Kaap begroot R2 miljard vir huise

Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, sê sy sal tot die einde van haar termyn veg om ongelykhede uit te wis. Foto: ANA

Die Stad Kaapstad wil in die volgende drie jaar meer as R2 miljard aan behuising bestee.

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, sê ʼn kwart van dié bedrag is begroot vir die 2018/’19-boekjaar vir 36 behuisingsontwikkelings wat die stadsraad beplan, reeds bou of op die oomblik afhandel.

In die suide beplan die munisipaliteit ontwikkelings in onder meer Grassy Park, Strandfontein, Vrygrond, Retreat, Ottery en Philippi, het De Lille in ʼn mediaverklaring gesê.

In die noorde is geld begroot vir behuisingsprojekte in Atlantis, Fisantekraal, Scottsdene, Durbanville, Soutrivier en Langa.

Onder haar leierskap, wat ingevolge ʼn spesiale ooreenkoms ná ʼn bittere stryd met die DA op 31 Oktober eindig, het die Stad Kaapstad hom daartoe verbind om die ongeregtighede van die apartheidsbewind reg te stel, wat insluit dat die munisipaliteit toesien dat “inwoners wat voorheen eienaarskap van eiendom ontsê is, daardie reg kan opeis”, sê sy.

De Lille sê die stadsraad het die oorhandiging van titelaktes bespoedig en begunstigdes sedert 2011 meer as 16 000 daarvan gegee.

“Ons het [ook] goeie vordering gemaak om nog inwoners aan die elektrisiteitsnetwerk te verbind,” sê sy. “Net in die suide het ons verseker dat 10 166 vir die eerste keer krag het.”

Die Stad Kaapstad sal die R2 miljard binne drie jaar aan ’n groot verskeidenheid behuisingsprojekte bestee. Argieffoto: Morné van Rooyen

In die noorde is 3 039 gesinne vir die eerste keer met die kragnetwerk verbind. “Om nog gesinne dwarsdeur die stad toegang tot elektrisiteit te bied, het ons R113 miljoen hiervoor in die huidige boekjaar begroot.”

De Lille sê van die projekte waarna Kapenaars in die huidige boekjaar kan uitsien, is onder meer R720 miljoen wat begroot is vir die Tafelberggroep-waterdraer, R75 miljoen vir die opknapping van die Kaapse Vlakte-waterbehandelingsaanleg en R33 miljoen vir die ontwikkeling van die informele nedersetting in Sweet Homes, Philippi.

“Baie moet nog gedoen word om groter gelykheid in dienste te bewerkstellig,” het De Lille gesê. “Dis hoekom ons ʼn gebiedsgebaseerde diensleweringsmodel ingevoer het om seker te maak dat al tien die stad se munisipale afdelings oral in die stad ontplooi word.

“Ek sal tot my laaste dag in die amp werk om ʼn inklusiewer Kaapstad te bou wat geleenthede aan alle inwoners bied, wat die wanbalanse van die verlede wil uitwis en alle Kapenaars toegang tot gelyke geleenthede bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

hendrik ·

Ek het baie hard gewerk om vir my n huis te bekom maar nog harder om vir n paar ander ook huise te bekom. Kommunisme op sy beste.

Paul ·

Sy is net soos Zuma. Jaag nog aan tot die laaste dag en opvolger moet daarna sukkel om gemors reg te kry.

marous ·

Hoeveel gaan hulle spandeer aan opgaardamme, riool aanlegte en wind kragopwekkers voor daar ‘n baksteen gele word ?

WESKUS ·

En hulle vergeet nog steeds van die ARMES op die weskus dorpies.

vissie ·

Ek hoop die wittes waarna verwys word wat die groooot koek betaal sal ook darem deel wees van die gelyke regte. Of is dit nou taboe?

Skud Net Kop ·

Dankie tog hierdie vrou beweeg weg.
Haar vervaldatum is al jare terug verby en steeds besef sy dit nie. Ai ai ai.

Jax ·

n Mens “bekom “ goeters deur deksels hard daarvoor te werk! Hierdie ge-gee-gee storie help niemand! Behalwe die politikus wat stemme wil hê vir die verkiesing sodat hulle nog dom planne uit kan suig!
Skole word opgerig en infrastruktuur inplek – raai wat – dit word keer op keer afgebrand. Niemand gee om nie. Daar sal mos nog gebou word. n Mens WERK vir dit wat jy wil hê. En soms kan jy dit wat jy wil hê nie kry nie – dis lesse van die lewe wat baie mense nog moet leer!
Ek is 100% teen hierdie gee-storie wat mense regtig, op lang duur, niks sal help nie! Ek pas die bietjie wat ek het goed op want ek het deksels hard daarvoor gewerk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.