemels ·

Stem saam – Kaapstad is tops in vele opsigte. Die res van Suid-Afrika, behalwe miskien Johannesburg, is 50 jaar agter in hul konserwatiewe gewade en spinnerakke verstrengel en die res van Afrika 500 jaar.

Didri ·

Nee wat, hier in Europa wil bitter min mense geld in Suid-Afrika belê. Die pragtige land gaan te hard agteruit. Vertroue in beloftes oor n beter toestand/toekoms is helaas verlede tyd.

Andrew ·

Kyk, die Kaap is mooi, maar realisties kan SA nou maar net nie kompeteer met die ander grootste stede om die wereld nie – nie eers te praat van die unieke politiese issues wat tans hier aangaan nie.

Sorry ouens, ons kan nie groot speel nie, so moet maar groot praat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.